2 KONINGS 15

15
Asarja regeer in Juda
1In die 27ste jaar van koning Jerobeam II van Israel het Asarja#15:1 Hier en op verskeie ander plekke word hy Ussia genoem. seun van Amasia koning van Juda geword. 2Hy was toe sestien jaar oud en het 52 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Jekolja van Jerusalem. 3Hy het gedoen wat vir die Here reg was, presies soos sy pa Amasia gedoen het. 4Die hoogtes waar die volk vir die afgode geoffer het en wierook gebrand het, het hy egter nie vernietig nie. 5Die Here het die koning met melaatsheid#15:5 Of ’n velaandoening. getref en hy het tot sy dood toe in ’n plek van afsondering gewoon. Sy seun Jotam het die paleis beheer en oor die hele land as regent opgetree.
6Die ander gebeurtenisse tydens Asarja se regering en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda.
7Toe Asarja sterf, is hy in die familiegraf in die Dawidstad begrawe. Sy seun Jotam het hom opgevolg.
Sagaria heers in Israel
8In die 38ste jaar van koning Asarja se bewind in Juda, het Sagaria seun van Jerobeam II koning geword oor Israel. Hy het ses maande in Samaria regeer. 9Maar Sagaria het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos sy voorvaders. Hy het nie die sondes van afgodery waarmee Jerobeam seun van Nebat vir Israel mislei het, laat vaar nie.
10Sallum seun van Jabes het teen Sagaria saamgesweer, hom voor almal vermoor en in sy plek koning geword.
11Die ander gebeurtenisse tydens Sagaria se regering is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel. 12Op hierdie manier het die Here se boodskap aan Jehu waar geword, naamlik: “Jou nageslag sal tot die vierde geslag op die troon van Israel sit.”
Sallum regeer oor Israel
13Sallum seun van Jabes het koning oor Israel geword in die 39ste jaar van koning Asarja se bewind in Juda. Sallum het net een maand in Samaria geheers. 14Toe het Menahem seun van Gadi uit Tirsa na Samaria toe gegaan. Hy het Sallum seun van Jabes aangeval, hom doodgemaak en hom as koning opgevolg.
15Die ander gebeurtenisse tydens Sallum se bewind en die sameswering wat hy gesmee het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.
Menahem regeer oor Israel
16Menahem het die dorp Tifsag aangeval en almal tot so ver as Tirsa doodgemaak omdat die inwoners geweier het om hulle poorte vir hom oop te maak. Hy het al die inwoners doodgemaak en selfs swanger vroue oopgesny.
17In die 39ste jaar van koning Asarja se bewind in Juda het Menahem seun van Gadi begin om oor Israel te regeer. Hy het tien jaar in Samaria regeer. 18Maar Menahem het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Gedurende sy hele bewind het hy nie die sondes van afgodery waarmee Jerobeam seun van Nebat vir Israel mislei het, laat vaar nie. 19Koning Tiglat-Pileser#15:19, 29 Grondteks Pul, ’n ander naam vir Tiglat-Pileser. van Assirië het die land binnegeval. Menahem het hom toe 34 ton silwer betaal om sy steun te kry sodat hy ’n beter houvas op die koningskap kon uitoefen. 20Menahem het die geld by die rykes in Israel bekom deur te eis dat elkeen van hulle 570 gram silwer as bykomende belasting moes betaal. Die koning van Assirië het toe sy manskappe onttrek en die land verlaat. 21Die ander gebeurtenisse tydens Menahem se bewind en wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel. 22Toe hy sterf, het sy seun Pekahia hom opgevolg.
Pekahia regeer oor Israel
23In die 50ste jaar van koning Asarja se regering in Juda, het Pekahia seun van Menahem koning geword oor Israel. Hy het twee jaar in Samaria regeer. 24Maar Pekahia het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het nie gebreek met die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.
25Sy bevelhebber, Peka seun van Remalja, het teen hom saamgesweer. Hy het met 50 manskappe van Gilead af gekom en Pekahia saam met Argob en Arje in die toring van die paleis in Samaria aangeval. Hy het hom doodgemaak en in sy plek koning geword. 26Die ander gebeurtenisse tydens Pekahia se bewind en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.
Peka regeer oor Israel
27Peka seun van Remalja het koning geword oor Israel in die 52ste jaar van Asarja se bewind in Juda. Hy was twintig jaar lank koning in Samaria. 28Maar hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het nie gebreek met die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.
29Gedurende sy bewind het koning Tiglat-Pileser#15:19, 29 Grondteks Pul, ’n ander naam vir Tiglat-Pileser. van Assirië die dorpe Ijon, Abel-Bet-Maäka, Janoag, Kedes en Hasor verower. Hy het ook die streke van Gilead, Galilea en Naftali verower en die inwoners as gevangenes na Assirië toe weggevoer. 30Hosea seun van Ela het toe teen Peka seun van Remalja saamgesweer. Hy het hom aangeval, hom doodgemaak en koning van Israel geword in die twintigste jaar van Jotam seun van Asarja. 31Die ander gebeurtenisse tydens Peka se bewind en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.
Jotam regeer in Juda
32Jotam seun van Asarja het koning geword oor Juda in die tweede jaar van koning Peka se bewind oor Israel. 33Hy was 25 jaar oud toe hy koning geword het en het sestien jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Jerusa, dogter van Sadok.
34Jotam het gedoen wat reg was vir die Here, net soos sy pa Asarja gedoen het. 35Hy het egter nie die hoogtes waar die volk vir die afgode offers gebring en wierook gebrand het, vernietig nie. Hy het die boonste poort van die tempel van die Here herbou.
36Die ander gebeurtenisse tydens Jotam se bewind en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda. 37Gedurende sy bewind het die Here begin om koning Resin van Aram en koning Peka van Israel te stuur om Juda aan te val. 38Toe Jotam sterf, is hy in die familiegraf in die Dawidstad begrawe. Sy seun Agas het hom opgevolg.

Tans Gekies:

2 KONINGS 15: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid