2 KRONIEKE 26

26
Ussia regeer in Juda
1Die hele volk van Juda het vir Ussia#26:1 In 2 Kon 14:21 word hy Asarja genoem., die sestienjarige seun van Amasia, as hulle nuwe koning gekroon. 2Na sy pa se dood het Ussia die dorp Elat herbou en weer onder die beheer van Juda gebring. 3Ussia was sestien toe hy koning geword het, en hy het 52 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Jekolja van Jerusalem. 4Hy het gedoen wat reg was vir die Here, net soos sy pa Amasia gedoen het. 5Gedurende die tyd toe Sagaria hom onderrig het in die eerbied vir God, het Ussia God se wil gesoek. So lank as wat hy die Here se wil nagestreef het, het God hom sukses gegee.
6Hy het oorlog teen die Filistyne verklaar en die mure van Gat, Jabne en Asdod afgebreek. Daarna het hy nuwe dorpe in die omgewing van Asdod en in ander dele van die Filistynse gebied gebou. 7God het hom gehelp in die oorlog teen die Filistyne en ook in sy oorloë teen die Arabiere van Gur-Baäl en die Meüniete. 8Die Ammoniete het aan Ussia belasting betaal. Sy roem het selfs tot by Egipte versprei, want hy het baie magtig geword.
9Ussia het versterkte torings in Jerusalem by die Hoekpoort, die Dalpoort en die draai in die muur opgerig. 10Hy het ook torings in die woestyn opgerig en baie putte gegrawe, want hy het baie vee in die Laeveld van Juda en die vlaktes gehad. Hy was ook lief vir die grond. Daarom het hy baie mense gehad wat sy plase en wingerde op die plato en in die vrugbare valleie versorg het.
11Ussia het ’n leër gehad van ervare krygsmanne wat in afdelings uitgetrek het. Hulle getalle is bepaal deur Jeïel, die sekretaris van die leër en sy assistent Maäseja. Hulle was onder die leiding van Gananja, een van die koning se offisiere. 12Daar was 2 600 familiehoofde in bevel van die soldate. 13Die leër onder hulle bevel het bestaan uit 307 500 manskappe, almal opgelei vir oorlog. Dit was ’n kragtige mag waarop die koning teen enige vyand kon staatmaak. 14Ussia het die hele leër voorsien van skilde, spiese, helms, harnasse, pyle en boë en slingervelle. 15Hy het in Jerusalem bedrewe manne gehad wat uitvindsels gemaak het waarmee pyle en groot klippe bo van die torings en die hoeke van die muur af geskiet kon word. Sy roem het ver en wyd versprei, want hy het wonderlike hulp ontvang en het só baie magtig geword.
Ussia se sonde en straf
16Maar toe hy magtig geword het, het hy ook hoogmoedig geword. Dit het tot sy ondergang gelei. Hy het teen die Here sy God gesondig deur in die tempel van die Here te gaan en self wierook op die altaar te brand. 17Asarja die priester het saam met 80 dapper priesters van die Here agter hom aangegaan. 18Hulle het koning Ussia gekonfronteer en gesê: “Dit is nie toelaatbaar vir u, Ussia, om wierook vir die Here te brand nie. Dit is die werk van die priesters, seuns van Aäron, wat alleen daarvoor afgesonder is. Gaan uit die heiligdom, want u het gesondig. Die Here sal u nie daarvoor eer nie.”
19Ussia was woedend en het geweier om die wierookpan neer te sit. Terwyl hy kwaad vir die priesters daar voor die wierookaltaar gestaan het in die tempel van die Here, het melaatsheid skielik op sy voorkop uitgebreek. 20Toe die hoëpriester Asarja en die ander priesters die melaatsheid op sy voorkop sien, het hulle hom so gou moontlik uit die tempel verwyder. Die koning was self haastig om daar uit te kom, want die Here het hom getref. 21Koning Ussia het aan melaatsheid gely tot die dag van sy dood. Hy het in ’n huis in afsondering gewoon, wég van die tempel van die Here. Sy seun Jotam is in beheer van die paleis gestel, en hy het oor die volk van die land regeer.
22Die ander gebeurtenisse tydens Ussia se regering, van die begin tot die einde, is opgeteken deur die profeet Jesaja, seun van Amos. 23Ussia het gesterf. Hy is begrawe in ’n begraafplaas van die konings, maar nie in die familiegraf nie, omdat hy melaats was. Sy seun Jotam het in sy plek koning geword.

Tans Gekies:

2 KRONIEKE 26: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid