2 KRONIEKE 15

15
Asa se godsdienstige hervorming
1Toe het die Gees van God op Asarja seun van Oded gekom. 2Hy het koning Asa tegemoetgegaan. “Luister na my, Asa!” het hy geroep. “Luister, al die manne van Juda en Benjamin! Die Here sal by julle bly so lank as wat julle by Hom bly; wanneer julle na Hom vra, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat. 3Vir ’n lang tyd was Israel sonder die ware God, sonder ’n priester om hulle te onderrig, en sonder die gebooie van God. 4Wanneer hulle in nood was en hulle teruggedraai het na die Here die God van Israel en Hom gesoek het, het Hy Hom deur hulle laat vind. 5In daardie tye was dit nie veilig om te reis nie, want oral was daar groot onrus vir die inwoners van die land. 6Volk het teen volk geveg, en stad teen stad, want God het onrus en nood oor hulle gebring. 7En nou, manne van Juda, wees sterk en moenie moedeloos word nie, want julle werk sal beloon word.”
8Toe Asa hierdie boodskap hoor van die profeet, die seun van Oded, het hy moed geskep en al die afgodsbeelde in die land van Juda en Benjamin en in die dorpe wat hy in die Efraimsberge verower het, verwyder. Hy het die altaar van die Here wat by die ingang tot die tempel van die Here was, herstel.
9Daarna het Asa die hele Juda en Benjamin bymekaargeroep, asook die inwoners van Efraim, Manasse en Simeon wat onder hulle kom woon het. Baie van hulle het gedurende Asa se regering na Juda toe verhuis omdat hulle gesien het dat die Here sy God met hom was. 10Hulle het almal in die derde maand van die vyftiende regeringsjaar van Asa by Jerusalem bymekaargekom. 11Op daardie dag het hulle sommige van die diere wat in die oorlog gebuit was aan die Here geoffer. Dit was 700 beeste en 7 000 kleinvee. 12Toe het hulle met hart en siel ’n verbond met die Here die God van hulle voorouers gesluit. 13Hulle het besluit dat enigiemand wat weier om die Here die God van Israel te dien, doodgemaak moet word, sou dit jonk of oud, man of vrou wees. 14Hulle het die eed van trou aan die Here met trompetgeskal en die klank van ramshorings bekendgemaak. 15Almal was bly oor die verbond, want hulle het dit met hulle hele hart afgelê. Hulle het gretig die wil van die Here gesoek en Hy het Hom deur hulle laat vind. Die Here het hulle rus gegee van hulle vyande aan alle kante.
16Koning Asa het selfs vir Maäka, sy ouma, as koninginmoeder onttroon omdat sy ’n walglike Asjerapaal gemaak het. Hy het die paal afgekap, dit fyngemaal en dit in die Kedronvallei verbrand.
17Hoewel die heidense hoogtes nie heeltemal uit Israel verwyder is nie, was Asa sy lewe lank getrou aan die Here. 18Hy het die silwer en goud en die gereedskap wat hy en sy pa gewy het, in die tempel van God gebring. 19Daar was geen oorlog tot in die 35ste jaar van sy regering nie.

Tans Gekies:

2 KRONIEKE 15: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid