2 KRONIEKE 12

12
Egipte val Juda binne
1Maar toe Rehabeam se koningskap goed gevestig en hy sterk was, het hy die voorskrifte van die Here verontagsaam. Die hele Israel het sy voorbeeld gevolg. 2Omdat hulle ontrou was aan die Here, het Hy koning Sisak van Egipte teen Jerusalem laat optrek. Dit was in die vyfde jaar van koning Rehabeam se bewind. 3Sisak het met 1 200 strydwaens, 60 000 ruiters en ’n ontelbare leër van voetsoldate, insluitende Libiërs, Sukkeërs en Kussiete, uit Egipte opgetrek. 4Sisak het Juda se versterkte stede verower en het tot by Jerusalem gekom.
5Die profeet Semaja het met Rehabeam en die leiers van Juda wat almal uit vrees vir Sisak na Jerusalem toe gevlug het, gepraat. Semaja het gesê: “Dit is wat die Here sê: Julle het My verlaat; daarom het Ek julle verlaat en aan Sisak oorgegee.”
6Die koning en die leiers van Israel het hulleself verootmoedig en gesê: “Die Here is reg om dit aan ons te doen!”
7Toe die Here die verandering van gesindheid by hulle sien, het Hy die volgende boodskap aan Semaja gegee: “Aangesien die volk hulleself verootmoedig het, sal Ek hulle nie heeltemal vernietig nie, maar binnekort verligting gee. Ek sal Sisak nie gebruik om my toorn oor Jerusalem uit te stort nie. 8Maar hulle sal sy onderdane word sodat hulle kan leer dat dit baie beter is om My te dien as om heersers van ander lande te dien.”
9Koning Sisak van Egipte het Jerusalem binnegekom en al die skatte van die tempel van die Here en van die koninklike paleis, asook al die goue skilde van Salomo, weggeneem. 10Koning Rehabeam het dit later vervang met bronsskilde en dit toevertrou aan die bevelvoerder van die wag wat die ingang na die koninklike paleis bewaak het. 11Telkens wanneer die koning na die tempel van die Here gegaan het, het die lyfwagte die skilde saamgedra en daarna teruggeneem na die wagte se kamer. 12Omdat Rehabeam berou getoon het, is die Here se toorn afgeweer en het Hy hulle nie heeltemal verwoes nie. Daar was nog iets goeds in die land van Juda.
Opsomming van Rehabeam se bewind
13Koning Rehabeam het homself goed gevestig in Jerusalem en het voortgegaan om daar te regeer. Hy was 41 jaar oud toe hy koning geword het, en het sewentien jaar in Jerusalem regeer. Dis die stad wat die Here uit al die stamme van Israel gekies het om sy Naam daar te vestig. Rehabeam se ma was Naäma, ’n vrou uit Ammon. 14Hy het gedoen wat verkeerd was, want hy het nie met sy hele hart na die wil van die Here gevra nie.
15Die ander gebeurtenisse tydens Rehabeam se regering, van die begin af tot die einde, is opgeteken in Die vertellings van die profeet Semaja en die siener Iddo, wat deel is van die geslagsregister. Rehabeam en Jerobeam het gedurig met mekaar oorlog gemaak. 16Toe Rehabeam sterf, is hy in die Dawidstad begrawe. Sy seun Abia het in sy plek koning geword.

Tans Gekies:

2 KRONIEKE 12: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid