1 TIMOTEUS 1:8-17

1 TIMOTEUS 1:8-17 NLV

Ons weet dat die wet goed is as ’n mens dit gebruik soos God dit bedoel het en besef die wet is nie soseer gemaak vir mense wat reg optree nie, maar eerder vir mense wat ongehoorsaam en opstandig is, wat teen God is en sondig, wat niks as heilig beskou nie en dit wat heilig is, besoedel; wat hulle vader of moeder of ander mense doodmaak. Die wet is vir mense wat seksueel immoreel is, vir seksuele perverte, vir slawehandelaars, vir leuenaars, eedbrekers en vir hulle wat enigiets anders doen wat die gesonde leer weerspreek – dié leer wat ooreenstem met die heerlike Goeie Nuus wat aan my toevertrou is deur ons goeie God. Hoe dankbaar is ek teenoor Christus Jesus ons Here. Hy het my krag gegee en betroubaar geag om my in sy diens te stel, selfs al het ek voorheen die Naam van Christus belaster. Ek het sy mense vervolg en hulle mishandel. Maar God het sy genade aan my bewys omdat ek dit uit onkunde en ongeloof gedoen het. Hoe oorvloedig was die onverdiende goedheid van ons Here nie en hoe het Hy my nie oorlaai met geloof en met die liefde wat ons deel word wanneer ons aan Christus Jesus verbind word nie. Dit is ’n betroubare boodskap, een wat verdien om ten volle aanvaar te word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te red, en ek was die ergste van hulle almal. Maar juis daartoe was God my genadig dat Christus Jesus aan my, die ergste sondaar van almal, God se groot geduld kon illustreer en my as voorbeeld kon gebruik vir hulle wat nog sal glo en só die ewige lewe sal ontvang. Aan die ewige Koning, die onsterflike, onsigbare, enigste God, die eer en die heerlikheid vir ewig en altyd. Amen.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 TIMOTEUS 1:8-17

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid