DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop预览

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop

40天中的第39天

Geloof wat lewe bring

Ragab bevind haarself in ‘n situasie waar alle hoop verlore gelyk het. Jerigo was op die rand van vernietiging en sy moes glo dat die God van Israel, van wie sy tot nou toe nog net gehoor het, haar sou red. Net soos Marta by die dood van haar broer Lasarus, moes Ragab kies om te glo, selfs in die donkerste oomblik.

Wanneer Jesus Marta aanspreek, staan sy voor een van die mees hartverskeurende realiteite: die dood van haar geliefde broer. Haar hoop het vervaag en haar wêreld het tot stilstand gekom, maar Jesus nooi haar om dieper as haar omstandighede te kyk en in Hom as die bron van lewe te glo:

“Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe. En elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” (Johannes 11:25-26).

Hierdie woorde is nie net ‘n belofte nie, maar ‘n oproep tot geloof in die Een wat lewe gee. Geloof wat lewe bring, is nie net ‘n eenvoudige hoop dat alles altyd reg sal verloop nie. Dit is ‘n aktiewe, vaste vertroue in Jesus, die Een wat self die opstanding en die lewe is.

Hierdie geloof kyk verby die hopeloosheid en vind nuwe moontlikhede in Christus. Dit herinner ons dat geen situasie té finaal of té verlore vir God is om lewe daarin te blaas nie. Marta moes glo dat Jesus nie net wonderwerke kon doen nie, maar dat Hy self die bron van lewe is. Op dieselfde manier word ons genooi om in Jesus te glo – nie net vir ons ewige toekoms nie, maar ook vir nuwe lewe in ons huidige uitdagings.

Geloof wat lewe bring kyk deur die skaduwees van hartseer en word deur die opstanding van Christus getransformeer. Dit gee ons die moed om aan te hou vertrou, selfs wanneer alles hopeloos lyk. Net soos Ragab en Marta, word ons uitgedaag om God te vertrou, selfs wanneer ons omstandighede finaal en onafwendbaar voel. Sy krag bring lewe waar ons geen uitkoms sien nie.

Jesus se vraag aan Marta, “Glo jy dit?”, is steeds op ons van toepassing. Glo jy dat Hy in staat is om lewe te bring in jou doodse situasies? Ragab het geglo en die rooi tou as ‘n teken van geloof gebruik.

Marta het geglo en gesien hoe haar broer lewe ontvang. Dieselfde geloof verander ons onmoontlike situasies in lewende getuienisse van God se genade en krag. Vertrou God in een aspek van jou lewe waar jy voel jy sukkel om beheer te laat gaan.

Dink na oor hoe Jesus in jou verlede reeds lewe en verandering in moeilike situasies vir jou bewerkstellig het.

Gebed

Here, ons glo dat U die opstanding en die lewe is. Bring asseblief nuwe lewe in die afgestorwe dele van ons lewens. Versterk ons geloof en herinner ons dat U in elke situasie hoop en lewe bring. Amen.

读经计划介绍

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop

Stap saam op 'n reis van 40 dae, waar die rooi draad van genade jou lei van Ragab se venster in Jerigo tot by die kruis op Golgota. Hierdie 40-dae plan onthul hoe God se genade geen grense het nie, en hoe geloof en gehoorsaamheid 'n hele nuwe bestemming kan skep.

More