2 KONINGS 7
NLV
7
1Elisa het geantwoord: “Luister na hierdie boodskap van die Here! Dis wat die Here sê: ‘Môre, teen hierdie tyd, sal vyf kilogram meel of dubbel soveel gars net elf gram silwer hier in die poort van Samaria kos.’”
2Die adjudant, vertroueling van die koning, sê vir die man van God: “Dit kan nie gebeur nie, selfs al sou die Here die vensters van die hemel oopmaak!”
Maar Elisa antwoord hom: “Jy sal met jou eie oë sien hoe dit gebeur, maar jy sal niks daarvan kan eet nie!”
Die melaatses besoek die
Aramese kamp
3Daar was vier melaatses by die ingang van die stadspoort. “Hoekom moet ons hier sit en wag om dood te gaan?” vra hulle vir mekaar. 4“As ons die stad ingaan, sal ons sterf weens die hongersnood; en as ons hier bly, sal ons ook sterf. Ons kan maar netsowel oorgaan na die Arameërs se kamp toe. As hulle ons laat lewe, dan lewe ons. As hulle ons doodmaak, dan is ons dood.”
5Skemerdonker gaan hulle na die Arameërs se kamp toe. Toe hulle by die kant van die Arameërs se kamp kom, kry hulle ’n groot verrassing: Daar was niemand nie! 6Die Here het dit so bewerk dat die leër van Aram die gedreun van strydwaens, die galop van perde en die gedruis van ’n naderende leër gehoor het. “Die koning van Israel het seker die konings van die Hetiete en die Egiptenaars gehuur om ons aan te val!” roep hulle uit. 7Dit was skemeraand toe hulle halsoorkop gevlug het. Hulle tente, perde, donkies en al hulle besittings het hulle net so agtergelaat en vir hulle lewens gevlug.
8Toe hierdie melaatses by die kant van die kamp aankom, het hulle by ’n tent ingegaan. Hulle het geëet en gedrink. Hulle het ook silwer, goud en klere daar gekry en dit gaan wegsteek. Hulle het ook by ’n ander tent ingegaan, goed gevat en dit begrawe. 9Daarna sê hulle vir mekaar: “Wat ons doen, is nie reg nie. Dit is ’n dag van wonderlike nuus en ons sê niemand daarvan nie! As ons wag tot dit lig word, sal ’n onheil ons tref. Kom ons gaan en vertel dit by die paleis van die koning.”
10Hulle gaan toe na die stad, roep na die poortwagters en vertel hulle wat gebeur het: “Toe ons by die Arameërs se kamp kom, ontdek ons daar was nie ’n mens te sien of te hoor nie. Daar was net perde en donkies wat vasgemaak was en die tente het almal nog net so daar gestaan.” 11Die poortwagters het geskreeu en die nuus oorgedra aan die koning in die paleis.
Israel plunder die kamp
12In die middel van die nag het die koning opgestaan en vir sy amptenare gesê: “Ek sal vir julle sê wat die Arameërs se plan met ons is! Hulle weet ons het nie kos nie. Daarom het hulle die kamp verlaat en êrens in die veld gaan wegkruip. Hulle dink: ‘Kom ons wag dat hulle uitgaan uit die stad. Dan sal ons hulle lewendig vang en self die stad binnegaan.’”
13Een van sy amptenare antwoord: “Laat ’n paar manne vyf van die perde wat oorgebly het, vat en gaan vasstel wat is wat. As daar iets met hulle gebeur, sal dit nie ’n groter verlies wees as wanneer hulle hier bly en saam met ons sterf nie.”
14Twee strydwaens met hulle perde is toe gereedgemaak. Die koning het hulle gestuur om te kyk wat van die Aramese leër geword het. 15Hulle het tot by die Jordaanrivier agter hulle aangegaan. Die hele pad was besaai met klere en ander goedere wat die Arameërs weggegooi het in hulle haas om te vlug. Die verkenners het teruggekom en dit vir die koning vertel. 16Toe het die inwoners van Samaria uit die stad gestorm en die Arameërs se kamp geplunder. So het dit dan gebeur dat vyf kilogram meel of dubbel die hoeveelheid gars net ’n sikkel silwer gekos het, net soos die Here belowe het. 17Die koning stel toe die adjudant, sy vertroueling, aan om die oorvloed bedrywighede by die poort te beheer. Maar die inwoners het hom in die poort doodgetrap.
Alles het net so gebeur soos wat die man van God gesê het toe die koning na sy huis toe gekom het. 18Die man van God het mos vir die koning gesê: “Môre, teen hierdie tyd, sal vyf kilogram meel of dubbel soveel gars net elf gram silwer hier in die poort van Samaria kos.” 19Die koning se adjudant het toe vir die man van God gesê: “Dit kan nie gebeur nie, selfs al sou die Here die vensters van die hemel oopmaak!” En die man van God het geantwoord: “Jy sal met jou eie oë sien hoe dit gebeur, maar jy sal niks daarvan kan eet nie!”
20Dit het presies so gebeur, want die menigte het hom in die stadspoort doodgetrap.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Nuwe Lewende Vertaling Hakkında Daha Fazlasını Öğrenin