2 KONINGS 6
NLV
6
Die byl wat dryf
1Op ’n keer kom die groep profete na Elisa toe en sê vir hom: “Soos u kan sien, is hierdie plek waar ons saam met u byeenkom, te klein vir ons. 2Laat ons afgaan na die Jordaanrivier toe waar elkeen ’n paal kan gaan kap. Ons kan daar ’n nuwe vergadersaal bou.”
“Goed,” sê hy. “Gaan gerus.”
3“Kom tog saam met ons!” vra een van hulle.
“Goed, ek kom saam,” sê hy.
4Hy het saam met hulle gegaan. Toe hulle by die Jordaan aankom, begin hulle bome afkap. 5Terwyl een van hulle besig was om ’n boom te kap, val sy byl in die water. “Ag, Meneer!” roep hy uit. “Dit is ’n geleende byl!”
6“Waar het dit ingeval?” vra die man van God. Die man wys toe vir hom die plek. Elisa het ’n stok afgekap en dit in die water gegooi. Die byl het boontoe gekom en gedryf. 7“Gryp dit,” sê Elisa vir hom. Die man het sy hand uitgesteek en dit gegryp.
Elisa uitoorlê die Arameërs
8Die koning van die Arameërs was in ’n oorlog teen Israel gewikkel. Hy het met sy offisiere beraadslaag en gesê: “Ons sal ons kamp op dié en dié plek opslaan.”
9Elisa, die man van God, het egter dadelik die koning van Israel gewaarsku: “Moenie naby daardie plek gaan nie, want die Arameërs trek daarheen op.” 10Dan het die koning boodskappers na die plek gestuur waarvan die man van God gepraat het en die mense gewaarsku. Hulle was dus op hulle hoede. Dit het etlike kere gebeur.
11Hieroor was die koning van Aram baie ontsteld. Hy roep toe sy offisiere en vra hulle: “Wie van julle is die verraaier? Wie is dit wat die koning van Israel oor my planne inlig?”
12“Dis nie ons nie, o Koning,” antwoord een van die offisiere. “Elisa, die profeet in Israel, vertel alles aan die koning van Israel. Selfs wat u in u slaapkamer sê, is aan hom bekend!”
13Die koning van Aram beveel hulle toe: “Gaan en stel vas waar Elisa is. Dan stuur ek troepe om hom te vang.”
Hy kry toe berig: “Elisa is in Dotan.” 14Een nag stuur die koning van Aram toe ’n groot leër en baie perde en strydwaens om die dorp te omsingel. 15Toe die dienaar van die man van God die volgende môre vroeg opstaan en buitentoe gaan, sien hy oral net troepe, perde en strydwaens.
Benoud roep hy vir Elisa: “Ag, Meneer, wat moet ons nou maak?”
16“Moenie bang wees nie!” sê Elisa vir hom. “Daar is meer aan ons kant as aan hulle kant!” 17Toe bid Elisa: “Here, maak tog sy oë oop sodat hy kan sien!” Die Here het sy dienaar se oë oopgemaak. Toe hy opkyk, sien hy dat daar baie perde en strydwaens van vuur op die heuwels rondom Elisa was.
18Toe die Aramese leër naderkom, bid Elisa: “Here, slaan hulle tog met blindheid!” Die Here het gedoen soos Elisa gevra het.
19Elisa sê toe vir hulle: “Julle is op die verkeerde pad! Dis ook nie die regte stad nie! Volg my en ek sal julle neem na die man vir wie julle soek.”
So het hy hulle na Samaria toe gelei.
20Net toe hulle Samaria binnegaan, bid Elisa: “Here, laat hulle weer sien.” Die Here het hulle oë oopgemaak en toe hulle opkyk, is hulle binne-in Samaria!
21Toe die koning van Israel hulle sien, roep hy vir Elisa: “Moet ek hulle doodmaak, my vader, moet ek hulle doodmaak?”
22“Natuurlik nie!” sê Elisa vir hom. “Maak jy die krygsgevangenes dood wat jy met jou swaard en boog gevang het? Gee vir hulle kos en iets om te drink sodat hulle kan teruggaan na hulle koning toe.”
23Die koning het toe ’n groot fees vir hulle voorgesit en hulle toe teruggestuur na hulle koning toe. Daarna het die Aramese plunderaars nie weer die land Israel binnegeval nie.
Ben-Hadad beleër Samaria
24’n Tyd later het koning Ben-Hadad van Aram egter sy hele leër opgeroep en Samaria beleër. 25Daar het toe ’n ernstige hongersnood in die stad ontstaan. Na ’n tyd is ’n donkiekop verkoop vir een kilogram silwer, en ’n handjie vol duiwemis vir omtrent 50 gram silwer.
26Op ’n dag, terwyl die koning op die stadsmuur verbyloop, roep ’n vrou na hom: “Help my tog, my heer die koning!”
27“As die Here jou nie help nie, wat kan ek dan doen?” antwoord hy. “Ek het geen kos van die dorsvloer of wyn uit die parskuip om vir jou te gee nie. 28Maar wat is jou probleem?” vra die koning. Sy antwoord: “Hierdie vrou het voorgestel: ‘Gee jou seun dat ons hom vandag kan eet, dan eet ons my seun môre.’ 29Toe het ons my seun gekook en opgeëet. Die volgende dag sê ek: ‘Maak jou seun dood sodat ons hom kan eet,’ maar sy wou nie en het haar seun weggesteek.”
30Toe die koning dit hoor, skeur hy sy klere van radeloosheid. Soos die koning al met die muur loop, merk die mense dat hy ’n roukleed onder sy klere dra. 31“Mag God my tref as ek vandag Elisa seun van Safat se kop aan sy lyf laat bly,” sê die koning.
32Elisa het in sy huis gesit en praat met die leiers van Israel. Die koning het ’n boodskapper vooruit gestuur, maar voordat hy daar aankom, sê Elisa vir die leiers: “Kyk, die moordenaarskind het iemand gestuur om my kop af te kap. Wanneer hy hier aankom, moet julle die deur sluit en hom buite hou. Sy koning is kort agter hom.”
33Terwyl Elisa besig was om dit te sê, kom die boodskapper daar aan met die boodskap: “Die koning sê: Die Here het al hierdie ellende oor ons gebring! Hoekom moet ek nog langer vir die Here wag?”

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Nuwe Lewende Vertaling Hakkında Daha Fazlasını Öğrenin