2 KONINGS 8

8
Die vrou uit Sunem gaan terug huis toe
1Elisa het vir die vrou wie se seun hy weer laat lewe het, gesê: “Roep jou huisgesin bymekaar en trek weg na ’n ander plek toe, want die Here het bepaal dat daar oor Israel ’n hongersnood sal kom wat sewe jaar sal duur.” 2Die vrou het gemaak soos die man van God vir haar gesê het. Sy en haar gesin het toe vertrek en sewe jaar lank in die land van die Filistyne gaan woon.
3Toe die hongersnood na sewe jaar verby was, het sy teruggekeer uit die land van die Filistyne. Sy het na die koning toe gegaan en hom gesmeek om haar huis en grond weer terug te kry. 4Die koning was besig om met Gehasi, die dienaar van die man van God, te praat. Die koning het so pas vir hom gesê: “Vertel my tog van al die groot dinge wat Elisa gedoen het.” 5Gehasi was besig om die koning te vertel van die seun wat Elisa weer laat lewe het. Op daardie oomblik het die ma van die seun ingekom om haar versoek oor haar huis en haar grond aan die koning te stel.
“My heer!” roep Gehasi uit. “Dis die vrou, en dis haar seun, die een wat Elisa weer laat lewe het!”
6“Is dit so?” vra die koning vir haar. Sy het hom toe alles vertel. Daarop beveel hy een van sy amptenare om haar behulpsaam te wees en sê: “Jy moet sorg dat sy alles terugkry wat aan haar behoort, ook die waarde van enige oes wat gedurende haar afwesigheid ingesamel is.”
Gasael vermoor Ben-Hadad
7Op ’n keer het Elisa na Damaskus, die hoofstad van Aram, gegaan. Op dié tydstip was koning Ben-Hadad, die koning van Aram, siek. Iemand het vir die koning vertel dat die man van God daar aangekom het. 8Toe die koning dit hoor, sê hy vir Gasael: “Neem geskenke en gaan na die man van God toe. Sê vir hom hy moet die Here vra of ek van hierdie siekte gesond sal word.”
9Gasael neem toe van die mooiste handelsware van Damaskus en laai dit op 40 kamele as ’n geskenk vir Elisa. Hy het by hom gekom, voor hom gaan staan en gesê: “U dienaar Ben-Hadad, die koning van Aram, het my gestuur om te vra of hy gesond sal word.”
10Elisa het geantwoord: “Gaan en sê vir hom: ‘Jy sal beslis gesond word.’ Maar die Here het aan my bekendgemaak dat hy beslis sal sterf.” 11Elisa het stip na Gasael gekyk sodat Gasael ongemaklik geword het. Toe het die man van God in trane uitgebars.
12“Waarom huil u, Meneer?” vra Gasael.
Elisa antwoord hom: “Ek huil omdat ek weet van die verskriklike dinge wat jy die Israeliete sal aandoen. Jy sal hulle vestings afbrand, hulle jong mans doodmaak, hulle kinders teen die grond verpletter en hulle swanger vroue oopsny!”
13Gasael antwoord: “Hoe kan ek, wat niksbeduidend#8:13 Grondteks wat ’n hond is. is, so iets doen?”
Maar Elisa antwoord: “Die Here het vir my bekendgemaak dat jy koning oor Aram sal word.”
14Gasael het van Elisa teruggegaan en by die koning aangekom. Die koning vra hom: “Wat het Elisa vir jou gesê?”
Hy antwoord: “Hy het gesê u sal beslis gesond word.”
15Die volgende dag het Gasael ’n doek gevat, dit met water deurweek en dit oor die koning se gesig gegooi sodat die koning gesterf het. Gasael het hom as koning van Aram opgevolg.
Joram word koning in Juda
16In die vyfde jaar van koning Joram van Israel, seun van Agab, het Joram, seun van koning Josafat, sy pa in Juda opgevolg. 17Joram was 32 jaar oud toe hy koning geword het, en het agt jaar in Jerusalem regeer. 18Maar Joram het die slegte voorbeeld gevolg van die konings van Israel net soos die dinastie van Agab gedoen het, want hy was met een van Agab se dogters getroud. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here. 19Maar die Here wou Juda nie vernietig nie omdat Hy sy dienaar Dawid beloof het dat sy nageslag vir altyd op sy troon sal sit#8:19 Grondteks om hom ’n lamp te gee vir sy seuns vir altyd..
20Tydens Joram se bewind het die Edomiete teen Juda in opstand gekom en hulle eie koning aangestel.
21Joram het met sy strydwaens die dorp Saïr aangeval. Die Edomiete het hom en sy strydwa-offisiere omsingel. In die nag slaag hy om deur te breek, maar sy leër het huis toe gevlug.
22Daarna was Edom onafhanklik van Juda tot vandag toe. In daardie tyd het die dorp Libna ook in opstand gekom.
23Die ander gebeurtenisse tydens Joram se regering en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda. 24Hy het gesterf en is in die familiegraf in die Dawidstad begrawe.
Sy seun Ahasia het hom as koning opgevolg.
Ahasia regeer oor Juda
25Ahasia, seun van Joram, het koning geword in die twaalfde jaar van koning Joram van Israel. Koning Joram was die seun van Agab. 26Ahasia was 22 jaar oud toe hy koning geword het en hy het een jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Atalia, ’n kleindogter van koning Omri van Israel.
27Ahasia het die slegte voorbeeld van koning Agab se familie gevolg. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here omdat hy in die familie van Agab ingetrou het.
28Ahasia het aangesluit by koning Joram van Israel, die seun van Agab, wat besig was om oorlog te maak teen koning Gasael van Aram by Ramot in Gilead. Die Arameërs het koning Joram in die geveg gewond. 29Hy het teruggegaan na Jisreël toe om te herstel van sy wonde wat die Arameërs hom in Ramot toegedien het. Dit het gebeur tydens die oorlog met Gasael, koning van Aram.
Koning Ahasia van Juda het Joram, die seun van Agab, daar in Jisreël besoek omdat hy siek was.

Seçili Olanlar:

2 KONINGS 8: NLV

Vurgu

Paylaş

Kopyala

None

Önemli anlarınızın tüm cihazlarınıza kaydedilmesini mi istiyorsunuz? Kayıt olun ya da giriş yapın

YouVersion, deneyiminizi kişiselleştirmek için tanımlama bilgileri kullanır. Web sitemizi kullanarak, Gizlilik Politikamızda açıklandığı şekilde çerez kullanımımızı kabul etmiş olursunuz