YouVersion Logo
Search Icon

MATTEUS 14

14
Die dood van Johannes die Doper
(Mark. 6:14-29; Luk. 9:7-9)
1Daardie tyd het Herodes, die heerser, gehoor wat van Jesus vertel word, 2en hy het vir sy paleispersoneel gesê: “Maar dit is mos Johannes die Doper! Hy is uit die dood opgewek, daarom werk die kragte in hom!”
3Vroeër het Herodes vir Johannes laat vang, laat boei en in die tronk laat opsluit. Dit het hy gedoen oor Herodias die vrou van sy broer Filippus, 4want Johannes het vir Herodes gesê: “U mag haar nie as vrou vat nie.” 5Herodes wou hom daaroor doodmaak maar was tog bang vir die mense, omdat hulle hom as 'n profeet beskou het.
6Met Herodes se verjaarsdagviering het die dogter van Herodias voor die gaste gedans. Herodes was so in sy skik met haar 7dat hy 'n eed afgelê het dat hy vir haar sal gee net wat sy vra. 8Haar ma het haar voorgesê en sy het gevra: “Gee vir my hier in 'n skottel die kop van Johannes die Doper.”
9Hieroor het die koning baie sleg gevoel, maar vanweë die eed wat hy voor die gaste afgelê het, het hy opdrag gegee dat aan haar versoek voldoen moet word. 10Hy het iemand gestuur en Johannes in die tronk laat onthoof. 11Hulle het sy kop in 'n skottel ingebring en aan die meisie gegee, wat dit na haar ma toe gevat het. 12Sy dissipels het sy liggaam kom haal en begrawe; en hulle het dit vir Jesus gaan vertel.
Die eerste vermeerdering van die brood
(Mark. 6:30-44; Luk. 9:10-17; Joh. 6:1-14)
13Toe Jesus dit hoor, het Hy met 'n skuit daarvandaan weggegaan na 'n stil plek om alleen te wees. Die mense het hiervan gehoor en Hom van die dorpe af te voet gevolg. 14Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak.
15Toe dit al aand begin word, het sy dissipels vir Hom kom sê: “Dit is 'n afgeleë plek en dit het al laat geword. Stuur die mense terug dat hulle vir hulle kan gaan kos koop in die dorpe.”
16Maar Jesus sê vir hulle: “Hulle hoef nie weg te gaan nie. Gee julle vir hulle iets om te eet.”
17Hulle sê toe vir Hom: “Ons het hier net vyf brode en twee visse.”
18“Bring dit vir My hier,” sê Hy.
19Hy het die menigte beveel om op die groen gras te gaan sit om te eet. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra die seën. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan sy dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee. 20Al die mense het geëet en genoeg gekry, en hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood wat oorgebly het. 21Daar was omtrent vyf duisend mans wat geëet het, afgesien van die vrouens en kinders.
Jesus loop op die see
(Mark. 6:45-52; Joh. 6:15-21)
22Net daarna het Jesus sy dissipels in die skuit laat klim om solank voor Hom uit te vaar na die oorkant toe terwyl Hy nog eers die mense huis toe laat gaan. 23Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen.
24Die skuit was reeds 'n paar kilometer van die kus af en is deur die golwe geteister, want die wind was van voor. 25Met dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom. 26Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: “Dis 'n spook!” Van angs het hulle hard begin skreeu.
27Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”
28Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.”
29“Kom!” sê Hy.
Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. 30Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!”
31Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”
32Hulle het toe in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. 33Die manne in die skuit het voor Jesus gekniel en gesê: “U is waarlik die Seun van God.”
Jesus genees mense in die landstreek Gennesaret
(Mark. 6:53-56)
34Hulle het toe land toe gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan. 35Net toe die mense van daardie plek agterkom wie Hy is, het hulle boodskappers deur daardie hele omgewing gestuur, en die mense het almal wat ongesteld was, na Hom toe gebring. 36Hulle het Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak. En almal wat dit gedoen het, het gesond geword.

Currently Selected:

MATTEUS 14: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy