YouVersion Logo
Search Icon

MATTEUS 13

13
Die gelykenis van die saaier
(Mark. 4:1-9; Luk. 8:4-8)
1Dieselfde dag het Jesus van die huis af gegaan en by die see gaan sit. 2'n Groot menigte het so om Hom saamgedrom dat Hy in 'n skuit geklim en daarin gaan sit het, maar die mense het almal op die strand bly staan. 3Hy het hulle baie dinge in gelykenisse vertel en onder andere gesê:
“'n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het 'n deel van die saad op die pad geval, en 4die voëls het gekom en dit opgepik. 5'n Ander deel daarvan het op klipbanke geval, waar daar nie baie grond was nie, en dit het gou opgekom omdat die grond nie diep was nie. 6Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. 7'n Ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het opgekom en dit laat verstik. 8Die ander saad het in goeie grond geval en 'n oes gelewer, party honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig.
9“Wie ore het, moet luister!”
Die doel van die gelykenisse
(Mark. 4:10-12; Luk. 8:9-10)
10Die dissipels het vir Jesus kom vra: “Hoekom gebruik U gelykenisse as U met die mense praat?”
11Hy het hulle geantwoord: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. 12Wie het, vir hom sal nog meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. 13Om hierdie rede praat Ek met hulle in gelykenisse: omdat hulle kyk maar nie sien nie, en hoor maar nie luister en verstaan nie. 14In hulle geval word die profesie van Jesaja vervul wat sê:
“ ‘Julle sal hoor en hoor en tog niks verstaan nie, en kyk en kyk en tog niks sien nie.
15Hierdie volk se verstand is afgestomp: hulle het hulle ore toegedruk en hulle oë toegemaak
sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle ore kan hoor
en met hulle verstand kan verstaan en hulle bekeer, en Ek hulle gesond maak nie.’
16“Maar julle oë is bevoorreg dat hulle sien, en julle ore dat hulle hoor. 17Dit verseker Ek julle: Baie profete en gelowiges wou graag sien wat julle sien, maar het dit nie gesien nie, en wou graag hoor wat julle hoor, maar het dit nie gehoor nie.”
Jesus verklaar die gelykenis van die saaier
(Mark. 4:13-20; Luk. 8:11-15)
18“Luister julle dan na wat die gelykenis van die saaier beteken: 19Die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is. Dit is hy by wie daar op die pad gesaai is. 20Die man weer by wie daar op die klipbanke gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem. 21Hy laat dit egter nie by hom wortel skiet nie, en hy hou nie lank uit nie. As hy ter wille van die woord verdruk en vervolg word, word hy gou afvallig. 22Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug. 23Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer 'n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.”
Die gelykenis van die onkruid tussen die koring
24Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met 'n man wat goeie saad op sy land gesaai het. 25Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. 26Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword. 27Die slawe van die boer kom sê toe vir hom: ‘Meneer, het u nie goeie saad op u land gesaai nie? Waar kom die onkruid dan vandaan?’ 28Hy antwoord hulle: ‘Dit is 'n vyand se werk.’ Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek?’ 29‘Nee,’ sê hy, ‘as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek. 30Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.’ ”
Die gelykenisse van die mosterdsaadjie en die suurdeeg
(Mark. 4:30-32; Luk. 13:18-21)
31Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het. 32Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit 'n boom, sodat die voëls in sy takke kom nes maak.”
33Hy het hulle nog 'n gelykenis vertel: “Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat 'n vrou gevat en in 'n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.”
Die gebruik van gelykenisse
(Mark. 4:33-34)
34Al hierdie dinge het Jesus vir die mense in gelykenisse geleer, en sonder 'n gelykenis het Hy hulle niks geleer nie. 35So moes vervul word wat die Here deur 'n profeet gesê het:
“Ek sal gelykenisse gebruik as Ek praat;
Ek sal bekend maak wat geheim gebly het van die skepping af.”
Verklaring van die gelykenis van die onkruid
36Daarna het Jesus van die mense af weggegaan huis toe. Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Verduidelik tog vir ons die gelykenis van die onkruid in die land.”
37Jesus antwoord: “Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens. 38Die saailand is die wêreld. Die goeie saad, dit is die mense van die koninkryk; die onkruid is die aanhangers van die Bose; 39die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld; dié wat oes, is die engele.
40“Soos die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit by die voleinding van die wêreld wees. 41Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree, 42en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners. 43Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son.
“Wie ore het, moet luister.”
Drie kort gelykenisse
44“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n skat wat in 'n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.
45“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. 46As hy 'n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.
47“Verder gaan dit met die koninkryk van die hemel soos met 'n treknet wat in die see gegooi is en allerhande soorte vis vang. 48As dit vol geword het, sleep hulle dit op die strand uit en gaan sit om die goeie vis in mandjies bymekaar te maak, maar die onbruikbares gooi hulle weg. 49So sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeies 50en hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.”
Ou en nuwe skatte
51“Verstaan julle al hierdie dinge?”
“Ja,” antwoord hulle Hom.
52Hy sê toe vir hulle: “So is elke skrifgeleerde wat 'n leerling word in die koninkryk van die hemel, soos 'n huiseienaar wat uit sy voorraad nuwe en ou dinge te voorskyn bring.”
Jesus word in Nasaret misken
(Mark. 6:1-6; Luk. 4:16-30)
53Toe Jesus hierdie gelykenisse klaar vertel het, het Hy daarvandaan weggegaan. 54Hy het in die dorp gekom waar Hy grootgeword het, en Hy het die mense in hulle sinagoge so geleer dat hulle verstom was en gesê het: “Waar kry hy hierdie wysheid vandaan en die vermoë om die kragtige dade te doen? 55Is hy dan nie die timmerman se seun nie? Is sy ma nie Maria en sy broers Jakobus, Josef, Simon en Judas nie? 56En sy susters, is hulle nie almal hier by ons nie? Waar kry hy dan al hierdie dinge vandaan?”
57En hulle wou niks van Hom weet nie.
Jesus sê toe vir hulle: “'n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring.”
58Vanweë hulle ongeloof het Hy daar nie baie wonderwerke gedoen nie.

Currently Selected:

MATTEUS 13: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy