YouVersion Logo
Search Icon

Johannes 20

20
Jesus lewe weer
(Ook Matt 28:1-2,8; Mark 16:1-2,4,8; Luk 24:1-2,8-10,12)
1Vroeg die Sondag-oggend het Maria Magdalena na Jesus se graf gegaan. Dit was nog donker. Sy het gesien die klip voor die graf is weg. 2Toe hardloop sy na Simon Petrus en die ander dissipel, die dissipel vir wie Jesus lief was. Sy het vir hulle gesê: “Iemand het die Here se liggaam weggeneem uit die graf en ons weet nie waar hy Hom gesit het nie.”
3Petrus en die ander dissipel het na die graf gegaan. 4Hulle het saam na die graf gehardloop. Maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en hy het eerste by die graf gekom. 5Hy het gebuk en in die graf gekyk. Hy het gesien die grafdoeke lê daar, maar hy het nie ingegaan in die graf nie. 6Ná die dissipel vir wie Jesus lief was, het Simon Petrus ook daar gekom. Petrus het ingegaan in die graf en hy het gesien die grafdoeke lê daar. 7Hy het ook die doek gesien wat om Jesus se kop was. Die doek het nie by die ander grafdoeke gelê nie. Iemand het dit opgevou, en dit was op 'n ander plek. 8Die ander dissipel wat eerste by die graf was, het toe ook ingegaan. Hy het gesien Jesus se liggaam is nie daar nie en hy het geglo. 9Die Ou Testament sê Jesus sal weer lewe, maar die dissipels het dit nog nie verstaan nie. 10Toe het die twee dissipels weer teruggegaan.
Jesus praat met Maria Magdalena
(Ook Matt 28:8-10; Mark 16:9-10; Luk 24:10)
11Maria het by die graf gestaan en huil. Terwyl sy huil, het sy vorentoe gebuk en sy het ingekyk in die graf. 12Sy sien toe twee engele. Hulle het wit klere aangehad. Hulle het gesit op die plek waar Jesus se liggaam gelê het. Een engel het gesit waar sy kop was, en die ander engel waar sy voete was. 13Die twee engele het vir haar gevra: “Mevrou, hoekom huil jy?”
Sy het gesê: “Hulle het my Here se liggaam weggeneem, en ek weet nie waar hulle Hom gesit het nie.”
14Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai. Sy sien toe vir Jesus, Hy het daar gestaan, maar sy het nie geweet dit is Jesus nie. 15Jesus het vir haar gesê: “Mevrou, hoekom huil jy? Vir wie soek jy?”
Maria het gedink dit is die man wat daar in die tuin werk. Daarom het sy vir Hom gesê: “Meneer, het jy my Here weggeneem? As jy Hom weggeneem het, sê dan vir my waar jy Hom gesit het. Dan kan ek Hom gaan haal.”
16Jesus het vir haar gesê: “Maria!”
Toe draai sy na Jesus en sê: “Rabboeni!”
Rabboeni is 'n Hebreeuse woord, dit beteken “My Meneer.”
17Jesus het vir haar gesê: “Jy moenie aan My raak nie, want Ek moet nog na my Vader in die hemel gaan. Jy moet teruggaan na my broers, die dissipels. Gaan sê vir hulle Ek gaan na my Vader en my God. Hy is nou ook julle Vader en julle God.”
18Maria Magdalena het vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!”
Sy het vir hulle vertel wat Jesus vir haar gesê het.
Jesus kom na die dissipels toe
(Ook Luk 24:36,39-40)
19Daardie selfde Sondagaand was die dissipels bymekaar. Al die deure was gesluit, want hulle was bang vir die Jode. Jesus het gekom en Hy het tussen hulle gaan staan. Hy het vir hulle gesê: “Ek gee vir julle my vrede!”
20Nadat Jesus dit gesê het, het Hy vir hulle gewys hoe lyk sy hande en hoe lyk dit waar die soldaat Hom met die spies gesteek het. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien. 21Jesus het weer vir hulle gesê: “Ek gee vir julle my vrede. Die Vader het My gestuur. Nou stuur Ek julle ook.”
22Nadat Jesus dit gesê het, het Hy op hulle geblaas en gesê: “Ek gee vir julle die Heilige Gees. 23As julle ander mense se sondes vergewe, dan vergewe God ook hulle sondes. As julle nie hulle sondes vergewe nie, dan vergewe God ook nie hulle sondes nie.”
Jesus en Tomas
24Tomas was een van die twaalf dissipels. Die mense het hom “Tweeling” genoem. Hy was nie by die ander dissipels toe Jesus aan hulle verskyn het nie. 25Hulle het vir Tomas gesê: “Ons het die Here gesien.”
Tomas het vir hulle gesê: “Nee, ek glo dit nie. Ek sal dit net glo as ek die plekke in sy hande sien waar die spykers was en as ek my vinger daar kan indruk. Ek sal dit net glo as ek my hand kan indruk in die gat in Jesus se sy.”
26'n Week later was die dissipels weer bymekaar. Tomas was ook by hulle. Die deure was gesluit, maar Jesus het gekom en Hy het tussen hulle gaan staan. Hy het vir hulle gesê: “Ek gee vir julle my vrede!”
27Toe sê Hy vir Tomas: “Kom, druk jou vinger hier in my hande en kyk, en kom druk jou hand in die gat in my sy. Jy moenie ongelowig wees nie, jy moet glo!”
28Tomas het vir Jesus gesê: “U is my Here en my God!”
29Jesus sê toe vir hom: “Jy het My nou gesien, daarom glo jy. Maar die mense wat My nie sien nie en wat in My glo, hulle sal regtig gelukkig wees.”
Hoekom die Johannes-Evangelie geskryf is
30Jesus het nog baie ander wondertekens gedoen wat die dissipels gesien het, maar julle lees nie van daardie wondertekens in hierdie boek nie. 31Maar die wondertekens waarvan julle in hierdie boek lees, is geskryf sodat julle kan glo Jesus is die Christus, die Seun van God. Dit is geskryf sodat julle die ewige lewe kan kry omdat julle aan Hom behoort.

Currently Selected:

Johannes 20: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy