Numeri 15
15
1יהוה het met Mosheh gepraat en gesê:
2“Praat met die seuns van Yisra’el en sê vir hulle: ‘As julle in die land kom waar julle moet bly, wat Ek vir julle gee
3en julle ’n offer deur vuur tot יהוה wil bring, ’n brandoffer of ’n offerande om ’n belofte te vervul, of as ’n vrywillige offer of by julle vasgestelde tye, om vir יהוה ’n aangename geur te bring, van beeste of van kleinvee,
4dan moet die een wat sy offer aan יהוה bring, ’n tiende van ’n efa fyn meel, gemeng met ’n kwart hin olie, as graanoffer bring
5en ’n kwart hin wyn as ’n drankoffer. Dit moet vir elke lam by die brandoffer of vir die offer voorberei word.
6Of, vir ’n ram moet jy twee-tiendes van ’n efa fyn meel, met ’n derde van ’n hin olie gemeng, as graanoffer voorberei
7en ’n derde van ’n hin wyn moet jy as aangename geur tot יהוה bring vir die drankoffer.
8As jy ’n bul as brandoffer bring of ’n offer voorberei om ’n spesiale belofte te vervul, of as vredesoffer tot יהוה,
9moet jy by die bul drie-tiendes van ’n efa fyn meel met ’n half hin olie gemeng, as graanoffer bring.
10Vir die drankoffer moet jy ’n half hin wyn bring, as ’n offer, deur vuur, met ’n aangename geur tot יהוה.
11So moet gedoen word vir elke bees of ram of by ’n lam van die skape of die bokke.
12Volgens die aantal wat julle voorberei, so moet julle doen by elkeen volgens die hoeveelheid.
13Elke kind van die land moet hierdie dinge op hierdie manier doen, om ’n offer, deur vuur, met ’n aangename geur, aan יהוה te bring.
14As ’n besoeker, in die geslagte wat kom, by julle bly, of hy wat onder julle is en ’n offer, deur vuur, met ’n aangename geur vir יהוה voorberei, moet hy net soos julle doen, so moet hy doen.
15Een en dieselfde instelling geld vir julle in die vergadering en vir die besoeker wat by julle bly. Dit is ’n ewige instelling regdeur julle geslagte: soos dit vir julle is, so moet dit vir die besoeker voor יהוה wees.
16Daar moet een wet en een beslissing geld vir julle en vir die besoeker wat by julle bly.’” Yes 56:7; Hand 15:18-21; Rom 9:7,8; Rom 11; Efe 2:13-18
17יהוה het met Mosheh gepraat en gesê:
18“Praat met die seuns van Yisra’el en sê vir hulle: ‘Wanneer julle in die land kom waarheen Ek julle bring,
19dan sal dit wees, wanneer julle die brood van die land eet, julle ’n opligoffer aan יהוה sal offer.
20Julle moet ’n koek van die eerste deeg as ’n opligoffer bring; soos ’n opligoffer van die dorsvloer, so moet julle dit offer.
21Van die eerste van julle deeg moet julle ’n opligoffer aan יהוה offer, regdeur al julle geslagte.
22As julle onbepland oortree en nie al hierdie opdragte doen wat יהוה vir Mosheh gesê het nie,
23alles wat יהוה julle deur Mosheh beveel het van die dag af dat יהוה opdrag gegee het en verder aan in julle geslagte,
24dan moet dit wees, as dit onbewus gedoen is, sonder die wete van die vergadering, dat die hele vergadering een bul, as 'n brandoffer, 'n aangename geur tot יהוה, offer saam met die graanoffer en die drankoffer wat volgens voorskrif daarby hoort en een bokram as sondoffer.
25So sal die priester toedekking doen vir die hele vergadering van die seuns van Yisra’el en dit sal hulle vergewe word, want dit was ’n fout en húlle het hul offer en hul sondoffer as ’n offer, deur vuur, tot יהוה geoffer, vir hulle onbeplande sonde.
26Dit sal vir die hele vergadering van die seuns van Yisra’el, asook die besoeker wat tussen hulle bly, vergewe word, want al die mense het dit onbepland gedoen.
27As ’n persoon onbepland sondig, moet dié ’n bokooi in haar eerste jaar as sondoffer bring.
28So moet die priester dan toedekking doen vir die persoon wat onbepland sondig, wanneer hy onbepland sondig voor יהוה, om vir hom toedekking te doen en dit sal hom vergewe word.
29Jy sal een wet hê vir die een wat onbepland sondig, vir die kind van die land onder die seuns van Yisra’el en die besoeker wat tussen hulle bly,
30maar die persoon wat iets wetend doen, van die kinders van die land of van die besoeker, hy bespot יהוה en dié persoon moet afgesny word uit sy volk uit,
31want hy het die woord van יהוה verwerp en Sy opdrag verbreek. Dié persoon moet volkome afgesny word; sy skuld sal op hom wees.’”
32Terwyl die seuns van Yisra’el in die wildernis was, het hulle ’n man gekry wat op die Shabbatdag hout bymekaarmaak.
33Die wat hom gekry het terwyl hy hout bymekaarmaak, het hom na Mosheh, Aharon en na die hele vergadering gebring.
34Hulle het hom onder bewaking geplaas, want dit was nie verklaar wat met hom gedoen moes word nie.
35יהוה sê vir Mosheh: “Die man moet tot die dood tereggestel word; die hele vergadering moet hom buitekant die kamp met klippe stenig;”
36daarom, soos יהוה Mosheh beveel het, het die hele vergadering hom buitekant die kamp uitgebring en hom met klippe gestenig tot hy dood is.
37יהוה het met Mosheh gepraat en gesê:
38“Praat met die seuns van Yisra’el en sê vir hulle, hulle moet vir hulle tossels maak aan die some van hul bo-klere, deur al hulle geslagte heen en hulle moet aan die tossel van elke soom ’n tou van blou stof vasbind. Deut 22:12; Mat 9:20; 23:5
39Die tossels sal wees sodat julle daarna kan kyk en al die opdragte van יהוה onthou en dit doen en nie agter dit aangaan waarna julle hart en jul oë aan hoereer nie
40sodat julle kan onthou om al My opdragte te doen en vir julle God afgesonder te wees.
41Ek is יהוה, julle God, wat julle uit Mitzrayim uitgebring het om vir julle ’n God te wees. Ek is יהוה, julle God.”
S'ha seleccionat:
Numeri 15: SPC
Subratllat
Copia
Compara
Comparteix
Vols que els teus subratllats es desin a tots els teus dispositius? Registra't o inicia sessió
©Kopiereg 2025 deur Die Pad van Waarheid tot die Lewe Vertalings Projek.
Kopiereg op die inhoud behoort aan die Lewende, Skepper-God, YHWH, alleen. U is welkom om dit onveranderd te gebruik in enige leer of skrywe, met erkenning: “PWL” “PadWLewe” of “Die Pad van Waarheid tot die Lewe” vertaling.
Geen deel hiervan mag onder enige omstandighede, in enige formaat, verkoop word nie.
Sy Boodskap is gratis.