Eksodus 19
19
1In die derde maand nadat die kinders van Yisra’el uit die land van Mitzrayim uitgegaan het, op dieselfde dag, het hulle in die wildernis van Sinai gekom.
2Hulle het van Refidim af opgebreek, in die wildernis van Sinai gekom en in die wildernis kamp opgeslaan. Yisra’el het daar voor die berg kamp opgeslaan.
3Mosheh het opgeklim na God toe en יהוה het uitgeroep na hom van die berg af en gesê: “So moet jy vir die huis van Ya’akov sê en aan die seuns van Yisra’el vertel:
4Julle het gesien wat Ek aan die Mitzrayimiete gedoen het en hoe Ek julle op arendsvlerke gedra en na My toe gebring het;
5daarom, as julle My stem sal gehoorsaam en My verbond nakom, sal julle ’n spesiale skat vir My bo al die volke wees, want die hele aarde is Myne. 1 Yog 2:3
6Júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n afgesonderde nasie wees. Hierdie is die woorde wat jy vir die seuns van Yisra’el moet sê.” 1 Kefa 2:5,9; Open 5:10; 20:6
7Mosheh het gekom en die oudstes van die volk laat roep en hulle al hierdie woorde voorgehou wat יהוה hom beveel het.
8Die hele volk het saam geantwoord en gesê: “Alles wat יהוה gesê het, sal ons doen.” Mosheh het die woorde van die volk teruggevat na יהוה toe.
9יהוה het met Mosheh gepraat: “Let op, Ek kom na jou toe in ’n dik wolk sodat die volk kan hoor as Ek met jou praat en jou vir altyd vertrou.” Toe het Mosheh die woorde van die volk aan יהוה oorgedra.
10יהוה het ook vir Mosheh gesê: “Gaan na die volk toe en sonder hulle vandag en môre af en laat hulle hul klere was
11en gereed wees vir die derde dag, want op die derde dag sal יהוה voor die oë van die hele volk op die berg Sinai afkom.
12Jy moet ook vir die volk grense rondom stel en sê: ‘Pas op dat julle nie op die berg klim of sy voet aanraak nie. Elkeen wat die berg aanraak, sal sekerlik doodgemaak word.’
13Geen hand mag aan hom raak nie, maar hy moet gestenig word met klippe of met ’n pyl geskiet word; of dit ’n dier of ’n mens is; hy mag nie lewe nie. As die ramshoring ’n lang geluid blaas, mag hulle opgaan na die berg.”
14Mosheh het van die berg af na die volk toe gegaan en die volk afgesonder en hulle het hul klere gewas.
15Hy het vir die volk gesê: “Wees gereed vir die derde dag; moenie by julle vrouens kom nie.”
16Dit het op die derde dag, met die breek van die dag, gebeur dat daar harde stemme en weerlig en ’n swaar wolk op die berg was en die klank van ’n baie harde ramshoring sodat die hele volk wat in die kamp was, gebewe het.
17Mosheh het die volk uit die kamp uitgelei om God te ontmoet en hulle het gaan staan by die voet van die berg. Hand 2:1-3
18Die hele berg Sinai was in rook omdat יהוה in ’n vuur daarop afgekom het. Sy rook het opgetrek soos die rook van ’n hoogoond en die hele berg het vreeslik geskud.
19Toe die klank van die ramshoring aangehou het en uitermate harder geword het, het Mosheh gepraat en God het hom met ’n harde stem geantwoord.
20יהוה het afgekom op die berg Sinai, op die top van die berg en יהוה het Mosheh na die top van die berg geroep en Mosheh het opgegaan.
21יהוה het vir Mosheh gesê: “Gaan af, waarsku die volk dat hulle nie moet deurbreek om יהוה te sien en baie van hulle doodgaan nie.
22Laat ook die priesters wat naby יהוה kom, hulleself afsonder sodat יהוה nie teen hulle uitbreek nie.”
23Mosheh sê vir יהוה: “Die volk kan nie op die berg Sinai kom nie, want U het ons self gewaarsku en gesê: ‘Grens die berg af en sonder dit af’.”
24יהוה sê vir hom: “Gaan. Gaan af en kom weer terug, jy en Aharon saam met jou, maar die priesters en die volk mag nie deurbreek na יהוה toe nie sodat Hy nie teen hulle uitbreek nie.”
25Mosheh het na die volk toe afgegaan en met hulle gepraat.
S'ha seleccionat:
Eksodus 19: SPC
Subratllat
Comparteix
Compara
Copia
Vols que els teus subratllats es desin a tots els teus dispositius? Registra't o inicia sessió
©Kopiereg 2025 deur Die Pad van Waarheid tot die Lewe Vertalings Projek.
Kopiereg op die inhoud behoort aan die Lewende, Skepper-God, YHWH, alleen. U is welkom om dit onveranderd te gebruik in enige leer of skrywe, met erkenning: “PWL” “PadWLewe” of “Die Pad van Waarheid tot die Lewe” vertaling.
Geen deel hiervan mag onder enige omstandighede, in enige formaat, verkoop word nie.
Sy Boodskap is gratis.