SEFANJA 3:14-20
SEFANJA 3:14-20 Bybel vir almal (ABA)
Israeliete, julle wat in Jerusalem woon, julle moet juig en bly wees, want die Here het besluit om julle nie te straf nie. Hy het julle vyande gestop en laat teruggaan. Die Koning van Israel, die Here, is by julle. Julle moenie meer bang wees nie. Daardie dag sal hulle vir die mense in Jerusalem sê: “Julle moenie bang wees nie, mense van Jerusalem, julle moenie moedeloos wees nie. Julle God die Here is by julle. Hy is die Groot Soldaat wat julle sal red. Hy is bly en Hy juig oor julle. Hy is lief vir julle en Hy sing oor julle.” Die Here sê: “Ek sal julle mense wat in ander lande is, bymekaarmaak. Hulle kan nie in die ander lande die feeste van die Here vier nie. Hulle kry swaar omdat julle verkeerd gedoen het. Ek sal nou almal straf wat vir julle verdruk het. Ek sal die lam mense help, ook die mense wat moes vlug en op ander plekke moes gaan woon. Die ander mense het gemaak of my volk niks beteken nie, maar nou sal al die mense op die aarde my volk respekteer. Op daardie dag sal Ek hulle bymekaarmaak en terugbring. Al die volke op die aarde sal hulle respekteer. Hulle sal self sien, dit sal goed gaan met hulle.”
SEFANJA 3:14-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Jubel, o dogter van Sion, juig, o Israel! Verheug jou en jubel van ganser harte, o dogter van Jerusalem! Die HERE het jou oordele opgehef, jou vyand weggeveeg; die koning van Israel, die HERE is by jou, jy sal geen kwaad meer vrees nie. In dié dag sal aan Jerusalem gesê word: Vrees nie, o Sion, laat jou hande nie slap hang nie! Die HERE jou God is by jou, 'n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel. Die wat bedroef is, ver weg van die fees, versamel Ek; hulle hoort by jou, die smaad druk swaar op hulle. Kyk, in dié tyd sal Ek met al jou verdrukkers handel; en die wat kreupel is, sal Ek red; en die wat verjaag is, versamel; en Ek sal hulle maak tot 'n lof en tot 'n roem wie se skande oor die hele aarde was. In dié tyd sal Ek julle aanbring, ja, in die tyd wanneer Ek julle versamel; want Ek maak julle tot 'n roem en tot 'n lof onder al die volke van die aarde, wanneer Ek voor julle oë julle lot verander, sê die HERE.
SEFANJA 3:14-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Sing, Sion! Juig, Israel! Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem! Die Here het 'n einde gemaak aan jou straf, Hy het jou vyande laat padgee. Die Koning van Israel, die Here, is by jou; jy hoef geen ramp meer te vrees nie. Daardie dag sal daar vir Jerusalem gesê word: Moenie bang wees nie, Sion, moenie jou hande moedeloos laat hang nie! Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou: Ek maak dié bymekaar wat treur, ver van die feestelikheid af, dié wat uit jou uit kom en ter wille van jou die smaad gedra het. Ek gaan nou optree teen almal wat jou verdruk het, Ek gaan die kreupeles help, die verstrooides bymekaarmaak en die vernedering wat hulle moes ondergaan, in eer verander, in roem oor die hele aarde. Wanneer die tyd daar is, laat Ek julle kom, maak Ek julle bymekaar en gee Ek aan julle roem en eer onder al die volke op aarde; dit is die tyd wanneer Ek julle lot verander, julle sal dit met julle eie oë sien, sê die Here.
SEFANJA 3:14-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jubel van vreugde, dogter van Sion, roep dit uit, Israel! Verbly en verheug jou met jou hele hart, dogter van Jerusalem! Die HERE het die oordele oor jou afgewend, jou vyande uit die weg geruim. Die Koning van Israel, die HERE, is in jou midde; jy sal geen onheil meer vrees nie. Op daardie dag sal vir Jerusalem gesê word: “Moenie vrees nie, Sion; Moenie dat jou moed jou begewe nie. Die HERE jou God is in jou midde, 'n held wat verlos. Hy verheug Hom met blydskap oor jou, Hy maak jou stil met sy liefde. Hy sal oor jou juig met jubelkrete.” “Die getreur by die fees sal Ek van jou af wegneem, dit is 'n las op jou, 'n skande. Kyk, Ek sal dan afreken met almal wat jou in daardie tyd verdruk het. Ek sal die verlamdes verlos, en hulle wat uitmekaar gejaag is, bymekaar maak. Ek sal hulle roem en aansien gee in elke land waar hulle verneder is. In daardie tyd sal Ek julle laat kom, terselfdertyd sal Ek julle bymekaarmaak. Ja, Ek sal vir julle onder al die nasies op aarde aansien en roem gee wanneer Ek julle lot voor julle oë verander,” sê die HERE.
SEFANJA 3:14-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Sing, o dogter van Sion! jubel, o Israel! wees bly en juig met die hele hart, o dogter van Jerusalem! Die HERE het jou oordele weggeneem, jou vyand verdryf; die koning van Israel, die HERE, is in jou midde; jy sal geen onheil meer sien nie. In dié dag sal aan Jerusalem gesê word: Wees nie bevrees nie, en aan Sion: Laat jou hande nie slap lê nie. Die HERE jou God is in jou midde; hy sal red, hy sal oor jou jubel met blydskap; hy sal rus in sy liefde, hy sal jubel oor jou met sang. Ek sal die wat bedroef is oor die feestyd bymekaarmaak, wat uit jou is, vir wie die smaad daarvan 'n las was. Kyk, in dié tyd sal Ek alles ongedaan maak wat jou verdruk, en die wat stilstaan, sal Ek red en die verdrywe versamel; en Ek sal hulle lof en roem verkry in elke land waar hulle beskaamd is. In dié tyd sal Ek jou terugbring, ook in die tyd wat Ek jou versamel; want Ek sal jou 'n naam en 'n lof maak onder al die volke van die aarde as Ek jou gevangenskap voor jou oë omkeer, spreek die HERE.
SEFANJA 3:14-20 Die Boodskap (DB)
Die mense van Israel moet hulle blydskap wys deur te sing en te juig. Elkeen se hart moet oorloop van blydskap en vreugde. Die Here sal hulle nie langer straf nie. Hy jaag ook al hulle vyande weg. Die Here is die koning van Israel en Hy bly by hulle. Hulle hoef daarom vir niks meer bang te wees nie. Die tyd het gekom dat Jerusalem se mense nie langer bang of moedeloos hoef te wees nie, want die Here is by hulle. Die Here is soos ’n held wat hulle kom red en hulle wenners maak. As Hy aan hulle dink, raak Hy baie opgewonde en bly. Sy liefde vir hulle maak Hom rustig en laat Hom tevrede voel. Hy sal sommer soos wat hulle by ’n fees maak, hardop sing om te wys dat hulle Hom bly maak. Die Here sê dat Hy al die rampe sal wegvat wat vir hulle swaarkry en hartseer gebring het. Binnekort sal Hy al die mense straf wat Israel se vryheid gesteel het. Die Here sal die hulpelose mense en dié wat uitgestoot is uit die samelewing help. Verder sal Hy ook hulle naam in ere herstel sodat hulle nie meer skaam hoef te wees nie. Die wêreld sal met nuwe oë na hulle kyk en hulle respekteer. Wanneer die tyd kom waarvoor hulle wag, sal die Here sy mense van oral af bymekaarmaak en hulle huis toe bring na hulle land toe. Hy sal sorg dat al die volke van die wêreld hulle ag en met respek behandel. Israel sal self beleef hoe hulle omstandighede vir hulle positief verander en hoe dit weer met hulle goed gaan. Die Here het gesê Hy sal sorg dat dit gebeur!
SEFANJA 3:14-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Sing, Jerusalem! Skree hard, o Israel! Wees bly en juig met oorgawe, dogter van Jerusalem! Die HERE sal julle nie meer straf nie. Hy sal julle vyande verdryf. Die HERE is Koning van Israel. Hy is by julle. Julle hoef nie meer enige rampe te vrees nie. Daardie dag sal vir Jerusalem gesê word: “Moenie bang wees nie, Sion! Moenie moedeloos word nie. Die HERE jou God is by julle. Hy is ’n magtige Verlosser. Hy is buitengewoon bly oor julle. Sy liefde sal julle rustig maak. Met uitroepe van vreugde sal Hy oor julle jubel.” “Dié wat treur, maak Ek bymekaar, ver van die plek van ontmoeting. Dit is hulle wat uit jou voortkom en swaar dra aan die skande. Ek sal in dié tyd afreken met almal wat julle onderdruk het, Ek sal die hulpelose mense help. Ek sal die verstrooides terugbring. Dié wat verneder is in ander lande, hulle naam sal Ek in eer herstel. Op die regte tyd sal Ek julle bymekaarmaak en julle terugbring huis toe. Ek sal sorg dat volke van die wêreld julle weer ag en met respek behandel. Julle sal met julle eie oë sien hoe Ek julle lot verander, sê die HERE!”