Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

SAGARIA 7:8-14 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

SAGARIA 7:8-14 AFR83 (Afrikaans 1983)

Dié woord van die Here het ook tot Sagaria gekom: So het die Here die Almagtige gesê: Laat reg geskied aan almal, bewys liefde en barmhartigheid aan mekaar; moenie die weduwee en die weeskind, die vreemdeling en die arme verdruk nie; moenie bose planne teen mekaar bedink nie. Maar die volk het geweier om daarop ag te slaan, hulle was moedswillig, hulle het hulle doof gehou, hulle het hulle soos die hardste klip gehou en wou nie luister na die wet en na die boodskap wat die Here die Almagtige deur sy Gees, deur die vroeëre profete, gestuur het nie. Daarom was die toorn van die Here die Almagtige so groot. Hy het geroep, maar hulle het nie geluister nie, en toe het die Here die Almagtige gesê: Ek sal ook nie luister as hulle roep nie, Ek sal hulle met 'n stormwind verstrooi onder al die nasies vir wie hulle tot nou toe onbekend was, en agter hulle sal die land so verwoes wees dat niemand meer daar deurtrek nie. Hulle het van 'n pragtige land 'n verwoeste wêreld gemaak.

SAGARIA 7:8-14 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Verder het die woord van die HERE tot Sagaría gekom en gesê: So het die HERE van die leërskare gespreek en gesê: Spreek 'n eerlike vonnis uit en bewys liefde en barmhartigheid die een aan die ander. En moet nie die weduwee en die wees, die vreemdeling en die arme verdruk nie en kwaad in julle hart teenoor mekaar bedink nie. Maar hulle het geweier om te luister en wederstrewig die skouer afgewend en hulle ore toegestop om nie te hoor nie. Ook het hulle hul hart soos 'n diamant gemaak, om nie die wet te verneem nie en die woorde wat die HERE van die leërskare deur sy Gees, deur die diens van die vroeëre profete gestuur het nie. So het daar dan van die HERE van die leërskare 'n groot toorn gekom. Daarom, soos Hy geroep en hulle nie gehoor het nie — so sal hulle roep, maar Ek nie hoor nie, het die HERE van die leërskare gesê. Maar Ek sal hulle wegstorm onder al die nasies wat hulle nie geken het nie, terwyl die land agter hulle verwoes is, sodat niemand meer heen en weer trek nie. So het hulle dan die kostelike land tot 'n wildernis gemaak.

SAGARIA 7:8-14 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Hierdie boodskap het ook van die HERE na Sagaria gekom: “Dit is wat die HERE, die Almagtige, sê: Oordeel regverdig en eerlik in regsake, wees liefdevol en simpatiek met mekaar. Moenie die weduwees, die weeskinders, die vreemdelinge en die armes verdruk nie. Moenie bose planne teen mekaar beplan nie. “Julle voorouers wou nie na hierdie boodskap luister nie. Hulle het hardkoppig weggedraai en hulle vingers in hulle ore gedruk om nie te hoor nie. Hulle het hulle harte so hard soos klip gemaak sodat hulle nie die voorskrifte of die boodskappe wat die HERE, die Almagtige, deur sy Gees aan hulle deur die profete van vroeër gestuur het, gehoor het nie. Daarom was die HERE, die Almagtige, so kwaad vir hulle. “Omdat hulle nie geluister het toe Ek hulle geroep het nie, sal Ek nie luister wanneer hulle na My roep nie, sê die HERE, die Almagtige. Ek sal hulle met ’n stormwind verstrooi onder ver nasies waar hulle as vreemdelinge sal leef. Hulle land het so verlate geword dat niemand eers daardeur reis nie. Die land wat so mooi was, het ’n woestyn geword.”

SAGARIA 7:8-14 DB (Die Boodskap)

Die Here het weer vir Sagaria gebruik om met die volk te praat. Sagaria het vir hulle gesê: Die Here is sterker as alles en almal! Hy sê: “In hofsake moet julle eerlik en regverdig met mense wees. Wees lief vir mekaar en werk mooi met mekaar. Moenie weduwees en kinders sonder ’n ma en pa sleg behandel nie. Julle moet natuurlik ook nie mense wat nie van Israel af kom nie en arm mense sleg behandel nie. Moenie planne maak om mekaar kwaad aan te doen nie.” Julle voorouers wou nie na die Here luister nie. Hulle het gemaak of hulle nie hoor wat die Here sê nie. Hulle hart was so hard soos klip. Die Here het lank gelede al profete gebruik om sy boodskappers te wees. Hy het hulle deur sy Gees laat verstaan wat hulle vir sy volk moes sê. Maar niks wat die Here gesê het, het enige indruk op hulle gemaak nie. Dit het soos water van ’n eend se rug af gerol. Dit is hoekom die Here so kwaad vir hulle is. Die Here sê: “Omdat hulle nie na My wou luister toe Ek met hulle gepraat het nie, daarom het Ek ook nie na hulle geluister toe hulle na My geroep het nie. Soos ’n warrelwind goed rondwaai, het Ek hulle laat rondwaai en uitmekaar laat spat na al die nasies toe. Daar het hulle soos vreemdelinge gebly. Hulle eie land was so verwoes en sonder enige mense dat niemand eens meer daarnatoe wou kom nie. ’n Land wat eers so mooi was, het nou ’n plek geword waar niemand kan of wil bly nie.”

SAGARIA 7:8-14 ABA (Bybel vir almal)

Die Here het vir Sagaria gesê: “Ek, die Here wat oor alles regeer, het daardie tyd gesê: Julle moet reg doen aan mekaar, julle moet lief wees vir mekaar en julle moet goed wees vir mekaar. Julle moenie weduwees en weeskinders verdruk nie, ook nie vreemdelinge en mense wat hulleself nie kan help nie. En julle moenie planne maak om slegte dinge aan mekaar te doen nie. “Maar die mense wou nie luister nie. Hulle was hardkoppig, hulle het hulle ore toegedruk, want hulle wou nie hoor wat Ek sê nie. Hulle harte was so hard soos klippe. Hulle wou nie luister na die wette van die Here nie. Hulle was ongehoorsaam aan die boodskap wat my Gees vir hulle gebring het. Dit is die boodskap wat die profete van daardie tyd vir hulle gebring het. Daarom het Ek, die Here wat oor alles regeer, kwaad geword. “Ek het gesê: Ek het hulle geroep, maar hulle het nie geluister nie. Nou sal Ek nie luister wanneer hulle roep nie. Ek sal 'n stormwind stuur, en die wind sal hulle jaag na ander volke toe, volke wat hulle nie geken het nie. Die vyande sal die land verwoes en niemand sal deur die land gaan nie. Dit was 'n baie mooi land, maar my volk het dit verwoes.”

SAGARIA 7:8-14 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Daarna was die woord van die HERE aan Sagaria: “ So sê die HERE, Heerser oor alle magte, ‘Laat die waarheid seëvier in julle regspraak; betoon troue liefde en barmhartigheid aan mekaar. Moenie weduwees, weeskinders, •vreemdelinge en armes verdruk nie; moenie bose planne in julle harte teenoor mekaar bedink nie.’ ” Maar hulle het geweier om te luister; hulle was halsstarrig. Hulle het hulle ore toegestop sodat hulle nie kon hoor nie. Hulle het hulle harte verhard, so hard soos 'n diamant, sodat hulle nie die wet en die woorde gehoor het wat die HERE, Heerser oor alle magte, deur sy Gees en deur die vroeëre profete gestuur het nie. Daarom was daar van die kant van die HERE, Heerser oor alle magte, 'n baie groot oordeel uit toorn. “ ‘Soos hulle nie geluister het toe daar geroep is nie, so roep hierdie mense en luister Ek nie,’ sê die HERE, Heerser oor alle magte. ‘Ek gaan hulle wegwaai tot tussen al die nasies wat hulle nie geken het nie. Agter hulle sal die land verlate wees; niemand sal daardeur trek of daarheen terugkeer nie. Hulle het van 'n pragtige land 'n verlate plek gemaak.’ ”

SAGARIA 7:8-14 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En die woord van die HERE het tot Sagaria gekom en gesê: So spreek die HERE van die leërskare en sê: Doen 'n ware oordeel en bewys barmhartigheid en medelye, elkeen aan sy broer. En verdruk nie die weduwee of die wees, die vreemdeling of die arme nie; en laat niemand van julle in julle hart onheil teen sy broer bedink nie. Maar hulle het geweier om te luister en die skouer weggetrek en hulle ore toegehou om nie te hoor nie. Ja, hulle het hul harte gemaak soos 'n klip, sodat hulle nie die wet sou hoor en die woorde wat die HERE van die leërskare in sy gees gestuur het deur die vorige profete nie; daarom het 'n groot toorn van die HERE van die leërskare gekom. Daarom het dit gebeur dat soos Hy geroep het, en hulle nie gehoor het nie; daarom het hulle geroep, en Ek wou nie hoor nie, spreek die HERE van die leërskare. Maar Ek het hulle met 'n stormwind verstrooi onder al die nasies wat hulle nie geken het nie. So was die land dan 'n wildernis ná hulle, dat niemand deurgetrek of teruggekeer het nie, want hulle het die lieflike land 'n wildernis gelê.