SAGARIA 14:1-21

SAGARIA 14:1-21 Bybel vir almal (ABA)

Die dag van die Here is baie naby. Alles wat die ander volke gevat het uit Jerusalem, sal terugkom. Die mense in die stad sal besluit wat elkeen moet kry. Die Here sal al die volke bymekaarmaak om oorlog te maak teen Jerusalem. Hulle sal die stad oorwin en hulle sal die goed uit die huise vat en die vroue verkrag. Hulle sal die helfte van die stad se mense vang en wegvat. Die ander helfte van die mense sal in die stad bly. Maar dan sal die Here teen daardie volke oorlog maak soos Hy voorheen gedoen het. Die Here sal daardie dag staan op die Olyf-berg wat oos van Jerusalem is, en die Olyf-berg sal oopskeur. Een helfte van die berg sal beweeg na die noorde toe en die ander helfte sal beweeg na die suide toe. Dan sal daar 'n groot kloof wees, van oos na wes. Die kloof sal wees tot by die stad Asal. Die mense van Jerusalem sal deur die kloof vlug soos hulle gevlug het toe daar 'n aardbewing was in die tyd toe Ussia die koning van Juda was. Dan sal my God die Here kom, en die engele sal saam met Hom kom. Daardie dag sal die son nie in die oggend begin skyn nie, en dit sal nie koud wees nie. Dit sal dag bly, daar sal nie dag en nag wees nie, dit sal altyd lig wees, ook wanneer dit aand is. Die Here weet dat dit sal gebeur. Daardie dag sal daar uit Jerusalem vars water kom. Een helfte van die water sal na die Dooie See vloei en die ander helfte na die Middellandse See. Die water sal vloei in die somer en in die winter. Die Here sal koning wees oor die hele aarde. Hy alleen sal die Here wees, en almal sal net vir Hom aanbid. Die hele land sal 'n gelyk veld word, van die stad Geba tot by die stad Rimmon, suid van Jerusalem. Maar Jerusalem sal hoog op dieselfde plek bly, van die Benjamin-poort tot by die plek waar die eerste poort was, van die Hoek-poort en die Gananel-toring tot by die koning se parskuipe. Die mense van Jerusalem sal veilig daar woon, en die vyande sal nie weer die stad verwoes nie. Die Here sal die volke swaar straf wat oorlog gemaak het teen Jerusalem. Die vleis van hulle liggame sal vrot word terwyl hulle nog lewe, hulle oë sal vrot word in hulle kop, en hulle tonge sal vrot word in hulle monde. Dieselfde sal gebeur met die perde en muile en kamele en donkies, met al die diere wat in die vyande se kamp is. Die Here sal die vyande daardie dag baie deurmekaar maak, hulle sal mekaar gryp en doodmaak. Ook die mense van Juda sal oorlog maak teen Jerusalem. Maar die mense van Jerusalem sal die goed van al die ander volke rondom hulle bymekaarmaak en vat: baie goud en silwer en klere. Die mense van die volke wat oorlog gemaak het teen Jerusalem, sal nie almal dood wees nie. Al die mense wat nog lewe, sal elke jaar na Jerusalem kom en hulle sal buig voor die Koning, die Here wat oor alles regeer. Hulle sal ook die Hutte-fees vier. As die mense uit al die lande op die aarde nie na Jerusalem kom om te buig voor die Koning nie, dan sal hulle lande nie reën kry nie. Hy is die Here wat oor alles regeer. As die mense van Egipte nie kom nie, dan sal die Here hulle straf soos Hy al die ander volke straf wat nie gekom het om die Hutte-fees te vier nie. So sal die Here die mense van Egipte en al die ander volke straf as hulle nie kom om die Hutte-fees te vier nie. Hulle sal nie reën kry nie. Daardie dag sal die mense skryf op die klokkies aan die perde se tuie. Hulle sal skryf: “ Gewy aan die Here.” Die potte in die tempel sal gewy wees, soos die bakke by die altaar. Al die potte in Jerusalem sal gewy wees aan die Here wat oor alles regeer. Almal wat wil offer, sal kom en hulle sal party van die potte vat. Hulle sal die vleis vir die ete-offers in die potte kook. Daar sal nie weer iemand in die tempel wees wat goed koop en verkoop nie.

SAGARIA 14:1-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

KYK, daar kom 'n dag vir die HERE; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem! Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie. En die HERE sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot 'n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide. En julle sal vlug in die dal van my berge — want die dal van die berge sal loop tot by Asal — en julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussía, die koning van Juda. Dan sal die HERE my God kom, al die heiliges met U! En in dié dag sal daar geen lig wees nie, die sterre sal duister wees. En dit sal 'n enige dag wees wat aan die HERE bekend is — geen dag en geen nag nie; maar teen die aand sal dit lig word. En in dié dag sal daar lewende waters uit Jerusalem uitvloei, die een helfte daarvan na die Oostelike en die ander helfte daarvan na die Westelike See; somer en winter sal dit so wees. En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die HERE een wees, en sy Naam een. Die hele land sal soos die Vlakte word, van Geba tot by Rimmon, suid van Jerusalem; maar Jerusalem self sal hoog wees en woon op sy plek, van die poort van Benjamin af tot by die plek van die vorige poort, tot by die Hoekpoort, en van die toring Hanáneël tot by die parskuipe van die koning. En hulle sal daarin woon, en daar sal geen banvloek meer wees nie, en Jerusalem sal in veiligheid woon. En dit sal die plaag wees waarmee die HERE al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond. En in dié dag sal 'n groot verwarring van die HERE onder hulle kom, sodat die een die hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen die hand van die ander. En Juda sal ook in Jerusalem veg, en die rykdom van al die nasies rondom sal ingesamel word: goud en silwer en klere — 'n groot hoeveelheid. En soos hierdie plaag is, sal die plaag wees van die perde, die muile, die kamele en die esels en van al die diere wat in daardie laers is. En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die HERE van die leërskare, en om die huttefees te vier. En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die HERE van die leërskare, te aanbid nie — hulle sal geen reën kry nie. En as die geslag van Egipte nie optrek en nie kom nie, op wie geen reën sal val nie, dan sal tog die plaag hulle tref waarmee die HERE die nasies tref wat nie opgaan om die huttefees te vier nie. Dit sal die straf van Egipte wees en die straf van al die nasies wat nie optrek om die huttefees te vier nie. In dié dag sal op die klokke van die perde staan: Heilig aan die HERE! En die potte in die huis van die HERE sal wees soos die komme voor die altaar. Ja, al die potte in Jerusalem en Juda sal aan die HERE van die leërskare heilig wees; en almal wat wil offer, sal kom en daarvan neem en daarin kook; en in dié dag sal daar geen Kanaäniet in die huis van die HERE van die leërskare meer wees nie.

SAGARIA 14:1-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die dag van die Here kom. Wat in jou buitgemaak is, Jerusalem, sal binne-in jou verdeel word. Ek sal al die nasies bymekaarmaak vir 'n oorlog teen Jerusalem. Die stad sal ingeneem word, die huise sal geplunder word en die vrouens verkrag word. Die een helfte van die stad se inwoners sal in ballingskap gaan, maar die ander helfte sal nie uit die stad verwyder word nie. Daarna sal die Here teen daardie nasies gaan oorlog maak net soos op die dag toe Hy destyds die oorlog gevoer het. Daardie dag sal sy voete op die Olyfberg staan, oos van Jerusalem. Die Olyfberg sal middeldeur skeur en daar sal 'n groot kloof van oos na wes ontstaan. Een helfte van die berg sal na die noorde toe padgee en die ander helfte suide toe. Julle sal deur die kloof in my berg vlug, want die kloof sal strek tot by Asal. Julle sal vlug soos julle vir die aardbewing gevlug het in die tyd van koning Ussia van Juda. Dan sal die Here my God kom, en al die hemelwesens sal by jou wees. Daardie dag sal daar nie lig wees of koue of ryp nie. Dit sal 'n besondere dag wees. Wanneer dit sal wees, weet net die Here. Daar sal nie dag of nag wees nie: as dit aand word, sal daar steeds lig wees. Daardie dag sal daar 'n vars stroom water uit Jerusalem vloei, een helfte na die see in die ooste toe en een helfte na die see in die weste toe, somer en winter. Die Here sal koning wees oor die hele land. Daardie dag sal die Here die enigste God wees, en sy Naam die enigste Naam. Die hele land, van Geba af tot by Rimmon suid van Jerusalem, sal soos die Jordaanvallei word. Jerusalem sal gelig word daar waar hy nou is, hy sal hoog lê, van die Benjaminpoort af tot waar die poort vroeër was, tot by die Hoekpoort en die Gananeltoring, tot by die koning se wynkuipe. Daar sal mense woon, en die stad sal nie weer verwoes word nie. Jerusalem sal 'n veilige woonplek wees. Die Here gaan al die volke wat teen Jerusalem oorlog maak, met 'n groot ramp tref: hulle vleis sal wegvrot terwyl hulle nog lewe, hulle oë sal wegvrot in hulle oogkaste, hulle tonge sal wegvrot in hulle monde. Daardie dag sal die Here die mense paniekbevange laat raak: die een sal die ander aan die hand gryp en hom aanval. Selfs Juda sal teen Jerusalem veg. Die rykdomme van al die nasies rondom sal bymekaargemaak word: goud, silwer en klere in groot hoeveelhede. Dieselfde ramp wat die mense tref, sal ook die perde tref, die muile, die kamele, die donkies, al die diere wat in die kampe van die vyande is. Al die mense wat oor is uit die volke wat teen Jerusalem opgetrek het, sal jaar na jaar kom om die Koning, die Here die Almagtige, te aanbid en om die huttefees te vier. Geen volk op aarde wat nie na Jerusalem toe kom om die Koning, die Here die Almagtige, te aanbid nie, sal reën kry nie. En as die Egiptenaars nie kom nie, sal die Here hulle met dieselfde ramp tref as die ander nasies wat nie kom om die huttefees te vier nie. Dit sal die straf wees vir Egipte en vir al die nasies wat nie kom om die huttefees te vier nie. Daardie dag sal daar op die klokkies aan die perde se tuie staan: “Gewy aan die Here”, en die potte in die huis van die Here sal net soos die offerkomme by die altaar wees. Elke pot in Jerusalem en Juda sal aan die Here die Almagtige gewy wees. Die mense wat kom offer, sal van die potte vat en vleis in hulle kook. Daardie dag sal daar in die huis van die Here die Almagtige geen handelaar meer wees nie.

SAGARIA 14:1-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Kyk, daar kom 'n dag van die HERE! Jou buit, Jerusalem, sal in jou midde verdeel word. Ek sal al die nasies vir die oorlog teen Jerusalem byeenbring. Die stad sal ingeneem word, die huise geplunder en die vroue verkrag word. Die helfte van die stad sal in ballingskap weggaan, maar die res van die volk sal nie uit die stad uitgeroei word nie.” Daarna sal die HERE optrek en teen daardie nasies oorlog voer soos wanneer Hy veg op die dag van stryd. Op daardie dag sal sy voete staan op die Olyfberg, wat voor Jerusalem aan die oostekant lê. Die Olyfberg sal middeldeur skeur van oos na wes, 'n baie groot vallei sal ontstaan. Die een helfte van die berg sal verskuif na die noorde en die ander helfte na die suide. Julle sal vlug na die vallei tussen my berge, want die vallei tussen die berge sal tot by Asal strek. Julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussia, die koning van Juda. Dan sal die HERE my God kom en al die heiliges sal saam met Hom wees. Op daardie dag sal daar nie lig wees nie, ook nie koue of ryp nie. Dit sal 'n uitsonderlike tyd wees wat net aan die HERE bekend is, sonder dag of nag. Teen die aand sal dit lig word. In daardie tyd sal daar vars water uit Jerusalem vloei, die een helfte na die oostelike see en die ander helfte na die westelike see. In die somer en in die winter sal dit so wees. Die HERE sal koning word oor die hele aarde. In daardie tyd sal die HERE die enigste wees, en sy Naam die enigste. Die hele land sal verander word soos die Araba vanaf Geba tot by Rimmon suid van Jerusalem. Jerusalem sal egter uittroon; sy sal gevestig wees op haar plek: van die Benjaminpoort tot by die plek van die vroeëre poort en tot by die Hoekpoort, en van die Gananeltoring tot by die koning se kuipe. Hulle sal daar woon. Daar sal nie meer 'n volledige vernietiging wees nie; Jerusalem sal veilig gevestig wees. Dit sal die plaag wees waarmee die HERE al die volke sal tref wat teen Jerusalem optrek: Hy sal hulle liggame laat verrot terwyl hulle nog op hulle voete is; hulle oë sal verrot in hulle oogkaste, en hulle tonge sal verrot in hulle monde. Op daardie dag sal die HERE groot verwarring onder hulle veroorsaak. Hulle sal die een die ander se hand gryp en die een teen die ander die hand lig. Selfs Juda sal teen Jerusalem veg. Die rykdom van al die nasies rondom hulle sal bymekaargemaak word: baie groot hoeveelhede goud, silwer en klere. So sal dieselfde plaag die perde, muile, kamele, donkies en al die ander diere wat in hulle kampe is, tref. Almal wat oorbly uit al die nasies, wat opgeruk het om teen Jerusalem oorlog te maak, sal jaar ná jaar optrek om voor die Koning, die HERE, Heerser oor alle magte, in aanbidding neer te buig en om die Huttefees te vier. En oor diegene onder die familiegroepe van die aarde wat nie optrek na Jerusalem om voor die Koning, die HERE, Heerser oor alle magte, in aanbidding neer te buig nie, sal geen reën val nie. As die familiegroep uit Egipte nie optrek en na Jerusalem kom nie, sal daar oor hulle nie reën val nie. Dit sal die plaag wees waarmee die HERE die nasies tref wat nie opgaan om die Huttefees te vier nie. Dit sal die straf wees vir Egipte en die straf vir al die nasies wat nie optrek om die Huttefees te vier nie. Op daardie dag sal op die klokkies van die perde staan “Heilig vir die HERE”, en die kookpotte in die huis van die HERE sal soos die offerbakke voor die altaar wees. Elke kookpot in Jerusalem en Juda sal heilig wees vir die HERE, Heerser oor alle magte. Almal wat wil offer, sal kom en van die kookpotte neem en daarin kook. Daar sal op daardie dag nie meer 'n handelaar in die huis van die HERE, Heerser oor alle magte, wees nie.

SAGARIA 14:1-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Kyk, die dag van die HERE kom, en jou buit sal in jou midde verdeel word. Want Ek sal al die nasies teen Jerusalem versamel om te veg; en die stad sal ingeneem word en die huise geplunder en die vroue onteer word; en die helfte van die stad sal in ballingskap uitgaan, en die oorblyfsel van die volk sal nie uit die stad uitgeroei word nie. Dan sal die HERE uittrek en teen daardie nasies veg, soos toe Hy geveg het op die dag van oorlog. En sy voete sal in dié dag staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant, en die Olyfberg sal in die middel daarvan kloof na die ooste en na die weste, en daar sal 'n baie groot dal wees; en die helfte van die berg sal wegtrek na die noorde en die helfte daarvan na die suide. En julle sal vlug na die dal van die berge; want die dal van die berge sal reik tot by Asal, ja, julle sal vlug soos julle gevlug het voor die aardbewing in die dae van Ussia, die koning van Juda, en die HERE my God sal kom, en al die heiliges saam met jou. En in dié dag sal die lig nie helder of donker wees nie; Maar dit sal een dag wees wat aan die HERE bekend sal wees, nie dag of nag nie; maar dit sal gebeur dat dit in die aand lig sal wees. En in dié dag sal lewende waters uit Jerusalem uitgaan; die helfte van hulle in die rigting van die vorige see en die helfte van hulle na die agtersee; in die somer en in die winter sal dit wees. En die HERE sal koning wees oor die hele aarde: in dié dag sal daar een HERE wees, en sy Naam een. Die hele land sal verander word soos 'n vlakte van Geba af tot by Rimmon suid van Jerusalem; en dit sal verhef word en in sy plek bewoon word, van die poort van Benjamin af tot by die plek van die eerste poort, tot by die Hoekpoort en van die toring af van Hananeel tot by die parskuipe van die koning. En mense sal daarin woon, en daar sal geen algehele vernietiging meer wees nie; maar Jerusalem sal veilig bewoon word. En dit sal die plaag wees waarmee die HERE al die volke sal tref wat teen Jerusalem geveg het; Hulle vlees sal verteer terwyl hulle op hulle voete staan, en hulle oë sal verteer in hulle gate, en hulle tong sal wegvreet in hulle mond. En in dié dag sal 'n groot rumoer van die HERE onder hulle wees; en hulle sal elkeen aan die hand van sy naaste gryp, en sy hand sal opstaan teen die hand van sy naaste. En Juda sal ook in Jerusalem veg; en die rykdom van al die nasies rondom sal versamel word, goud en silwer en klere, in groot menigte. En so sal die plaag wees van die perde, van die muil, van die kameel en van die esel en van al die diere wat in hierdie tente sal wees, soos hierdie plaag. En elkeen wat oorbly van al die nasies wat teen Jerusalem opgetrek het, sal van jaar tot jaar optrek om die Koning, die HERE van die leërskare, te aanbid en die huttefees te vier. En elkeen wat nie uit al die geslagte van die aarde na Jerusalem optrek om die Koning, die HERE van die leërskare te aanbid nie, sal ook op hulle geen reën kry nie. En as die geslag van Egipte nie optrek en nie kom nie, wat geen reën het nie; daar sal die plaag wees waarmee die HERE die nasies sal tref wat nie optrek om die huttefees te vier nie. Dit sal die straf van Egipte wees en die straf van al die nasies wat nie optrek om die huttefees te vier nie. In dié dag sal daar op die klokkies van die perde wees: HEILIG AAN DIE HERE; en die potte in die huis van die HERE sal wees soos die komme voor die altaar. Ja, elke pot in Jerusalem en in Juda sal heilig wees aan die HERE van die leërskare; en almal wat offer sal kom en daarvan neem en daarin kook; en in dié dag sal daar geen Kanaäniet meer wees in die huis van die HERE van die leërskare.

SAGARIA 14:1-21 Die Boodskap (DB)

Neem kennis, Jerusalem, daar kom ’n dag dat die Here straf sal uitdeel. Op dié dag sal alles wat jy het, gevat word en voor jou oë verdeel word. In dié tyd sal die Here al die nasies bymekaarmaak om oorlog teen Jerusalem te maak. Hulle sal die stad inneem en die goed in die huise steel. Erger nog, hulle sal die vroue in Jerusalem onsedelik aanrand. Hulle sal die helfte van die stad se mense uit die land wegvat. Die ander helfte sal in die stad kan bly. Die Here sal dan optrek en teen die nasies baklei soos Hy al in die verlede gedoen het. In dié spesifieke tyd sal die Here op die Olyfberg staan, oos van Jerusalem. Wanneer dit gebeur, sal die Olyfberg middeldeur skeur. Die een helfte sal noord padgee en die ander helfte suid. Dit sal maak dat daar ’n groot kloof sal wees wat van oos na wes loop. Julle sal deur hierdie kloof in die berg ontsnap en tot so ver as die sykant van die berg kan gaan. Julle sal moet vlug net soos julle vroeër in koning Ussia van Juda se tyd vir die aardbewing moes vlug. Dan sal die Here wat my God is, kom en al die hemelwesens saam met Hom. Daardie dag sal daar nie lig of koue of ryp wees nie. Dit sal ’n snaakse dag wees, want die daglig sal nie ophou nie. Net die Here weet wanneer dit sal wees. Daar sal nie gewone dag of nag wees nie. Al word dit aand, sal dit nog steeds lig bly. In dié tyd sal daar vars water uit Jerusalem vloei. Die een helfte van die water sal in die rigting van die Dooie See loop en die ander helfte na die Middellandse See toe. Die water sal dwarsdeur die winter en die somer aanhou loop. Die Here sal koning wees oor die hele wêreld. Daardie dag sal almal weet dat Hy die enigste God is. Sy Naam sal die enigste Naam wees wat genoem word. Die hele gebied rondom Jerusalem sal oop en uitgestrek lê. Na die noorde toe sal dit lê tot by Geba en na die suide tot so ver as Rimmon. In die middel van hierdie gebied sal Jerusalem hoog uitstaan soos vroeër. Die stad sal lê van die Benjaminingang af tot by die plek waar die ou hek was. Dan verder tot by die Hoekingang en van die Gananeltoring tot by die plek waar die koning se wyn gemaak word. Die mense sal in Jerusalem kom bly en veilig voel, want die stad sal nie weer verwoes word nie. Die Here sal ’n verskriklike siekte laat uitbreek onder al die nasies wat teen Jerusalem baklei het. Hulle liggame sal begin vrot terwyl hulle nog leef. Dieselfde sal gebeur met hulle oë en hulle tonge. In dié tyd sal die Here ’n vreeslike angs die mense laat beetpak. In die deurmekaarspul sal hulle mekaar gryp en mekaar slaan. Selfs die mense van Juda sal by Jerusalem teen die vyand baklei. Die rykdom van die volke in die omgewing sal afgevat word. Op dié manier sal groot hoeveelhede goud, silwer en klere bymekaargebring word. Dieselfde vreeslike siekte wat die mense oorgekom het, sal ook die perde, muile, kamele, donkies en watter ander diere daar ook al in die vyand se kampe is, besmet. Wat na alles sal gebeur, is dat die vyande van Jerusalem wat nie van die siekteplaag dood is nie, elke jaar na die stad toe sal terugkom. Wanneer hulle kom, sal dit wees om eer te kom bewys aan die Koning, die Here wat sterker as almal en alles is. Hulle sal ook kom om die fees te vier waar daar altyd hutte van takke gebou word. As daar enige volk êrens op aarde is wat nie na Jerusalem toe wil kom om die Here, die Koning, te kom vereer nie, sal dit nie by hulle reën nie. En as die mense van Egipte nie na die fees toe wil kom nie, sal die Here hulle straf. Dieselfde vreeslike siekte sal hulle aantas wat ander nasies getref het wat geweier het om Hom te kom dien. Die mense van Egipte sal saam met die ander volke gestraf word as hulle nie die fees van die hutte wil kom vier nie. In dié tyd sal daar selfs op die klokkies aan die perde se tuie geskryf staan: “Spesiaal bedoel vir die Here.” Die potte wat in die tempel van die Here gebruik word om in te kook, sal net so belangrik wees as die potte wat by die offeraltaar gebruik word. Wat sal gebeur, is dat elke kookpot in Jerusalem en Juda gebruik sal word in diens van die Here. Enige mens wat sal kom om die Here te eer sal hierdie potte mag gebruik om hulle offervleis in te kook. Daar sal in hierdie tyd ook nie meer mense wees wat in die tempel van die Here koop en verkoop nie. Hy is die Here wat sterker is as alles en almal.

SAGARIA 14:1-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Kyk, die Dag van die HERE kom wanneer al jou besittings reg voor jou geplunder gaan word. Op daardie dag sal Ek al die nasies bymekaarmaak om teen Jerusalem oorlog te maak. Die stad sal ingeneem word, die huise geplunder en die vroue sal verkrag word. Die helfte van die stad se inwoners sal in ballingskap gaan en die ander helfte sal oorleef tussen die ruïnes van die stad. Dan sal die HERE oorlog voer teen daardie nasies, net soos Hy in die verlede gedoen het. Op daardie dag sal sy voete op die Olyfberg staan, aan die oostekant van Jerusalem. Die Olyfberg sal middeldeur skeur en so sal ’n vallei wat van oos na wes loop, gevorm word, want die een helfte van die berg sal noord skuif en die ander helfte van die berg sal suid skuif. Julle sal deur hierdie vallei vlug, want dit sal tot by Asal strek. Ja, julle sal vlug soos julle vir die aardbewing gevlug het in die tyd van koning Ussia van Juda. Dan sal die HERE my God kom en al die heiliges saam met Hom. Op daardie dag sal daar geen lig wees nie, ook nie koue of ryp nie. Tog sal dit aanhoudend dag wees! Net die HERE weet hoe dit kan gebeur! Daar sal geen normale dag of nag wees nie, want teen die aand se kant sal dit steeds lig wees. Op daardie dag sal daar lewegewende water uit Jerusalem vloei, een deel in die rigting van die Dooie See en ’n ander deel na die Middellandse See, somer en winter sal dit so wees. Die HERE sal koning wees oor die hele aarde. Op daardie dag sal daar een HERE wees en net sy Naam sal aanbid word. Die hele land van Geba af tot by Rimmon, suid van Jerusalem, sal een groot plein word, maar Jerusalem sal gelig word tot sy oorspronklike posisie en sal bewoon word vanaf die Benjaminpoort tot by die plek waar die ou poort was, dan tot by die Hoekpoort, en van die Gananelpoort af tot by die koning se wynperse. Jerusalem sal bewoon word, ’n veilige plek en wat nooit weer vervloek of verwoes sal word nie. Die HERE gaan al die nasies wat teen Jerusalem veg, met ’n plaag tref. Hulle sal soos wandelende lyke word terwyl hulle vleis wegvrot. Hulle oë sal wegkrimp in hulle oogkasse en hulle tonge sal wegvrot in hulle monde. Op daardie dag sal hulle paniekbevange raak. Die HERE sal hulle tref met ’n groot verwarring. Hulle sal mekaar te lyf gaan. Juda sal ook in Jerusalem veg. Die rykdom van al die naburige volke sal bymekaargemaak word, groot hoeveelhede goud en silwer en klere. Dieselfde plaag sal ook die perde, muile, kamele, donkies en al die ander diere in die vyand se kampe tref. Uiteindelik sal die vyande van Jerusalem wat die plaag oorleef het, elke jaar optrek na Jerusalem toe om die Koning, die HERE, die Almagtige, te aanbid en om die Huttefees te vier. Enige nasie iewers in die wêreld wat weier om na Jerusalem te kom om die Koning, die HERE, die Almagtige, te aanbid, sal nie reën kry nie. As die volk van Egipte weier om die fees by te woon, sal die HERE hulle straf met dieselfde plaag waarmee Hy ander nasies wat geweier het om te kom, tref. Egipte en die ander nasies sal almal gestraf word as hulle nie die Huttefees vier nie. Op daardie dag sal daar selfs op die klokke van die perde se tuie geskryf staan: HEILIG VIR DIE HERE. Die potte in die tempel van die HERE sal net so heilig wees as die bakke wat langs die altaar gebruik word. Elke pot in Jerusalem en Juda sal heilig vir die HERE, die Almagtige, wees. Enigiemand wat kom offer, sal vry wees om enige pot te gebruik waarin hulle offers kan kook. Op daardie dag sal daar nie meer handelaars in die tempel van die HERE, die Almagtige, wees nie.