TITUS 3:3-6
TITUS 3:3-6 Bybel vir almal (ABA)
Want voorheen was ons self ook dwaas en ongehoorsaam aan God. Mense het ons maklik verlei. Ons was slawe van baie dinge wat ons graag wou doen, dinge wat lekker is. Ons het lelike dinge gedoen en ons was jaloers op ander mense. Almal het ons gehaat, en ons het mekaar gehaat. Maar God wat vir ons gered het, het toe vir ons kom wys dat Hy baie goed en lief is vir mense. Hy het ons gered, maar Hy het dit nie gedoen omdat óns goeie dinge gedoen het nie. Nee, God het ons gered omdat Hy jammer was vir ons. Hoe het Hy ons gered? Hy het die Heilige Gees gestuur om ons sondes af te was. Hy het ons gemaak soos nuwe mense, Hy het ons gemaak soos mense wat weer gebore is. God het vir Jesus Christus, ons Redder, gestuur om die Heilige Gees vir ons te gee, sodat die Heilige Gees heeltemal oor ons sal regeer.
TITUS 3:3-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want ons was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op 'n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat. Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het — nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser
TITUS 3:3-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat. Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn. Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser.
TITUS 3:3-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want ons was ook voorheen onverstandig, ongehoorsaam, verdwaal, verslaaf aan allerlei begeertes en luste. Ons het in kwaadwilligheid en naywer geleef, ons was haatlik en het mekaar gehaat. Maar toe die goedheid en menseliefde van God, ons Verlosser, verskyn, het Hy ons verlos – nie op grond van werke wat ons uit •geregtigheid gedoen het nie, maar op grond van sy ontferming – by wyse van die afwassing deur die weergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees, wat Hy ryklik oor ons uitgegiet het deur Jesus •Christus, ons Verlosser.
TITUS 3:3-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want ons was self ook soms dwaas, ongehoorsaam, bedrieg, ons het allerhande begeerlikhede en genietinge gedien, in boosheid en afguns gelewe, haatlik en mekaar gehaat. Maar daarna het die goedertierenheid en liefde van God, ons Verlosser, aan die mens verskyn, Nie deur werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing van die Heilige Gees; wat Hy oorvloediglik op ons uitgestort het deur Jesus Christus, ons Verlosser
TITUS 3:3-6 Die Boodskap (DB)
Vroeër het ons ook in dwaasheid geleef. Ons het ons glad nie aan God gesteur nie. Ons was op die verkeerde pad. Die sonde was ons baas. Ons kon eenvoudig nie genoeg daarvan kry nie. Die een afstootlike sonde na die ander was ons kos. Seksuele begeertes het ons vernietig. Haat en geweld was ons meester. Ons het ander mense niks gegun nie. Maar toe gebeur daar ’n wonderwerk: God ons Verlosser het vir ons kom wys hoe lief Hy ons het. Sy goedheid was nie lippetaal nie. Nee, Hy het ons verlos. Hy het dit nie gedoen omdat ons so goed geleef het sodat Hy ons moes verlos nie. Nee, Hy het dit gedoen omdat Hy ons baie jammer gekry het. God het ons heeltemal nuut gemaak. Ons is ’n tweede keer gebore toe ons sy kinders geword het. Toe is al ons sondes afgewas. God het ook deur die Heilige Gees nuwe lewe aan ons gegee. God het ook nie net ’n klein stukkie van die Heilige Gees aan ons gegee nie. Nee, deur die toedoen van Jesus Christus, ons Verlosser, het Hy die Heilige Gees in sy volheid oor ons uitgegiet.
TITUS 3:3-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Eens op ’n tyd was ons ook dwaas en ongehoorsaam. Ons was verlei en verslaaf aan baie begeertes en allerlei bose plesiere. Ons het ons lewens deurgebring in boosheid en jaloesie. Ons was haatlik en het mekaar gehaat. Toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir mense verskyn. Hy het ons verlos, nie op grond van wat ons gedoen het vir ons vryspraak nie, maar slegs op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy vermag deur die reiniging van die weergeboorte en deur die Heilige Gees wat ons vernuwe. Hy het die Gees ryklik op ons uitgestort op grond van wat Jesus Christus ons Verlosser gedoen het.