TITUS 1:6-10
TITUS 1:6-10 Bybel vir almal (ABA)
Niemand moet oor hulle kan praat en sê dat 'n ouderling verkeerde dinge doen nie. 'n Ouderling moet net een vrou hê, en sy kinders moet gelowiges wees. Mense moenie oor hulle kan praat en sê dat die kinders wild lewe en verkeerde en slegte dinge doen en ongehoorsaam is nie. 'n Ouderling werk vir God, daarom moet niemand oor hom kan praat en sê dat hy verkeerde dinge doen nie. Hy moenie dink dat hy beter is as ander mense nie, hy moenie gou kwaad word nie, hy moenie te veel drink en dan dronk word nie, hy moenie daarvan hou om te baklei nie, en hy moenie altyd meer goed wil hê nie. Nee, hy moet goed wees vir vreemdelinge, hy moet daarvan hou om goeie dinge te doen, hy moet weet hoe om reg te lewe, hy moet doen wat reg is, hy moet aan God gewy wees en hy moenie sy humeur verloor en kwaad word nie. 'n Ouderling moet aanhou om die boodskap te glo, die boodskap wat waar is en wat dieselfde is as die boodskap wat die apostels vir hom geleer het. Dan sal hy vir mense kan bemoedig. En wanneer mense ander dinge sê as die dinge wat ons vir hulle geleer het, dan sal hy ook vir hulle kan sê dat hulle verkeerd is. Daar is baie mense wat opstandig is, hulle praat oor dinge wat niks beteken nie en hulle wil hê die mense moet dit glo. Baie van die mense wat so praat, is Jode wat nou in Christus glo.
TITUS 1:6-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
as iemand onberispelik is, die man van een vrou, gelowige kinders het wat nie beskuldig word van losbandigheid of tugteloos is nie. Want 'n opsiener moet as 'n rentmeester van God onberispelik wees, nie eiesinnig, nie oplopend, geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie; maar gasvry, een wat die goeie liefhet, ingetoë, regverdig, heilig, een wat homself beheers; een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê. Want daar is baie wat tugteloos is, wat onsin praat en verleiers is, veral die wat uit die besnydenis is
TITUS 1:6-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Ouderling moet onberispelik van gedrag wees; hy moet aan sy vrou getrou wees, en sy kinders moet gelowig wees en nie die naam hê dat hulle losbandig lewe en teen gesag in opstand kom nie. 'n Ouderling is immers 'n bestuurder van die huishouding van God. Daarom moet hy onberispelik van gedrag wees, nie aanmatigend en opvlieënd nie, nie 'n dronkaard of 'n rusiemaker of 'n soeker na oneerlike wins nie. Hy moet gasvry wees, lief vir wat goed is, verstandig, regverdig, vroom en selfbeheers. Hy moet vashou aan die betroubare woord waarin hy onderrig is. Dan sal hy in staat wees om ander met die gesonde leer aan te moedig en die argumente van teenstanders te weerlê. Daar is baie, veral onder die bekeerlinge uit die Jodedom, wat in opstand kom teen gesag, wat onsin praat en mense verlei.
TITUS 1:6-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit moet iemand wees wat onberispelik is, 'n man met een vrou, en met gelowige kinders, wat nie van losbandige gedrag beskuldig kan word, of opstandig is nie. Want 'n opsiener moet, as bestuurder oor die huishouding van God, onberispelik wees: nie eiesinnig of humeurig nie, iemand wat nie te veel drink of skoorsoekerig is of oneerlike wins najaag nie, maar gasvry, lief vir die goeie, verstandig, regverdig, toegewyd en selfbeheersd. Hy moet hom hou aan die betroubare woord, in ooreenstemming met die lering, sodat hy deur die gesonde leer kan bemoedig, en ook hulle wat dit teengaan, verkeerd kan bewys. Want daar is baie opstandiges, praatjiesmakers, en mense wat ander mislei, veral onder hulle wat besny is
TITUS 1:6-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
As iemand onberispelik is, die man van een vrou, met getroue kinders wat nie van oproer of onregverdigheid beskuldig word nie. Want 'n biskop moet onberispelik wees as 'n rentmeester van God; nie eiesinnig nie, nie gou kwaad nie, nie aan wyn gegee nie, geen slager, nie aan vuil wins gegee nie; Maar 'n liefhebber van gasvryheid, 'n liefhebber van goeie mense, nugter, regverdig, heilig, ingetoë; Hou vas aan die betroubare woord soos Hy geleer is, sodat hy in staat kan wees om deur die gesonde leer die teësprekers te vermaan sowel as te oortuig. Want daar is baie oproerige en ydele sprekers en bedrieërs, veral dié van die besnydenis.
TITUS 1:6-10 Die Boodskap (DB)
’n Kerkleier se ganse lewe moet wys dat hy die Here ken. Hy moet getrou wees aan sy vrou. Sy kinders moet die Here dien. Hulle moenie van die een wilde partytjie na die ander hardloop en teen hulle ouers opstandig raak nie. Onthou, ’n ouderling staan aan die stuur van God se familie van gelowiges hier op aarde. Sy ganse lewe moet daarom vertel dat hy doen wat die Here sê. Hy moenie vol van homself wees nie, ook nie kort van draad en humeurig nie. Drank mag nooit sy baas wees nie. Hy moenie net regstaan om te stry en baklei nie. Ook mag hy glad nie in skelm saketransaksies betrokke wees nie. Sy huis en hart moet altyd oopstaan vir ander gelowiges, al ken hy hulle nie. Dit moet vir hom ’n groot vreugde wees om goeie dinge vir ander te doen. Hy moet nugter en beheersd wees. In alle omstandighede moet hy reg optree. Hy moet leef soos die Here wil hê. Hy moet homself goed kan beheer sodat die sonde geen houvas op sy lewe kry nie. Die Here se Woord waarin hy self onderrig is, moet die anker van sy lewe wees. Dan kan hy hierdie betroubare kennis gebruik om ander gelowiges moed in te praat en te troos. Maar hy moet hierdie kennis ook gebruik om mense wat vals leerstellings verkondig te wys dat hulle verkeerd is. Daar is baie mense wat in opstand is teen die gesag van die Here. Dis veral diegene wat vroeër aan die Joodse geloof behoort het wat nou die grootste klomp kaf praat. Boonop beïnvloed hulle baie ander mense om dit te glo.
TITUS 1:6-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
’n Ouderling moet gerespekteer wees vir sy goeie lewe. Hy moet getrou wees aan sy vrou, en sy kinders moet gelowiges wees wat nie wild of opstandig is nie. As bestuurder van God se huishouding moet ’n ouderling ’n onberispelike lewe lei. Hy moenie arrogant of humeurig wees nie; hy moet hom ook nie aan drank vergryp of gewelddadig of geldgierig wees nie. Hy moet gasvry wees en alles wat goed is, liefhê. Hy moet met wysheid lewe en regverdig wees. Hy moet ’n toegewyde en gedissiplineerde lewe lei. Hy moet ’n sterk en standvastige geloof hê in die betroubare boodskap wat hy geleer is; dan sal hy in staat wees om ander met die gesonde onderrig te bemoedig en dié wat dit teenstaan, te wys waar hulle verkeerd is. Want daar is baie wat opstandig is teen die regte onderrig; hulle is praatjiesmakers en mislei mense. Dit is veral waar van dié uit die Jodedom.