TITUS 1:5-9

TITUS 1:5-9 Die Boodskap (DB)

Ek het jou vroeër op die eiland Kreta agtergelaat. Dit was met ’n spesifieke doel. Ek wil hê jy moet sorg dat sake in die verskillende gemeentes reg en goed georganiseer is. Verder moet jy ook in die verskillende dorpe ouderlinge aanstel soos ek vir jou gesê het. ’n Kerkleier se ganse lewe moet wys dat hy die Here ken. Hy moet getrou wees aan sy vrou. Sy kinders moet die Here dien. Hulle moenie van die een wilde partytjie na die ander hardloop en teen hulle ouers opstandig raak nie. Onthou, ’n ouderling staan aan die stuur van God se familie van gelowiges hier op aarde. Sy ganse lewe moet daarom vertel dat hy doen wat die Here sê. Hy moenie vol van homself wees nie, ook nie kort van draad en humeurig nie. Drank mag nooit sy baas wees nie. Hy moenie net regstaan om te stry en baklei nie. Ook mag hy glad nie in skelm saketransaksies betrokke wees nie. Sy huis en hart moet altyd oopstaan vir ander gelowiges, al ken hy hulle nie. Dit moet vir hom ’n groot vreugde wees om goeie dinge vir ander te doen. Hy moet nugter en beheersd wees. In alle omstandighede moet hy reg optree. Hy moet leef soos die Here wil hê. Hy moet homself goed kan beheer sodat die sonde geen houvas op sy lewe kry nie. Die Here se Woord waarin hy self onderrig is, moet die anker van sy lewe wees. Dan kan hy hierdie betroubare kennis gebruik om ander gelowiges moed in te praat en te troos. Maar hy moet hierdie kennis ook gebruik om mense wat vals leerstellings verkondig te wys dat hulle verkeerd is.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid