TITUS 1:10-16

TITUS 1:10-16 Bybel vir almal (ABA)

Daar is baie mense wat opstandig is, hulle praat oor dinge wat niks beteken nie en hulle wil hê die mense moet dit glo. Baie van die mense wat so praat, is Jode wat nou in Christus glo. Jy moet hulle keer sodat hulle nie daardie verkeerde stories vertel nie. Want wanneer hulle vir mense dinge leer wat hulle nie vir hulle moet leer nie, dan maak hulle die mense in party huisgesinne heeltemal deurmekaar, mense wat in Christus glo. Hulle doen hierdie dinge om geld te kry, en dit is 'n skande. Een van die mense van Kreta het soos 'n profeet gepraat. Hy het gesê: Die mense van Kreta lieg altyd, hulle is soos gevaarlike diere, hulle wil altyd eet en hulle is lui. Hierdie man het die waarheid gepraat. Daarom moet jy reguit vir hulle sê dat hulle dinge doen wat verkeerd is. Jy moet dit doen sodat hulle die regte dinge kan glo. Hulle moet ophou om te luister na die Jode se stories wat nie waar is nie. Hulle moet ook nie luister na ander mense wat vir hulle sê wat hulle moet doen nie. Hulle moet ophou om te luister na daardie mense, want dit is mense wat self nie meer wil luister na die waarheid nie. Alles is rein vir mense wat net vir God dien. Maar party mense dink verkeerde dinge, hulle gedagtes is vuil van die sonde, en hulle glo nie in Christus nie, niks is rein vir hulle nie. Hulle kan nie reg dink nie en hulle weet nie wat is reg of verkeerd nie, want die sonde het alles wat hulle dink, vuil laat word. Hulle sê vir almal dat hulle vir God ken, maar die dinge wat hulle doen, wys dat hulle nie vir Hom ken nie. God haat daardie mense, want hulle luister nie na Hom nie en hulle kan nie iets doen wat goed is nie.

TITUS 1:10-16 Die Boodskap (DB)

Daar is baie mense wat in opstand is teen die gesag van die Here. Dis veral diegene wat vroeër aan die Joodse geloof behoort het wat nou die grootste klomp kaf praat. Boonop beïnvloed hulle baie ander mense om dit te glo. Julle moet hulle so gou moontlik stilmaak en hulle leuens stopsit, want hulle keer omtrent al wat huis is met hulle vals praatjies om. Hulle doen dit om onskuldige mense se geld in die hande te kry. Hierdie spul se skelmstreke laat my dink aan wat een van hulle eie profete gesê het: “Die klomp wat op Kreta bly, is heeltemal onbetroubaar. Hulle is so onbeheerbaar soos wilde diere. Hulle is ’n klomp luiaards wat niks wil doen nie en hulleself heeltyd ooreet.” Hoe reg was hy nie! Daardie mense wat die goeie nuus verdraai, moet jy asseblief vasvat. Sê hard en duidelik vir hulle dat hulle op die verkeerde pad is. Dalk maak dit hulle oë oop sodat hulle reg in God kan begin glo. Hulle moet al daardie Joodse bygelowe en storietjies van hulle laat staan. Hulle hou hulle nog altyd besig met mensgemaakte reëls en wette wat glad nie die waarheid is nie. As die Here ’n mens vrygemaak het, hoef jy nie meer al die wette en reëls van daardie mense te gehoorsaam nie. Hierdie mense en ander ongelowiges is die gevangenes van hulle selfgemaakte “godsdiens”. Hulle kom dit nie eens agter nie, want hulle gedagtes is in die mag van die sonde. Hulle sondige geaardheid maak dat hulle verkeerd dink. Hulle maak asof hulle God ken, maar hulle lieg. Want wat hulle doen, sê iets heeltemal anders. Hulle vang die verskriklikste dinge aan. Hulle luister glad nie na wat God sê nie. Hierdie mense doen nie ’n enkele ding wat sy hart bly maak nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid