HOOGLIED 8:1-14
HOOGLIED 8:1-14 Bybel vir almal (ABA)
“Ek wens jy was my broer, ek wens jy het ook aan my ma se bors gedrink. As ek jou dan buite in die straat gekry het, dan sou ek jou gesoen het, en niemand sou gedink het dit is verkeerd nie. Ek sou jou na my ma se huis gebring het, en jy sou vir my geleer het van die liefde. Ek sou jou laat drink het van my kruiewyn, van my granaatsap. Sy linker-arm is onder my kop, sy regter-arm is om my lyf. Vroue van Jerusalem, julle moet vir my belowe dat julle ons nie sal wakker maak en nie sal pla nie. Hoekom wil julle ons wakker maak? Ons is lief vir mekaar en ons sal self besluit wat om te doen.” Die vroue sê: “Wie is hierdie vrou wat uit die woestyn kom en wat vashou aan die arm van die man vir wie sy lief is?” Sy sê: “Ek het jou wakker gemaak onder die appelboom, daar is jy gebore, daar het jou ma die pyn gevoel, en daar is jy gebore. Jy moet my soos 'n seëlring teen jou bors druk, soos 'n seëlring om jou arm, want die liefde is so sterk soos die dood, dit is so sterk soos die doderyk, dit is 'n vuur wat warm brand. Baie water kan nie die liefde laat ophou nie, riviere kan dit nie wegspoel nie. 'n Mens kan nie liefde koop nie. As iemand alles wat hy in sy huis het, wil gee om liefde te koop, dan sal mense dink hy is baie dom, hulle sal vir hom lag.” Die broers sê: “Ons suster is nog klein, sy het nog nie groot borste nie. Wat kan ons doen vir ons suster wanneer 'n man haar eendag wil hê? As sy 'n muur was, dan kon ons 'n toring van silwer op haar gebou het, as sy 'n deur was, dan kon ons haar toegemaak het met seder-planke.” Sy sê: “Ek ís 'n muur, en my borste is soos torings, ek maak die man vir wie ek lief is, gelukkig, en daarom word ek vir hom soos iemand wat hy oorwin het.” Hy sê: “Salomo het 'n wingerd gehad in Baäl-Hamon, en hy het sy wingerd vir mense gegee, hulle moes dit oppas. Elkeen moes 1 000 stukke silwer betaal vir die druiwe. Ek pas self my wingerd op. Salomo, jy kan jou 1 000 stukke silwer hou, en ook die 200 stukke silwer wat die mense moet kry wat die druiwe oppas.” Hy sê: “Jy wat in die tuin woon, jou vriende wag om te hoor wat jy sê. Ek wil hoor wat jy vir my sê.” Sy sê: “Man vir wie ek lief is, jy moet gou maak. Jy moet hardloop soos 'n gasel of soos 'n jong takbok op die Balsem-berge.”
HOOGLIED 8:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
AG, was u maar vir my soos 'n broer wat aan die borste van my moeder drink! As ek u daar buite vind, ek sou u kus; en tog sou hulle my nie verag nie. Ek sou u lei, ek sou u bring in die huis van my moeder; sy sou my leer; ek sou u laat drink van die gekruide wyn, van my granaatmos. Laat sy linkerarm onder my hoof wees en sy regterarm my omhels. Ek besweer julle, dogters van Jerusalem: Waarom wil julle wakker maak en waarom wil julle opwek die liefde voordat dit die liefde behaag? Wie is dit wat daar opkom uit die woestyn, wat leun op haar beminde? Onder die appelboom het ek u opgewek. Daar was u moeder in barensweë oor u, daar was sy in barensweë wat u voortgebring het. Dra my soos 'n seëlring op u hart, soos 'n seëlring op u arm; want liefde is sterk soos die dood, die liefdes-ywer is hard soos die doderyk, sy gloed is 'n gloed van vuur, 'n vlam van die HERE. Groot waters kan die liefde nie uitblus en riviere dit nie oorstroom nie; al gee 'n man ook al die goed van sy huis vir die liefde, hulle sou hom diep verag. Ons het 'n klein sustertjie wat nog nie borste het nie; wat moet ons met ons suster maak dié dag as sy gevra word? As sy 'n muur is, sal ons 'n silwerrand daarop bou, en as sy 'n deur is, sal ons dit met 'n sederplank toeslaan. Ek is 'n muur, en my borste soos torings: toe het ek in sy oë geword soos een wat vrede vind. Salomo het 'n wingerd in Baäl-Hamon gehad; hy het die wingerd aan die oppassers oorgegee; elkeen moes vir sy vrugte duisend sikkels silwer inbring. My wingerd, myne, is hier voor my, die duisend sikkels is vir u, Salomo, en tweehonderd vir die wat sy vrugte bewaak. U wat in die tuine woon — vriende luister na u stem; laat my dit hoor. Vlug, my beminde, en maak soos die gemsbok of die jong takbok op die balsemberge.
HOOGLIED 8:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Was jy maar my broer! Het jy ook maar aan my ma gedrink! Dan het ek jou gesoen as ek jou in die straat kry en niemand sou my daaroor kwalik geneem het nie. Dan het ek jou saamgevat en na my ma se huis toe gebring en het jy my daar die kuns van die liefde geleer. Dan het ek jou laat drink van my kruiewyn, van my granaatsap. “Sy linkerarm is onder my kop, sy regterarm omhels my! Ek smeek julle, vroue van Jerusalem, wat is dit dat julle die liefde wakker maak en aanvuur voordat die tyd daarvoor ryp is?” “Wie is dit wat daar uit die woestyn uit kom terwyl sy leun op die man wat sy liefhet?” “Ek het jou wakker gemaak onder 'n appelboom, daar waar jou ma swanger geword het, waar sy wat jou in die wêreld gebring het, swanger geword het. Hou my teen jou soos die seëlring op jou bors, soos die seëlring aan jou arm. Die liefde is sterker as die dood, die hartstog magtiger as die doderyk; dit brand en vlam soos vuur. Strome water kan die liefde nie blus nie, riviere kan dit nie afkoel nie. Al wil iemand vir die liefde al die rykdom in sy huis betaal, hy sal daaroor uitgelag word.” “Ons suster is nog klein, haar borste is nog nie ontwikkel nie. Wat kan ons vir ons suster doen die dag as hulle om haar hand begin meeding? As sy 'n muur was, het ons op haar 'n silwertoring gebou, as sy 'n deur was, het ons haar toegemaak met sederplanke.” “Ek is 'n muur, en my borste is soos torings. Daarom is ek vir die man wat ek liefhet iemand wat hom gelukkig maak.” “Salomo het 'n wingerd gehad in Baäl-Hamon. Hy het die wingerd aan wagte toevertrou. Iemand sou vir die opbrengs goed elf duisend gram silwer wou gee. My wingerd is myne alleen. Hou maar die silwer, Salomo, en sit daar twee duisend gram by vir dié wat die opbrengs bewaak. Jy wat in die tuin woon en na wie se stem jou vriende luister, laat my jou stem hoor!” “Hardloop, man wat ek liefhet, maak soos die ribbok, soos die takboklam op die kruieberge!”
HOOGLIED 8:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Was jy maar vir my soos 'n broertjie wat aan my ma se borste drink. As ek jou buite teëkom en soen, sou niemand my kwalik neem nie. Ek sou jou lei, jou na my ma se huis neem, sy wat my geleer het. Ek sou vir jou kruiewyn gee om te drink, die sap van my granate. Sy linkerarm is onder my kop, sy regterarm omhels my. Meisies van Jerusalem, ek besweer julle: Moenie die liefde aanwakker nie, moet dit nie opwek nie, voordat dit nie self wil ontwaak nie. Wie is dit wat daar uit die woestyn kom aan die arm van haar liefste? Onder die appelboom laat ek jou ontwaak: Daar het jou ma met jou swanger geraak, daar het sy wat swanger was jou in die wêreld gebring. Dra my soos 'n rolseël teen jou hart, soos 'n rolseël aan jou arm; want liefde is kragtig soos die dood, hartstog meedoënloos soos die •doderyk – die liefdesgloed is 'n vlammende vuur, 'n verterende vlam. Baie water kan die liefde nie blus nie, riviere kan dit nie wegspoel nie. As iemand alles in sy huis aanbied in ruil vir liefde, sal hy diep verag word. Ons het 'n jong sustertjie, nog sonder borste. Wat sal ons vir ons sustertjie doen die dag wanneer om haar hand gevra word? As sy 'n muur is, sal ons 'n silwerverskansing op haar bou; en as sy 'n deur is, sal ons haar met sederplanke afsper. Ek is 'n muur, en my borste soos torings; toe word ek vir hom soos 'n stad wat vrede aanbied. Salomo het 'n wingerd besit by Baäl-Hamon. Hy het opsigters aangestel wat duisend silwerstukke vir die vruggebruik moes betaal. My eie wingerd is voor my. Die duisend silwerstukke is vir jou, Salomo, en tweehonderd vir hulle wat die vrugte oppas. O, jy wat in die tuine vertoef, met vriende wat na jou stem luister – laat mý dit hoor! Glip weg, my liefste! Wees soos 'n ribbok of 'n jong rooitakbok op die heuwels vol speserye.
HOOGLIED 8:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ag, was jy soos my broer, wat die borste van my moeder gesuig het! as ek jou daarbuite sou vind, sou ek jou soen; ja, ek moet nie verag word nie. Ek sou jou lei en jou in die huis van my moeder bring, wat my sou onderrig: Ek sou jou laat drink van speserye van die sap van my granaatjie. Sy linkerhand moet onder my kop wees, en sy regterhand moet my omhels. Ek besweer julle, dogters van Jerusalem, dat julle my liefde nie opwek en my liefde nie wakker maak totdat Hy dit behaag nie. Wie is dit wat uit die woestyn opkom en op haar beminde leun? Ek het jou onder die appelboom laat opstaan; daar het jou moeder jou gebaar; daar het sy jou gebaar wat jou gedra het. Stel my soos 'n seël op u hart, soos 'n seël op u arm, want die liefde is sterk soos die dood; jaloesie is wreed soos die doderyk: sy kole is kole van vuur wat 'n sterk vlam het. Baie waters kan die liefde nie uitblus nie, en die waterstrome kan dit nie oorweldig nie; Ons het 'n klein suster, en sy het geen borste nie; wat moet ons met ons suster doen op die dag as daar van haar gepraat word? As sy 'n muur is, sal ons 'n silwerpaleis daarop bou; en as dit 'n deur is, sal ons haar omsluit met sederplanke. Ek is 'n muur en my borste soos torings; toe was ek in sy oë soos 'n gunsgenoot. Salomo het 'n wingerd by Baäl-Hamon gehad; hy het die wingerd aan wagters uitgegee; elkeen vir die vrugte daarvan moes duisend sikkels silwer bring. My wingerd, wat myne is, is voor my; jy, Salomo, moet duisend hê, en die wat die vrugte daarvan bewaar, twee honderd. U wat in die tuine woon, die metgeselle luister na u stem; laat my dit hoor. Maak gou, my geliefdes, en word soos 'n gemsbok of 'n jong takbok op die berge van speserye.
HOOGLIED 8:1-14 Die Boodskap (DB)
Was jy tog maar vir my ’n broer en iemand wat ook aan my ma gedrink het. As ek jou dan in die straat gekry het, kon ek jou soen en niemand sou iets sê nie. Ek sou jou dan na my ma se huis toe geneem het en daar kon jy my van die liefde leer. En ek sou jou ’n slukkie van my kruiewyn gee en jou van my granaatlikeur laat drink het. Jou een arm sal onder my kop rus en met die ander sal jy my omhels. Vroue van Jerusalem, beloof my om my tog nie in die liefdespel te steur nie. Wie kom daar hand aan hand uit die woestyn met haar geliefde aan? Onder die appelboom het ek jou bemin. Op die plek waar jy gebore is en waar jou ma jou met pyn in die wêreld gebring het, het ek jou liefgehad. Gee my die enigste plek in jou hart. Dra my binne-in jou soos ’n mens ’n seëlring aan jou arms dra. Liefde is sterker as die dood en die liefdesdrang sterker as die doderyk. Die gloed van warm liefde gloei soos ’n groot vuur. Geen water kan die liefdesgloed demp nie en riviere kan dit nie blus nie. Elkeen wat liefde met geld en besittings wil koop, word verwerp. Ons het ’n kleinsus wie se borsies nog klein is. Wat sal ons doen as iemand met haar wil trou? As sy standvastig is, sal ons haar help en as sy ligsinnig is, sê ons sommer net “Nee!” Ek is deugsaam en my borste is vol. My liefling weet ek is gelukkig by hom. Salomo het ’n wingerd in Baäl-Hemon en verhuur dit aan boere wat elk 1 000 silwerstukke betaal. Salomo, my wingerd is mooi en is myne alleen. Hou maar jou wingerd en duisende silwer. Vir jou werkers gee ek selfs nog 200 meer. My liefste, jy is êrens in die tuin waar jou vriende na jou luister. Laat ek ook tog jou stemmetjie hoor wat sê: Kom, my liefling, kom gou na my. Wees snel soos die ribbok en rats soos ’n takbok se lam op die kruieberge.
HOOGLIED 8:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Was jy nou maar net my broer! Het jy ook maar aan my ma gedrink, dan kon ek sonder skaamte jou soen as ek jou buite teëkom. Ek kon jou dan bring na my ma se huis, sy wat my kon leer hoe om lief te hê. Ek sou jou laat drink van my kruiewyn, van my soet granaatwyn. Sy linkerarm is onder my kop. Met sy regterarm omhels hy my. “Belowe my, vroue van Jerusalem, dat julle nie die liefde sal aanblaas voordat die tyd daarvoor ryp is nie.” “Wie kom daar uit die woestyn terwyl sy leun op haar beminde?” “Onder die appelboom het ek jou opgewek, daar waar jou ma jou in die wêreld gebring het, waar sy met pyn aan jou geboorte gegee het. Hou my vas teen jou, soos die seëlring op jou bors, soos die seëlring aan jou vinger. Liefde is so sterk soos die dood. Liefdesdrif so magtig soos die doderyk. Dit brand soos ’n vuurvlam wat alles verteer. ’n Stroom water kan die liefde nie blus nie. Riviere kan dit nie wegspoel nie. Selfs al wil iemand liefde koop met alles wat hy besit, sal hy net uitgelag word.” “Ons sussie is nog baie jonk. Borste het sy nog nie. Wat gaan ons doen die dag as iemand vra om met haar te trou? As sy ’n muur was, het ons ’n silwertoring rondom haar gebou. As sy ’n deur was, het ons haar afgehok met sederplanke.” “Ek is ’n muur. My borste is al soos torings. My beminde is tevrede met my. “Salomo besit ’n wingerd in Baäl-Hamon. Hy huur dit uit aan mense wat die wingerd bewerk. Daarvoor betaal hulle hom elkeen 11 000 gram silwer. Maar ek werk alleen in my wingerd. Salomo, hou maar die 11 000 gram silwer vir jouself en gee 2 200 gram silwer vir die mense wat in die wingerd werk.” “Jy wat in die tuine woon, jou vriende luister na jou stem. Laat my ook jou stem hoor!” “Maak gou, my liefling. Kom na my toe so vinnig soos ’n ribbok, soos ’n jong takbok in die kruieberge!”