RUT 2:14-17 - Compare All Versions
RUT 2:14-17 ABA (Bybel vir almal)
Toe dit tyd was om te eet, sê Boas vir Rut: “Kom eet saam met ons. Neem vir jou van die brood en druk dit in die wyn.” Sy het toe kom sit by die mense wat die gars afsny, en Boas het vir haar gebraaide koring gegee. Sy het genoeg geëet en daar was nog koring oor. Toe sy weer begin om are op te tel, het Boas vir sy werkers gesê: “Sy kan ook are optel tussen die gars-gerwe, en julle moenie vir haar pla nie. Julle moet ook are uit die gerwe trek en dit laat val sodat sy dit kan optel, en julle moenie met haar raas nie.” Rut het tot die aand are opgetel, en toe sy die are wat sy opgetel het, uitslaan om die korrels uit te haal, was dit 'n groot mandjie vol.
RUT 2:14-17 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
En teen etenstyd het Boas vir haar gesê: Kom hierheen en eet van die brood en steek jou stukkie in die asyn. Daarop gaan sy langs die snyers sit, en hy het haar gebraaide koring gegee, en sy het geëet en versadig geword en oorgehou. Toe sy weer opstaan om are op te tel, het Boas sy dienaars bevel gegee en gesê: Sy mag ook tussen die gerwe optel, en julle mag haar nie beledig nie. En julle moet ook so nou en dan vir haar uit die bondels uittrek en dit laat lê, dat sy dit kan optel; en julle mag haar nie keer nie. En sy het op die land opgetel tot die aand; en toe sy uitslaan wat sy opgetel het, was dit omtrent 'n efa gars.
RUT 2:14-17 AFR83 (Afrikaans 1983)
Toe dit etenstyd was, sê Boas vir haar: “Kom hierheen en eet 'n stukkie brood en doop dit in die wynsous.” Sy het toe by die snyers gaan sit, en Boas het vir haar gebraaide koring gegee. Nadat sy genoeg geëet het en selfs oorgehou het, het sy opgestaan om weer te gaan are optel. Boas het sy werkers toe beveel: “Sy mag selfs tussen die gerwe are optel en julle mag haar nie pla nie; julle moet ook van die are uit die gerwe haal en dit op die grond laat val. Sy mag dit optel sonder dat julle haar daaroor aanspreek.” Rut het tot die aand toe are opgetel in die land. En toe sy uitslaan wat sy opgetel het, was dit ongeveer dertien kilogram.
RUT 2:14-17 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Teen etenstyd sê Boas vir haar: “Kom hier, kom eet van die brood. Doop jou stukkie in die asyn.” Sy het langs die snyers gaan sit en hy het vir haar gebraaide koring aangebied. Sy het geëet totdat sy versadig was en selfs nog daarvan oorgehou. Toe sy opstaan om weer te gaan are optel, het Boas sy werkers opdrag gegee en gesê: “Sy mag ook tussen die hopies optel. Julle mag haar nie verneder nie! Julle moet selfs vir haar are uit die bondels uittrek en dit laat lê sodat sy dit kan optel. Julle mag nie met haar raas nie!” Rut het tot die aand are opgetel in die land. Sy het uitgeslaan wat sy opgetel het: Dit was ongeveer 'n efa gars.
RUT 2:14-17 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En Boas sê vir haar: Kom jy hier met etenstyd en eet van die brood en doop jou stukkie in die asyn. En sy het by die maaiers gaan sit, en hy het by haar gebraaide koring gekom, en sy het geëet en genoeg geword en weggegaan. En toe sy opstaan om op te tel, het Boas sy jongmanne bevel gegee en gesê: Laat sy selfs tussen die gerwe optel en haar nie smaad nie. En laat ook van die handevol opsetlikes vir haar val en hulle verlaat, dat sy dit kan optel en haar nie kan bestraf nie. Sy het toe in die land opgetel tot die aand toe en uitgeslaan wat sy opgetel het, en dit was omtrent 'n efa gars.
RUT 2:14-17 DB (Die Boodskap)
Met etenstyd het Boas vir Rut geroep en gesê: “Kom eet saam met ons. Vat gerus ook van die brood en doop dit in die wynsous om jou dors weg te vat.” Sy het toe by die werkers gaan sit en Boas het vir haar gebraaide koring gegee. Toe sy klaar geëet het, was daar genoeg oor om saam te vat huis toe. Toe Rut weg is om verder te gaan werk, het Boas vir sy werkers gesê: “Laat haar toe om ook tussen die gerwe koringare op te tel. Moenie haar keer om dit te doen nie. Julle moet ook so nou en dan van die are uit die bondels uittrek en dit spesifiek vir haar los sodat sy dit kan optel. Moenie dit moeilik maak vir haar nie.” Rut het tot die aand toe are op die land opgetel. Toe sy later die are uitslaan om die graan en die halms te skei, was daar omtrent tien kilogram graan.
RUT 2:14-17 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Teen etenstyd laat roep Boas haar: “Kom hiernatoe en eet van ons brood en doop dit in die suur wyn.” Sy het toe saam met die werkers gaan sit. Boas het vir haar geroosterde koring gegee – meer as wat sy kon eet. Toe Rut weg is om weer te gaan are optel, sê Boas vir sy werkers: “Julle moet haar toelaat om are tussen die gerwe op te tel sonder dat sy gepla word. Trek ook van die are uit die gerwe uit en laat dit met opset op die grond val sodat sy dit kan optel. Moenie haar keer om dit op te tel nie.” Rut het die hele dag lank are opgetel en toe sy dit die aand uitslaan, was dit omtrent ’n halwe mandjie vol.