RUT 1:19-22
RUT 1:19-22 Bybel vir almal (ABA)
Naomi en Rut het verder geloop totdat hulle in Betlehem gekom het. Almal in die stad was opgewonde. Die vroue het gevra: “Is dit regtig Naomi?” Maar Naomi het vir die mense gesê: “Julle moet my nie Naomi noem nie, julle moet my nou ‘Bitter’ noem, want die Almagtige God het my lewe vir my baie bitter gemaak. Ek het hier weggegaan met baie, maar die Here het my met niks laat terugkom. Die Here, die Almagtige God, het my laat swaarkry, Hy het dit sleg laat gaan met my.” So het Naomi teruggekom uit die land Moab, en Rut, haar Moabitiese skoondogter, het saam met haar gekom. Hulle het in Betlehem gekom toe die mense begin het om die gars af te sny.
RUT 1:19-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En hulle twee het op pad gegaan totdat hulle in Betlehem gekom het. En toe hulle in Betlehem kom, het die hele stad oor hulle in opskudding geraak, en die vroue het gesê: Is dit Naómi? Toe antwoord sy hulle: Noem my nie Naómi nie: noem my Mara, want die Almagtige het my baie bitterheid aangedoen. Vol het ek weggetrek, maar leeg het die HERE my laat terugkom. Waarom sou julle my Naómi noem, terwyl die HERE teen my getuig het, en die Almagtige my kwaad aangedoen het? So het Naómi dan teruggekeer en Rut, die Moabitiese, haar skoondogter wat saam met haar uit die veld van Moab teruggekom het; en hulle het in Betlehem gekom in die begin van die gars-oes.
RUT 1:19-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hulle twee is toe saam na Betlehem toe. Met hulle aankoms in Betlehem was daar groot opgewondenheid in die stad, en die vrouens het gesê: “Maar dis mos Naomi!” Hierop het Naomi vir hulle gesê: “Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara , want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het 'n ramp oor my gebring.” So het Naomi uit Moab teruggekom en Rut, haar Moabitiese skoondogter, was by haar. Hulle het in Betlehem aangekom aan die begin van die garsoes.
RUT 1:19-22 Die Boodskap (DB)
Hulle twee is toe saam Betlehem toe. Toe hulle daar kom, was die dorp in rep en roer en die vroue het verbaas gesê: “Maar dis mos Naomi!” “Moenie my Naomi noem nie,” sê sy toe, “noem my eerder Mara (wat bitter beteken), want vandat ons hier weg is tot nou toe het dit bitter swaar met my gegaan. Dit voel vir my of die Almagtige met al sy gewig op my kom druk het en ek nie meer een tree vorentoe kan gee nie. Toe ek hier weg is, was my lewe nog vol. Ek het toe ’n man en kinders gehad, maar die Here het my dolleeg laat terugkom huis toe, sonder my gesin. Hoekom sou julle my dan nog Naomi wil noem? Dit voel vir my of selfs die Here die rug vir my gedraai het; asof die Here vir wie niks onmoontlik is nie, besluit het ek moet maar self verder regkom.” Dit is dan hoe Naomi en haar skoondogter Rut, ’n jong Moabitiese vrou, uit Moab na Betlehem teruggekom het. Hulle het aan die begin van die garsoes daar aangekom.
RUT 1:19-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die twee het toe hulle reis voortgesit na Betlehem toe. Toe hulle in Betlehem aankom, was daar ’n opskudding in die dorp oor hulle aankoms. “Is dit dan nie Naomi nie?” het die vroue gevra. “Moet my nie meer Naomi noem nie,” sê sy vir hulle. “Noem my nou liewer Mara, want die Almagtige het my lewe bitter gemaak. Ek het vol hier weggegaan, maar die HERE het my leeg laat terugkom. Hoekom sal julle my nog Naomi noem as die HERE teen my gedraai het en die Almagtige soveel ellende oor my laat kom het?” So het Naomi uit Moab teruggekom met haar skoondogter Rut, die jong Moabitiese vrou, by haar. Dit was met die begin van die garsoes dat hulle in Betlehem aangekom het.