RUT 1:1-7
RUT 1:1-7 Bybel vir almal (ABA)
Dit was in die tyd toe die leiers oor die Israeliete regeer het. Dit was baie droog in die land Juda, en die mense het niks gehad om te eet nie. 'n Man het weggegaan uit die stad Betlehem in die land Juda en hy het in die land Moab gaan woon. Hy was 'n vreemdeling in Moab. Die man se naam was Elimelek, en sy vrou se naam was Naomi, en sy twee seuns se name was Maglon en Kiljon. Hulle het van Efrat gekom, dit is van Betlehem in Juda. Hulle het in die land Moab gekom en daar gebly. Naomi se man Elimelek het gesterf, en sy en haar twee seuns het oorgebly. Die seuns het getrou met vroue wat Moabiete was. Die een vrou se naam was Orpa, en die ander vrou se naam was Rut. Naomi en haar twee seuns Maglon en Kiljon het omtrent tien jaar in die land Moab gewoon. Toe het haar seuns ook gesterf, en Naomi het alleen oorgebly. Haar man en haar seuns was dood. Toe hoor Naomi die Here was weer goed vir sy volk, Hy het vir hulle reën gegee, en daar was weer kos in hulle land. Sy en haar twee skoondogters het gereedgemaak om terug te gaan uit die land Moab. Sy het weggegaan van die plek waar sy was, en haar twee skoondogters was by haar. Hulle het begin loop om terug te gaan na die land Juda.
RUT 1:1-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN in die dae toe die rigters geregeer het, was daar hongersnood in die land; daarom het 'n man uit Betlehem-Juda weggetrek om as vreemdeling te vertoef in die veld van Moab, hy en sy vrou en sy twee seuns. En die naam van die man was Eliméleg en die naam van sy vrou Naómi en die naam van sy twee seuns Maglon en Giljon, Efratiete, uit Betlehem-Juda, en hulle het gekom in die veld van Moab en daar gebly. En Eliméleg, die man van Naómi, het gesterwe, maar sy met haar twee seuns het oorgebly. En hulle het vir hulle Moabitiese vroue geneem; die naam van die een was Orpa en die naam van die ander Rut; en hulle het daar omtrent tien jaar gebly. En toe Maglon en Giljon altwee sterwe, en die vrou sonder haar twee seuns en haar man oorbly, het sy haar gereedgemaak met haar skoondogters en teruggegaan uit die veld van Moab, want sy het in die veld van Moab gehoor dat die HERE op sy volk ag gegee het deur aan hulle brood te gee. So het sy dan haar woonplek verlaat en haar twee skoondogters saam met haar. Maar toe hulle op pad was om na die land Juda terug te gaan
RUT 1:1-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die tyd van die leiers was daar op 'n keer hongersnood in die land, en 'n man met sy vrou en sy twee seuns het uit Betlehem in Juda weggetrek om 'n heenkome te soek in die gebied van Moab. Die man was Elimelek, sy vrou Naomi, en sy twee seuns Maglon en Kiljon. Hulle was afkomstig uit Efrata in Betlehem in Juda. Hulle het in Moab aangekom en hulle daar gevestig. Toe Naomi se man, Elimelek, sterf, het sy en haar twee seuns alleen agtergebly. Die twee seuns het later getrou met die Moabitiese meisies Orpa en Rut. Naomi en haar seuns het omtrent tien jaar in Moab gebly. Toe haar twee seuns Maglon en Kiljon ook sterf, het sy alleen agtergebly sonder haar seuns en sonder haar man. Toe sy verneem dat die Here vir sy volk uitkoms gebring het deur vir hulle 'n goeie oes te gee, het sy en haar skoondogters klaargemaak om van Moab af terug te gaan. Sy en haar skoondogters het saam vertrek uit die plek waar hulle gebly het, op pad na Juda toe.
RUT 1:1-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die jare toe die rigters nog regeer het, was daar hongersnood in die land. 'n Man van Betlehem in Juda het tydelik in die gebied van Moab gaan bly, hy en sy vrou en sy twee seuns. Die man se naam was Elimeleg, sy vrou se naam was Naomi en sy twee seuns se name was Maglon en Kiljon. Hulle was van die Efrata-familie uit Betlehem in Juda. Hulle het in die gebied van Moab aangekom. Terwyl hulle daar was, is Naomi se man Elimeleg dood, en is sy en haar twee seuns agtergelaat. Hulle het Moabitiese vroue geneem. Die een se naam was Orpa en die ander een se naam was Rut. Hulle het sowat tien jaar daar gebly, toe is ook die twee seuns, Maglon en Kiljon, dood. Die vrou het alleen agtergebly, sonder haar twee kinders en sonder haar man. Sy het toe gereedgemaak om met haar skoondogters terug te keer uit die gebied van Moab, want sy het daar in die gebied van Moab gehoor dat die HERE na sy volk omgesien het deur vir hulle brood te gee. Sy is toe weg uit die plek waar sy gewoon het, en haar twee skoondogters saam met haar. Op pad terug na die land Juda
RUT 1:1-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dit het gebeur in die dae toe die regters beslis het, dat daar hongersnood in die land was. En 'n sekere man van Betlehem-Juda het gegaan om as vreemdeling in die land Moab te vertoef, hy en sy vrou en sy twee seuns. En die naam van die man was Elimeleg, en die naam van sy vrou Naomi, en die naam van sy twee seuns Maglon en Kiljon, Efratiete van Betlehem-Juda. En hulle het in die land Moab gekom en daar gebly. En Elimeleg, die man van Naomi, het gesterwe; en sy het oorgebly, en haar twee seuns. En hulle het vir hulle vroue geneem uit die vroue van Moab; die naam van die een was Orpa en die naam van die ander Rut; en hulle het daar omtrent tien jaar lank gewoon. Mahlon en Kiljon het ook albei gesterf; en die vrou het oorgebly van haar twee seuns en haar man. Toe het sy haar klaargemaak met haar skoondogters om terug te keer uit die land van Moab; want sy het in die land van Moab gehoor dat die HERE sy volk besoek het deur aan hulle brood te gee. Daarom het sy uitgegaan uit die plek waar sy was, en haar twee skoondogters saam met haar; en hulle het op pad gegaan om terug te keer na die land Juda.
RUT 1:1-7 Die Boodskap (DB)
Baie lank terug, in die tyd van die rigters voor Israel nog ’n koning gehad het, was daar hongersnood in die land. In dié tyd was daar ’n man met die naam Elimeleg. Hy het uit die gebied Efrata in die omgewing van Betlehem in Juda gekom. Hy het sy vrou, Naomi, en hulle twee seuns, Maglon en Kiljon, gevat en ’n tyd lank in die land Moab gaan bly. Terwyl hulle daar gebly het, is Elimeleg dood. Naomi en haar twee seuns het toe alleen in die vreemde land agtergebly. Die twee seuns het met twee Moabitiese meisies, Orpa en Rut, getrou. Omtrent tien jaar later is Maglon en Kiljon ook dood. Naomi was toe sonder enige familie van haar eie in die land Moab. ’n Rukkie later het Naomi, wat nog steeds in Moab gebly het, gehoor dat die Here dit weer beter laat gaan het in Juda en dat daar weer genoeg kos was. Sy en haar skoondogters besluit toe om terug te gaan na haar eie land. Op pad terug Juda toe
RUT 1:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In die tyd toe die rigters in Israel opgetree het, het ’n man uit Betlehem in Juda uit die land weggetrek omdat daar ’n swaar hongersnood in die land was. Hy en sy vrou en twee seuns het in die land Moab gaan woon. Die man se naam was Elimelek en sy vrou was Naomi. Hulle twee seuns se name was Maglon en Kiljon. Hulle was Efratiete uit Betlehem in die land Juda. Hulle het in Moab aangekom. Terwyl hulle daar gewoon het, is Elimelek dood en het Naomi met haar twee seuns agtergebly. Albei seuns het met Moabitiese vroue getrou. Die een se naam was Orpa en die ander een s’n was Rut. Hulle het ongeveer tien jaar lank daar gebly. In hierdie tyd is Maglon en Kiljon ook dood. Naomi het alleen agtergebly, sonder ’n man en sonder seuns. Naomi het daar in Moab gehoor dat die HERE sy volk in Juda met goeie oeste geseën het. Toe het Naomi en haar twee skoondogters klaargemaak om uit Moab na Juda toe terug te trek. Sy en haar skoondogters het uit die plek waar sy gebly het, vertrek op pad terug na Juda toe.