ROMEINE 4:9-13
ROMEINE 4:9-13 Bybel vir almal (ABA)
Wie is die mense wat gelukkig is? Die mense wat besny is, is gelukkig, maar die mense wat nie besny is nie, is ook gelukkig. Want ek het voorheen gesê dat God vir Abraham vrygespreek het omdat hy geglo het. Wanneer het God vir Abraham vrygespreek? Toe Abraham besny was of vóórdat hy besny was? God het vir Abraham vrygespreek voordat Abraham besny is. Abraham het geglo voordat hy besny is. Hy is later besny, en toe was sy besnydenis 'n teken dat God hom vrygespreek het omdat hy glo. Daarom is Abraham die voorvader van al die mense wat nie besny is nie, maar wat glo. God spreek hulle almal vry omdat hulle glo. En Abraham is ook die voorvader van al die mense wat besny is en wat ook glo soos Abraham geglo het voordat hy besny is. God het vir Abraham en sy nageslag belowe dat die wêreld aan hulle sal behoort. God het dit nie belowe omdat Abraham gedóén het wat God se wette sê nie, God het dit belowe omdat Abraham gegló het en omdat God hom toe vrygespreek het.
ROMEINE 4:9-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Hierdie saligspreking dan, sien dit op die besnedenes of ook op die onbesnedenes? Want ons sê: Aan Abraham is die geloof tot geregtigheid gereken. Hoe is dit dan toegereken — toe hy besnede of onbesnede was? Nie as besnedene nie, maar as onbesnedene. En hy het die teken van die besnydenis ontvang as 'n seël van die geregtigheid van die geloof toe hy nog nie besny was nie; dat hy die vader sou wees van almal wat glo terwyl hulle onbesnede is, sodat ook aan hulle die geregtigheid toegereken sou word; en ook 'n vader van die besnydenis vir die wat nie alleen uit die besnydenis is nie, maar ook wandel in die voetstappe van die geloof van ons vader Abraham toe hy onbesnede was. Want die belofte dat hy erfgenaam van die wêreld sou wees, het Abraham of sy nageslag nie deur die wet verkry nie, maar deur die geregtigheid van die geloof.
ROMEINE 4:9-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Het hierdie uitspraak oor wie geseënd is, net betrekking op die besnedenes of ook op die onbesnedenes? Ons sê weer: “Deurdat Abraham geglo het, het God hom vrygespreek.” Wanneer het dit gebeur? Toe hy reeds besny was of toe hy nog onbesnede was? Dit was nie toe hy besnede was nie, maar toe hy nog onbesnede was. Hy het die besnydenis as 'n teken ontvang. Dit is 'n seël wat bewys dat God hom vrygespreek het deurdat hy geglo het toe hy nog onbesnede was. Die doel daarmee was dat hy die vader sou wees van almal wat glo al is hulle nie besny nie. Hulle word dus ook deur God vrygespreek deurdat hulle glo. Ons voorvader Abraham sou ook die vader wees van dié besnedenes wat nie net besny is nie, maar ook glo, soos hy geglo het toe hy nog onbesnede was. Dit is trouens nie omdat Abraham die wet van Moses onderhou het dat aan hom en sy nageslag die belofte gegee is dat hy die wêreld as besitting sal ontvang nie, maar omdat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het.
ROMEINE 4:9-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Is hierdie seën dan net vir die besnedenes, of ook vir die onbesnedenes? Ons sê tog: “Abraham se geloof is vir hom as regverdiging gereken.” Wanneer is dit vir hom toegereken? Toe hy reeds besnede was, of toe hy nog onbesnede was? Nie toe hy besnede was nie, maar toe hy onbesnede was. Hy het die teken van die besnydenis as 'n seël ontvang – 'n seël van die geregtigheid van die geloof wat hy gehad het terwyl hy onbesnede was. So het hy die vader geword van almal wat glo terwyl hulle onbesnede is, sodat dit ook vir hulle as regverdiging toegereken kon word. So het hy ook die vader geword van hulle wat nie bloot besnede is nie, maar wat boonop in die voetspore volg van ons vader Abraham, wat geglo het toe hy nog onbesnede was. Die belofte dat hy die wêreld as erfdeel sou ontvang, het nie deur die wet na Abraham of sy nageslag gekom nie, maar deur die •geregtigheid van die geloof.
ROMEINE 4:9-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Kom hierdie saligheid dan oor die besnedenes, of ook oor die onbesnedenes? want ons sê dat die geloof aan Abraham tot geregtigheid gereken is. Hoe is dit dan bereken? toe hy in die besnydenis of in die onbesnedenheid was? Nie in die besnydenis nie, maar in die onbesnedenheid. En hy het die teken van die besnydenis ontvang, 'n seël van die geregtigheid van die geloof wat hy nog nie besny het nie, sodat hy die vader kan wees van almal wat glo, al is hulle nie besny nie; sodat geregtigheid hulle ook toegereken kan word. En die vader van die besnydenis vir die wat nie alleen uit die besnydenis is nie, maar wat ook wandel in die voetspore van die geloof van ons vader Abraham, wat hy nog onbesnede gehad het. Want die belofte dat hy die erfgenaam van die wêreld sou wees, het nie aan Abraham of sy nageslag deur die wet gekom nie, maar deur die geregtigheid van die geloof.
ROMEINE 4:9-13 Die Boodskap (DB)
Dink jy dat hierdie uitspraak net geld vir mense wat besny is, of ook vir mense wat nie besny is nie? Wel, onthou jy dat ons hier bo gesê het dat Abraham vrygespreek is omdat hy geglo het? Wanneer het dit met hom gebeur? Toe hy klaar besny was, of voor die tyd? Ja, natuurlik, nog voordat hy besny is. Eers nadat Abraham begin glo het, het God aan hom die teken van die besnydenis gegee. Die besnydenis was die amptelike bewys van God se kant dat Abraham vrygespreek is deur sy geloof. So het Abraham die geestelike pa geword van almal wat glo sonder dat hulle die teken van die besnydenis aan hulle liggame dra. Hy is die bewys dat God mense vryspreek op grond van hulle geloof. Natuurlik is Abraham ook die geestelike vader van almal wat besny is; dit wil sê, daardie mense wat nie op hierdie uiterlike teken aan hulle liggame staatmaak om hulle te verlos nie, maar wat, net soos Abraham, al hulle vertroue in God stel. Daardie beroemde belofte wat God aan Abraham gemaak het dat sy nageslag die hele wêreld sal bewoon, het hy nie ontvang omdat hy al God se voorskrifte stiptelik nagekom het nie, maar omdat hy geglo het. Dit is hoekom hy in die regte verhouding met God was.
ROMEINE 4:9-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Geld hierdie uitspraak net vir die Jode, of sluit dit ook die nie-Jode in? Wel, wat dan van Abraham? Ons het tog gesê dat hy deur God vrygespreek is deurdat hy glo. Het hierdie vryspraak plaasgevind nadat hy reeds besny was of terwyl hy nog onbesnede was? Die antwoord is dat God hom reeds tevore, toe hy nog onbesnede was, vrygespreek het en dat hy eers daarna besny is! Die seremonie van die besnydenis was ’n teken, ja, ’n plegtige bekragtiging daarvan dat Abraham alreeds geglo het en deur God vrygespreek is – selfs nog voor sy besnydenis. So het Abraham die geestelike voorvader geword van almal wat glo sonder dat hulle die besnydenis ontvang het en só deur God vrygespreek is. En hy het ook die geestelike voorvader geword van hulle wat besny is, maar net as hulle dieselfde soort geloof het as wat ons vader Abraham gehad het voordat hy besny is. Dit is dus duidelik dat God se belofte om die hele wêreld aan Abraham en sy nasate te gee nie berus het op wetsgehoorsaamheid nie, maar op die nuwe verhouding wat tot stand kom deur die vryspraak deurdat iemand glo.