ROMEINE 3:9-20
ROMEINE 3:9-20 Bybel vir almal (ABA)
Mag ons sê dat ons onskuldig is en dat ons nie sonde doen nie? Nee, nooit nie! Ek het in die begin van hierdie brief gesê dat almal skuldig is. Ek het gesê almal is vol sonde, die Jode én die mense wat nie Jode is nie. In die Ou Testament is daar geskryf: Niemand doen reg nie, nie een nie. Niemand is verstandig nie, niemand vra wat God wil hê nie. Niemand doen wat God wil hê nie, almal doen verkeerde dinge, nie een mens doen goed nie, niemand nie. Hulle sê dinge wat baie sleg is, hulle praat en dan bedrieg hulle ander mense, hulle woorde is so sleg soos die gif van slange. Hulle hou daarvan om mense te vervloek en om slegte dinge te sê. Hulle hou daarvan om mense dood te maak. Hulle breek alles en hulle maak mense baie seer. Hulle hou nie van vrede nie. Hulle respekteer nie vir God nie. Ons weet dat almal wat God se wette ken, moet doen wat die wette sê. Daarom kan niemand sê hy is onskuldig nie. Ja, God moet al die mense in die wêreld straf, want Hy sal niemand vryspreek omdat hy doen wat die wette sê nie. Die wette wys vir ons wat sonde is, die wette wys niks meer nie.
ROMEINE 3:9-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WAT dan? Het ons enige voorrang? Hoegenaamd nie! Want ons het tevore al Jode sowel as Grieke beskuldig dat hulle almal onder die sonde is, soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Hul keel is 'n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe. Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie. Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.
ROMEINE 3:9-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Waarop kom dit neer? Is ons as Jode dan beter as die ander? Glad nie, want ons het al bewys dat Jode en nie-Jode almal in die mag van die sonde is. Daar staan immers geskrywe: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. “Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. “Hulle keel is 'n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange, hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. “Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. Hulle laat 'n spoor van verwoesting en ellende agter. Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie, ontsag vir God het hulle nie. ” Dit weet ons: alles wat Moses se wet sê, sê hy vir dié wat die wet het. Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God. Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer 'n mens wat sonde is.
ROMEINE 3:9-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wat dan? Is ons beter daaraan toe? Hoegenaamd nie! Want ons het alreeds tevore Jode sowel as Grieke daarvan aangekla dat almal onder die sonde is; soos daar geskryf staan: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie; daar is niemand verstandig nie, daar is niemand wat God soek nie. Almal het afgedwaal; saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” “Hulle keel is 'n oop graf; met hulle tonge bedrieg hulle; die gif van adders is op hulle lippe. ” “Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.” “Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is op hulle paaie, en 'n pad van vrede ken hulle nie.” “In hulle oë is daar geen vrees vir God nie.” Ons weet dat alles wat die wet sê, gerig is aan diegene wat onder die wet staan, sodat elke mond die swye opgelê kan word, en die hele wêreld hulle voor God moet verantwoord. Daarom sal geen mens op grond van die uitvoering van die wet voor Hom geregverdig word nie, want juis deur die wet ken ons die sonde.
ROMEINE 3:9-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wat dan? is ons beter as hulle? Nee, geensins nie, want ons het tevore beide Jode en heidene bewys dat hulle almal onder die sonde is; Soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, ook nie een nie; Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat na God soek nie. Hulle het almal uit die pad gegaan, saam het hulle nutteloos geword; daar is niemand wat goed doen nie, ook nie een nie. Hulle keel is 'n oop graf; met hulle tonge het hulle bedrog gebruik; die gif van adders is onder hulle lippe: Wie se mond vol vloek en bitterheid is: Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle weë: En die weg van vrede het hulle nie geken nie: Daar is geen vrees vir God voor hulle oë nie. Nou weet ons dat alles wat die wet sê, dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop kan word en die hele wêreld skuldig kan word voor God. Daarom sal uit die werke van die wet geen vlees voor sy oë geregverdig word nie, want uit die wet is die kennis van sonde.
ROMEINE 3:9-20 Die Boodskap (DB)
Wat dan? Help dit regtig om ’n Jood te wees? Nee, glad nie. Ek het mos vroeër al gesê dat ons almal in die greep van die sonde vasgevang is, of ons nou Jode is of nie. Die Bybel stel dit baie duidelik: “Niemand op aarde leef reg nie, niemand nie, niemand probeer om volgens God se wil te leef nie. Almal het die spoor byster geraak. Hulle het in sonde verval. Niemand doen goed nie, nie ’n enkele een nie. Hulle kele is ’n oop deur na die doderyk toe. Hulle tonge is vol bedrog. Hulle lippe is vol van die dodelikste gif. Elke woord wat hulle sê, is gelaai met bitterheid. Hulle vloek links en regs. Hulle kan nie voorbly om mekaar dood te maak nie. Agter hulle lê ’n spoor van vernietiging en ellende. Hulle weet nie wat dit beteken om in vrede met ander mense te leef nie. Hulle het geen eerbied vir God nie.” Ons weet dat alles wat Moses in die wet gesê het, spesifiek vir mense bedoel is wat onder die gesag van die wet staan. Daarom moet ons stilbly en ophou om so maklik die vinger na ander te wys. Ons almal staan skuldig voor God. Ons wat Jode is moenie dink dat God ons sal vryspreek as ons sy wet probeer gehoorsaam nie. Al wat die wet kan doen, is om vir ons te wys wat sonde is, maar dit help ons glad nie om op te hou verkeerde dinge doen nie.
ROMEINE 3:9-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Waarop kom dit neer? Dat ons wat Jode is, voor God beter is as ander? Hoegenaamd nie! Ons het immers reeds duidelik aangetoon dat die Jode sowel as die nie-Jode almal onder die mag van die sonde verkeer. Dit is soos die Skrif sê: “Niemand is goed nie – selfs nie een nie. Daar is nie een wat verstandig is nie; niemand wat ernstig na God soek nie. Almal het hulle rug op God gekeer; almal het sleg geword. Daar is niemand wat die goeie doen nie – selfs nie een nie.” “Hulle keel is soos ’n geopende graf. Met hulle tonge pleeg hulle bedrog.” “Die gif van dodelike slange drup van hulle lippe.” “Hulle monde is vol vervloeking en bitterheid.” “Hulle is haastig om moord te pleeg. Oral waar hulle gaan, laat hulle verwoesting en ellende agter. Hulle weet nie waar ware vrede lê nie.” “Eerbied vir God speel by hulle geen rol nie.” Ons weet dat die wet van toepassing is op almal wat onder die wet is. Daarom kan niemand van ons ons verweer nie en is die hele wêreld skuldig voor God. Niemand sal dus op grond van wetsgehoorsaming voor God vrygespreek kan word nie. Hoe beter ons die wet van God leer ken, hoe duideliker blyk ons sonde.