ROMEINE 2:1-9

ROMEINE 2:1-9 Bybel vir almal (ABA)

Jy sê ander mense doen dinge wat verkeerd is, maar jy, ja jý, is ook skuldig. Jy sê húlle doen verkeerde dinge, maar jý doen dieselfde dinge. As jy sê hulle doen verkeerde dinge, dan beteken dit dat jy ook skuldig is, want jy doen dieselfde verkeerde dinge. Ons weet dit is reg dat God mense straf wat daardie verkeerde dinge doen. Jy, ja jý, sê ander mense doen dinge wat verkeerd is, maar jy doen dieselfde dinge. Jy moet weet dat God jou ook sal straf, jy sal nie kan wegvlug nie. God is baie goed, Hy straf mense nie gou nie, Hy is geduldig, want Hy wil hê jy moet lewe soos Hy sê. Maar dit alles is nie vir jou belangrik nie. Jy luister nie na God nie, jy lewe nie soos God wil hê nie. Daarom sal God jou straf op daardie dag wanneer Hy al die mense sal straf, daardie dag wanneer almal sal kan sien dat sy straf reg is. God weet wat elke mens gedoen het en Hy sal elke mens oordeel oor wat hy gedoen het. Party mense hou aan om goeie dinge te doen, want hulle wil graag hê God moet hulle eendag soos konings maak. Hulle wil hê mense moet hulle respekteer, en hulle wil aanhou lewe. God sal vir hulle die ewige lewe gee. Maar party mense is selfsugtig. Hulle weet wat reg is, maar hulle doen dit nie. Hulle doen graag dinge wat verkeerd is. God sal kwaad bly vir hulle en Hy sal hulle straf. Ja, God sal ál die mense straf wat verkeerd doen. Hy sal hulle laat swaarkry, en dit sal sleg gaan met hulle, met hulle almal, eerste die Jode en dan die mense wat nie Jode is nie.

ROMEINE 2:1-9 Die Boodskap (DB)

Al hierdie mense is op pad na die doderyk. Maar dit gee jou natuurlik nie die reg om links en regs oor ander te oordeel nie. Op die ou end is jy net so skuldig soos hulle. Jy wat so maklik die vinger na ander mense wys, doen jy nie maar presies dieselfde dinge as hulle nie? God weet wat ons almal doen. Omdat Hy die ware feite tot sy beskikking het, sal Hy eendag die regte uitspraak oor ons almal lewer. Ek sê weer: jy moet baie versigtig wees om nie die vinger na ander mense te wys terwyl jy dieselfde dinge as hulle aanvang nie. Jy sal God se oordeel glad nie vryspring nie. God is baie goed vir ons. Hy is geduldig met ons swakhede. Maar dit beteken glad nie dat Hy jou sondes oorsien omdat Hy so goed is vir jou nie. God is net geduldig met jou omdat Hy wil hê dat jy jou tot Hom moet bekeer. Maar as jy aanhou om in die sonde rond te lê, moet jy geen genade van Hom verwag nie. Hy weet baie goed hoe jy lewe. Jou sondes is teen dié tyd al hemelhoog opgestapel. Dag na dag word dit net meer. Wanneer die groot dag van God aanbreek - daardie dag wanneer Hy sy woede oor die sondes van die wêreld sigbaar kom wys en sy uitspraak oor ons almal kom lewer - sal Hy jou daaroor straf. God se oordeel sal absoluut regverdig wees. Hy kyk na elke ding wat ons doen. Op grond van ons dade sal God dan besluit waar ons die ewigheid gaan deurbring. Die ewige lewe wag op almal wat goed doen en wat aan Hom die eer gee. Mense wat hulle uiterste bes doen om God te gehoorsaam, sál die ewige lewe as ’n geskenk uit sy hand ontvang. Aan die ander kant: mense wat net vir hulleself leef en hulle glad nie aan God steur nie omdat hulle agter elke nuwe sonde aanhardloop, moet niks goeds verwag nie. Vir hulle wag daar net oordeel en straf. Daar lê ’n bitter moeilike tyd voor vir elkeen wat in sonde leef. Dit geld vir alle mense op aarde, Jode sowel as nie-Jode.