ROMEINE 16:17-20 - Compare All Versions

ROMEINE 16:17-20 AFR83 (Afrikaans 1983)

Ek druk julle dit op die hart, broers: Pas op vir dié wat verdeeldheid veroorsaak en die mense afvallig maak van die leer wat julle ontvang het. Bly weg van hulle af. Sulke mense dien nie Christus ons Here nie, maar hulle eie drifte en drange, en met al hulle mooipraatjies en vleitaal mislei hulle die liggelowige mense. Almal het gehoor van julle gehoorsaamheid aan die evangelie. Ek is baie bly oor julle, en ek sou graag wou sien dat julle alles weet van die goeie en niks wil weet van die slegte nie. God wat vrede gee, sal die Satan spoedig onder julle voete verpletter. Die genade van ons Here Jesus is by julle!

ROMEINE 16:17-20 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle. Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik; en hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges. Want julle gehoorsaamheid het algemeen bekend geword. Daarom verbly ek my oor julle, en ek wens dat julle wys mag wees teenoor wat goed is, maar onskuldig teenoor wat sleg is. En die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel. Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle! Amen.

ROMEINE 16:17-20 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Nog ’n laaste beroep op julle, broers en susters. Wees op die uitkyk vir mense wat verdeeldheid veroorsaak en Christene se geloof ondergrawe deur dinge te verkondig wat bots met dit wat julle geleer het. Vermy hulle. Sulke mense dien nie vir Christus ons Here nie, maar hulle eie persoonlike belange. Deur hulle mooipraatjies en vleitaal mislei hulle naïewe mense. Almal weet egter van julle gehoorsaamheid aan die Goeie Nuus. Ek verheug my oor julle en ek wil graag hê dat julle duidelik sal besef wat goed is en dat julle nie slim sal wees wat die verkeerde betref nie. Die God van vrede sal Satan binnekort onder julle voete verpletter. Mag die genade van ons Here Jesus met julle wees.

ROMEINE 16:17-20 DB (Die Boodskap)

Broers en susters, oppas vir daardie mense wat die kerk probeer skeur met hulle vals sienings oor God. Hulle krap almal om omdat hulle dinge sê wat in stryd is met alles wat julle oor God geleer het. Bly uit hulle pad uit. Hierdie mense maak net asof hulle Christene is, maar hulle stel glad nie daarin belang om ons Here Jesus te dien nie. Nee, hulle dien net hulle eie siek begeertes. Hulle gebruik mooi woorde en vleitaal om onskuldige gelowiges deurmekaar te maak. Teen hierdie tyd weet almal al van julle geloof in Christus. Dit maak my hart sommer baie bly. Ek is regtig trots op julle. Hou so aan. Wees verstandig wanneer dit by goeie dade kom. Maar wees dom wanneer dit by sondes kom. Moenie vir die sonde ’n vastrapplek in julle lewens gee nie. Ek het goeie nuus vir julle: ons wonderlike God wat aan ons almal sy vrede gee, gaan Satan binnekort onder julle voete fyn en flenters trap. Tot op daardie dag sal ons Here Jesus Christus met sy goedheid by julle wees.

ROMEINE 16:17-20 ABA (Bybel vir almal)

Vriende, ek vra mooi vir julle: Julle moet oppas vir die mense wat julle laat stry en sonde laat doen. Dit is nie wat julle geleer het nie. Julle moet hulle los. Hulle dien nie vir Christus die Here nie, hulle dink net aan dit wat hulle self wil hê. Hulle sê baie mooi dinge, en so verlei hulle die mense wat min weet. Almal weet julle is gehoorsaam aan Christus, en ek is bly dat julle gehoorsaam is. Ek wil hê julle moet verstandig wees en julle moet weet wat goed is. En ek wil hê julle moet niks verkeerd doen nie. God wat vrede gee, sal gou die Satan oorwin, en julle sal oor die Satan regeer. Ek bid dat ons Here Jesus Christus genadig sal wees vir julle.

ROMEINE 16:17-20 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Ek doen 'n beroep op julle, broers, om mense in die oog te hou wat verdeeldheid en struikelblokke veroorsaak, in stryd met die leer waarin julle onderrig is. Bly weg van hulle af. Want hierdie soort mense dien nie Christus ons Here nie, maar hulle eie maag. Met strelende woorde en vleitaal mislei hulle die harte van naïewe mense. Julle gehoorsaamheid is aan almal bekend. Daarom is ek bly oor julle, en ek wil hê dat julle wys sal wees ten opsigte van die goeie, en onskuldig ten opsigte van die kwaad. Die God van vrede sal Satan spoedig onder julle voete verpletter. Die genade van ons Here Jesus bly met julle!

ROMEINE 16:17-20 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Ek smeek julle nou, broeders, let op die wat verdeeldheid en aanstoot veroorsaak in stryd met die leerstelling wat julle geleer het; en vermy hulle. Want sulke mense dien nie onse Here Jesus Christus nie, maar hulle eie buik; en verlei die harte van die eenvoudiges deur goeie woorde en mooi woorde. Want julle gehoorsaamheid het na alle mense gekom. Ek is dan bly oor julle, maar tog wil ek hê dat julle wys is oor wat goed is en eenvoudig in die kwaad. En die God van vrede sal Satan binnekort onder julle voete vermorsel. Die genade van ons Here Jesus Christus sy met julle. Amen.