ROMEINE 14:8-12
ROMEINE 14:8-12 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer ons lewe, dan lewe ons om die Here te dien. En wanneer ons sterf, dan sterf ons om die Here te dien. Ja, wanneer ons lewe, dan behoort ons aan die Here, en wanneer ons sterf, dan behoort ons aan die Here. Christus het gesterf, en Hy het weer begin lewe sodat Hy kan regeer oor almal, almal wat dood is en almal wat lewe. Jy moenie sê die ander gelowiges doen verkeerd nie. En jy moenie dink die ander gelowiges is onbelangrik nie. Jy moet onthou: God sal ons almal eendag oordeel wanneer ons voor sy regterstoel staan. Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is: Die Here sê: Ek het dit vir Myself belowe, Ek het gesê: Elke knie sal voor My buig, elke mens sal sê hy weet Ek is God. Dit beteken: Elkeen van ons sal self vir God moet antwoord oor alles wat ons gedoen het.
ROMEINE 14:8-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Want hiervoor het Christus ook gesterwe en opgestaan en weer lewend geword, om oor dode sowel as lewende te heers. Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word. Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely. So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.
ROMEINE 14:8-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: om Here te wees van die dooies en die lewendes. Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, want daar staan geskrywe: “So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.” Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.
ROMEINE 14:8-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
As ons leef, leef ons immers vir die Here; en as ons sterf, sterf ons vir die Here. Of ons dan lewe of sterwe, ons behoort aan die Here. Dit is tog waarvoor •Christus gesterf het en weer lewend geword het – om Heer te wees oor dooies en lewendes. Jy, waarom veroordeel jy jou broer? Of jy, waarom sien jy op jou broer neer? Ons gaan tog almal voor God se regterstoel verskyn. Want daar staan geskryf: “So seker as wat Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig en elke tong sal My as God bely. ” Elkeen van ons sal dus persoonlik voor God verantwoording moet doen.
ROMEINE 14:8-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want of ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en of ons sterwe, ons sterwe tot eer van die Here; of ons dan lewe of sterwe, ons behoort aan die Here. Want vir hierdie doel het Christus gesterf en opgestaan en lewend gemaak, om Here te wees van dooies sowel as lewendes. Maar waarom oordeel jy jou broer? of waarom verag jy jou broer? want ons sal almal voor die regterstoel van Christus staan. Want daar is geskrywe: So waar as Ek leef, spreek die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely. So moet elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.
ROMEINE 14:8-12 Die Boodskap (DB)
Daarom moet ons voluit vir Hom leef en doodgaan. Letterlik alles wat ons doen, moet tot eer van die Here gedoen word, want ons behoort aan Hom. Dit geld terwyl ons nou nog lewe, maar ook later wanneer ons doodgaan. Dit is tog hoekom Christus gesterf en weer lewendig geword het sodat Hy die Here oor die dooies en die lewendes kan wees. Waarom veroordeel jy dan nog jou broer in die Here? En waarom verag jy jou suster in die Here? Dit is nie jou werk om regter oor ander gelowiges te speel nie. God sal dit doen wanneer ons almal eendag voor Hom staan. Die Bybel sê mos: “‘So seker as Ek leef,’ sê die Here, ‘alle mense op aarde sal voor My die knie buig. Almal sal erken dat Ek God is.’” Sorg daarom dat jou eie saak reg is wanneer jy die dag voor God se troon moet gaan staan. Want jy sal op daardie dag net verslag oor jou eie lewe aan Hom moet doen.
ROMEINE 14:8-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
As ons leef, leef ons mos vir die Here, en as ons sterf, sterf ons vir Hom. Of ons dan lewe of sterwe, ons is volkome sy eiendom. Dít is tog waarvoor Christus gesterf het en weer lewendig geword het – om Heer te wees oor dooies en lewendes. Jy dan, waarom veroordeel jy jou medegelowige? En jy weer, waarom sien jy neer op jou medegelowige? Ons moet tog almal eendag voor God se regbank verskyn. Die Skrif sê mos: “So seker as Ek lewe,” verklaar die Here, “elke knie sal voor My buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.” Elkeen van ons sal dus oor ons eie doen en late voor God verantwoording moet doen.