ROMEINE 14:17-18
ROMEINE 14:17-18 Bybel vir almal (ABA)
Want die dinge wat ons eet en drink, is nie belangrik daar waar God, die Koning, regeer nie. Dit is belangrik dat God ons vryspreek en dat Hy vir ons vrede gee en vir ons help om regtig bly te wees, ons almal wat die Heilige Gees het. As ons so vir Christus dien, dan is God tevrede met ons en dan sal ander mense ons respekteer.
ROMEINE 14:17-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees. Want hy wat Christus hierin dien, is aan God welgevallig en by die mense geag.
ROMEINE 14:17-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die koninkryk van God is nie 'n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. Wie op hierdie manier vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van die mense.
ROMEINE 14:17-18 Die Boodskap (DB)
Dit gaan regtig nie in God se koninkryk oor wat ’n mens eet of drink nie. Allermins! Nee, daar waar God heers, is dit die belangrikste dat sondaars op grond van sy ongelooflike goedheid van hulle sondes vrygespreek word. Daar gaan dit oor vrede met God en oor blydskap omdat die Heilige Gees met sy groot krag aanwesig is. Almal wat Christus dien, maak God se hart baie bly. Boonop het ander mense ook groot respek vir hulle.
ROMEINE 14:17-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
As God koning is in ons lewe, gaan dit nie om wat ons eet of drink nie; dit gaan daarom dat ons reg sal lewe en die vrede en die blydskap sal vertoon wat die Heilige Gees in ons bewerk. As jy Christus met hierdie gesindheid dien, maak jy God gelukkig en die mense rondom jou sal jou respekteer.