DIE OPENBARING 9:1-14 - Compare All Versions
DIE OPENBARING 9:1-14 ABA (Bybel vir almal)
Die vyfde engel het sy trompet geblaas. Toe sien ek 'n ster wat uit die lug op die aarde geval het. God het vir die ster die sleutel gegee wat die diep gat kan oopsluit wat na die onderwêreld gaan. Die ster het die diep gat oopgemaak wat na die onderwêreld gaan. Toe kom daar rook uit die gat, baie rook, soos die rook van 'n groot vuur. En die son en die lug het donker geword van die rook wat uit die gat kom. Uit die rook het daar sprinkane gekom. God het vir die sprinkane gesê hulle mag doen wat skerpioene op die aarde doen. God het vir hulle gesê hulle mag nie die gras op die aarde vreet nie, ook nie enige iets wat groen is nie, ook nie die bome nie. Hulle mag net die mense seermaak wat nie God se merk op hulle voorkoppe het nie. God het gesê hulle mag daardie mense vyf maande lank seermaak, maar hulle mag nie daardie mense doodmaak nie. Wanneer hulle die mense seermaak, dan is dit so seer soos wanneer 'n skerpioen 'n mens steek. Wanneer dit gebeur, dan sal die mense wens dat hulle sterf, maar hulle sal nie sterf nie. Hulle sal wens dat hulle gou doodgaan, maar die dood sal nie kom nie. Die sprinkane lyk soos perde wat gereed is om oorlog te maak. Op elke sprinkaan se kop is iets wat lyk soos 'n goue kroon. Hulle gesigte lyk soos mense se gesigte. Die sprinkane se hare lyk soos vroue se hare, en hulle tande lyk soos leeus se tande. Die sprinkane dra harnasse wat lyk soos harnasse van yster. Hulle vlerke raas baie, soos baie oorlogkarre en perde wat oorlog gaan maak. Hulle sterte is soos skerpioene se sterte en hulle het ook angels waarmee hulle die mense steek. Die skerpioene kan hulle sterte vyf maande lank gebruik om die mense seer te maak. Die sprinkane se koning is die engel van die onderwêreld. Sy Hebreeuse naam is Abaddon en sy Griekse naam is Apollion. Die eerste swaarkry is verby, maar daar kom nóg twee tye wanneer mense sal swaarkry! Die sesde engel het sy trompet geblaas. Toe hoor ek iemand praat tussen die vier horings van die altaar, die goue altaar wat voor God staan. Hy het vir die sesde engel, die engel wat die trompet het, gesê: “God het vier engele vasgebind by die groot Eufraat-rivier. Jy moet hulle losmaak!”
DIE OPENBARING 9:1-14 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
EN toe die vyfde engel blaas, sien ek 'n ster wat uit die hemel op die aarde geval het, en aan hom is die sleutel van die put van die afgrond gegee. En hy het die put van die afgrond oopgemaak, en daar het rook opgekom uit die put soos rook van 'n groot oond, en die son en die lug is deur die rook van die put verduister. En uit die rook het daar sprinkane uitgekom op die aarde, en aan hulle is mag gegee soos die skerpioene van die aarde mag het. En aan hulle is gesê dat hulle nie die gras van die aarde of enige groenigheid of enige boom moet beskadig nie, maar net alleen die mense wat die seël van God nie op hulle voorhoofde het nie. En dit is aan hulle gegee, nie om hulle dood te maak nie, maar dat hulle vyf maande lank gepynig sou word; en hulle pyniging was soos die pyniging van 'n skerpioen wanneer hy 'n mens steek. En in dié dae sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; en hulle sal verlang om te sterwe, en die dood sal vir hulle wegvlug. En die voorkoms van die sprinkane was soos dié van perde wat vir die oorlog toegerus is, en op hulle koppe was iets soos krone wat net soos goud gelyk het, en hulle gesigte was soos die gesigte van mense. En hulle het hare gehad soos vrouehare, en hulle tande was soos dié van leeus. En hulle het borsharnasse gehad soos van yster, en die gedruis van hulle vlerke was soos die gedruis van baie strydwaens met perde wat opruk na die oorlog. En hulle het sterte gehad soos dié van skerpioene, en daar was angels in hulle sterte, en hulle mag was om die mense vyf maande lank skade aan te doen. En hulle het as koning oor hulle die engel van die afgrond; sy naam in Hebreeus is Abáddon, en in Grieks het hy die naam van Apóllion. Die een wee het verbygegaan; hierna kom daar nog twee weë. EN die sesde engel het geblaas, en ek het 'n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is, en dié het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat.
DIE OPENBARING 9:1-14 AFR83 (Afrikaans 1983)
Die vyfde engel het toe op sy trompet geblaas. Ek het 'n ster gesien wat van die hemel af op die aarde geval het, en die sleutel van die skag na die onderaardse diepte is aan hom gegee. Hy het toe die skag na die onderaardse diepte oopgemaak, en daar het rook uit die skag uit opgestyg soos die rook van 'n groot oond. Deur die skag se rook is die son verduister en het die lug donker geword. Toe het daar uit die rook sprinkane oor die aarde uitgeswerm. Aan hulle is dieselfde vermoë gegee as wat skerpioene op aarde het. Hulle is aangesê om nie die gras van die aarde, die plante en die bome kwaad aan te doen nie, maar net die mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie. Hulle is nie toegelaat om die mense dood te maak nie, maar wel om hulle vyf maande lank te pynig. Die pyn wat hulle veroorsaak, is soos die pyn as 'n skerpioen 'n mens steek. In daardie tyd sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; hulle sal verlang om te sterwe, maar die dood sal hulle ontwyk. Die sprinkane het gelyk soos perde wat regstaan vir oorlog. Op hulle koppe was daar iets soos krone wat gelyk het asof dit van goud is. Hulle gesigte was soos die gesigte van mense. Hulle het lang hare gehad soos vrouens se hare, en hulle tande was soos dié van leeus. Hulle borskaste was soos ysterharnasse. Die gedreun van hulle vlerke was soos die gedreun van baie strydwaens met perde wat opruk vir oorlog. Hulle het sterte met angels soos dié van skerpioene; en in hulle sterte is hulle vermoë om die mense vyf maande lank kwaad aan te doen. Hulle het die engel van die onderaardse diepte as koning oor hulle. Sy naam in Hebreeus is Abaddon, en in Grieks het hy die naam Apollion. Die eerste “Wee!” is verby. Kyk, daar kom nog twee hierna. Toe het die sesde engel op sy trompet geblaas. Ek het 'n stem tussen die vier horings van die goue altaar voor God gehoor. Die stem het vir die sesde engel, wat die trompet het, gesê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgemaak is.”
DIE OPENBARING 9:1-14 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
En die vyfde engel het op sy trompet geblaas. Toe het ek 'n ster uit die hemel op die aarde sien val. Aan hom is die sleutel van die skag na die onpeilbare diepte gegee. Hy het die skag na die onpeilbare diepte oopgesluit, en rook het uit die skag opgeborrel, soos rook uit 'n groot smeltoond. Die son en lug is deur die rook uit die skag verduister. Uit die rook het daar sprinkane na die aarde geswerm. Aan hulle is dieselfde krag gegee as dié van skerpioene op aarde. En hulle is aangesê om nie die gras van die aarde of enige plant of boom te beskadig nie, maar slegs daardie mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie. Hulle is nie toegelaat om die mense dood te maak nie, maar slegs om hulle vyf maande lank te folter, deur hulle te pynig met 'n brandpyn – soos wanneer 'n skerpioen 'n mens steek. In daardie dae sal die mense na die dood verlang, maar dit nie vind nie; hulle sal begeer om te sterf, maar die dood sal hulle bly ontwyk. Die voorkoms van die sprinkane was net soos dié van perde wat vir oorlog gepantser is. Op hulle koppe was daar iets soos krone, wat gelyk het asof dit van goud is, en hulle gesigte was soos dié van mense. Hulle het ook hare gehad soos dié van vroue, en tande soos dié van leeus. Die sprinkane het borsplate gedra, wat soos ysterborsplate gelyk het. Die geluid van hulle vlerke het geklink soos die gedreun van baie perdestrydwaens wat opruk na 'n oorlog. Hulle het sterte met angels gehad, net soos skerpioene, en in hulle sterte was daar krag om die mense vyf maande lank te teister. Die engel van die onpeilbare diepte was hulle koning. In Hebreeus is sy naam Abaddon, en in Grieks Apollion. Die eerste ramp is verby – kyk, hierna kom daar nog twee! Ook die sesde engel het op sy trompet geblaas. En ek het 'n stem vanuit die vier horings van die goue altaar wat voor God is, aan die sesde engel met die trompet hoor sê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgebind is.”
DIE OPENBARING 9:1-14 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En die vyfde engel het geblaas, en ek het 'n ster uit die hemel op die aarde sien val, en aan hom is die sleutel van die afgrond gegee. En hy het die afgrond oopgemaak; en daar het rook uit die put opgegaan soos die rook van 'n groot oond; en die son en die lug is verduister deur die rook van die put. En daar het uit die rook sprinkane op die aarde uitgekom, en aan hulle is mag gegee soos die skerpioene van die aarde mag het. En dit is aan hulle beveel om nie die gras van die aarde of enige groen ding of enige boom te beskadig nie; maar net daardie manne wat nie die seël van God op hulle voorhoofde het nie. En aan hulle is gegee dat hulle hulle nie sou doodmaak nie, maar dat hulle vyf maande gepynig moes word; en hulle pyniging was soos die pyniging van 'n skerpioen wanneer hy 'n mens slaan. En in dié dae sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; en sal begeer om te sterwe, en die dood sal van hulle wegvlug. En die vorms van die sprinkane was soos perde wat vir die oorlog voorberei is; en op hulle koppe was soos krone soos goud, en hulle gesigte was soos die gesigte van mense. En hulle het hare gehad soos die hare van vroue, en hulle tande was soos die tande van leeus. En hulle het borsharnasse gehad, soos dit was borsharnasse van yster; en die geluid van hulle vlerke was soos die geluid van strydwaens van baie perde wat na die geveg hardloop. En hulle het sterte gehad soos aan skerpioene, en daar was angels in hulle sterte, en hulle krag was om mense vyf maande seer te maak. En hulle het 'n koning oor hulle gehad, dit is die engel van die afgrond, wie se naam in die Hebreeuse taal is Abaddon, maar in die Griekse taal het sy naam Apollion. Een wee is verby; en kyk, daar kom nog twee wee hierna. En die sesde engel het geblaas, en ek het 'n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is, en vir die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat in die groot rivier Eufraat gebind is.
DIE OPENBARING 9:1-14 DB (Die Boodskap)
Die vyfde engel se trompet weerklink toe. Juis toe val my oog op iemand wat soos ’n ster van bo af op die aarde afkom. Hy het die sleutel gekry wat die ingang na die onder-aardse dieptes oop- en toesluit. Toe hy die ingang oopsluit, borrel daar ’n digte rookmassa uit hierdie onderaardse diepte uit. Die rookmassa was so dik dat die lug heeltemal swart geword het, sodat ’n mens nie eens die son kon sien nie. Uit hierdie wolke rook kruip daar toe sprinkane uit, die wêreld vol! Aan die sprinkane is buitengewone mag gegee. Hulle was gevaarlik soos skerpioene. Daar is mooi vir hulle gesê wat hulle moes doen. Die plante, bome en gras moes hulle met rus laat, maar die mense moes hulle tref, hoewel nie almal nie. Daardie mense wat die merk van God op hulle voorkop gehad het, was veilig, maar die mense sonder daardie merk moes deurloop. Die sprinkane moes nie die mense doodmaak nie, maar net vyf maande lank seermaak. Dit sal wees soos skerpioene wat hulle die hele tyd steek en dít gaan so seer wees dat die mense allerhande planne sal maak om hulleself dood te maak. Maar hulle planne sal nie uitwerk nie. Hoe hard hulle ook al probeer, die dood sal soos wind deur hulle grypende vingers glip. Die sprinkane het soos perde gelyk wat spesiaal vir oorlog reggemaak is. Hulle gesigte het soos dié van mense gelyk. Op hulle koppe was iets wat gelyk het soos die goue kroon wat mense kry wat ’n kompetisie gewen het. Onder die kroon het ’n pragtige haardos uitgehang, soos ’n vrou s’n. Hulle tande het soos leeus s’n gelyk. Ysterplate het hulle bors beskerm. Hulle het ’n groot lawaai gemaak, net soos die gedreun van ’n massa perde en waens wat in ’n oorlog instorm. Hulle sterte het nes dié van skerpioene gelyk, en kón dit steek! Vyf maande aanmekaar moes die mense onder daardie sterte deurloop. Glo my, dit was seer! Hulle het ’n leier gehad, die engel van die onderwêreld. Sy Hebreeuse naam was Abaddon - dit beteken: die een wat alles verwoes. Hoe verskriklik is dit nie, nè? Wag maar, daar is nog twee sulke skrikwekkende dinge op pad. Toe weerklink die sesde engel se trompet. Ek hoor toe ’n stem uit die rigting van die vier horings op die vier hoeke van die goue altaar. Die altaar het voor God gestaan. Die stem praat toe met hierdie sesde engel: “Laat daardie vier engele losbreek wat net heeltyd by die groot Eufraatrivier moes bly.”
DIE OPENBARING 9:1-14 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Daarna het die vyfde engel op sy trompet geblaas. Ek het gekyk hoe ’n ster van die hemel af op die aarde val, en die sleutel van die tonnel na die bodemlose put is aan hom gegee. Hy het toe die tonnel na die bodemlose put oopgesluit. Daar het rook uit die tonnel opgedwarrel, soos die rook uit ’n groot smeltoond. Die son en die lugruim is deur die rook van die tonnel verduister. Uit die rook het sprinkane oor die aarde heen geswerm. Hulle is toegelaat om dieselfde vermoë te hê as skerpioene. Hulle is aangesê om nie die gras op die aarde, of enige plant of boom te beskadig nie, maar net die mense leed aan te doen wat nie die seëlmerk van God op hulle voorkoppe het nie. Hulle is uitdruklik aangesê om nie die mense dood te maak nie, maar om hulle wel vyf maande lank te folter. Hulle foltering was soos die brandpyn wanneer ’n skerpioen jou steek. Gedurende daardie dae sal die mense dit verkies om liewer dood te gaan, maar dit sal nie met hulle gebeur nie. Hulle sal begeer om dood te gaan, maar die dood sal hulle ontwyk. Die sprinkane het gelyk soos perde wat voorberei is vir oorlog. Op hulle koppe was iets soos goue krone, en hulle gesigte het gelyk soos dié van mense. Hulle het lang hare soos dié van vroue gehad, en hulle tande was soos dié van leeus. Hulle het borsplate aangehad soos ysterharnasse, en die geluid van hulle vlerke het geklink soos die gedreun van baie perdestrydwaens wat opruk oorlog toe. Hulle het sterte met angels net soos dié van skerpioene gehad, en in hulle sterte was hulle vermoë om die mense vyf maande lank leed aan te doen. Hulle het as heerser die engel van die bodemlose put gehad. Sy naam in Hebreeus is Abaddon, en in Grieks Apollion. Die eerste verskrikking is verby. Kyk, daar volg nog twee hierna. Toe het die sesde engel op sy trompet geblaas. Ek het ’n enkele stem hoor kom uit die rigting van die vier horings van die goue altaar by God. Die stem het aan die sesde engel wat die trompet vashou, gesê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgemaak is.”