DIE OPENBARING 6:1-17

DIE OPENBARING 6:1-17 Bybel vir almal (ABA)

Ek het gesien die Lam breek een van die sewe seëls van die boekrol. Toe hoor ek een van die vier diere skree, hy het so hard soos donderweer geskree. Hy het gesê: “Jy moet kom!” En toe ek kyk, sien ek daar kom 'n wit perd! Iemand het op die perd gesit. Hy het 'n pyl en boog gehad, en God het vir hom 'n lourier-krans gegee. Die persoon op die perd het altyd sy vyande oorwin, en hy het gekom om te oorwin. Toe die Lam die tweede seël breek, het ek gehoor die tweede dier skree: “Jy moet kom!” En toe kom daar 'n ander perd, 'n bloedrooi perd! Iemand het op die perd gesit. God het vir hom gesê hy mag die vrede van die mense op die aarde wegneem sodat hulle mekaar sal doodmaak. God het vir hom 'n groot swaard gegee. Toe die Lam die derde seël breek, het ek gehoor die derde dier skree: “Jy moet kom!” Ek het gekyk en toe sien ek daar kom 'n swart perd! Iemand het op die perd gesit. Hy het 'n weegskaal in sy hand gehad. Ek het gehoor Iemand praat. Hy was tussen die vier diere. Hy het gesê: “Iemand sal vir een goiniks koring of vir drie goiniks gars een silwer geldstuk moet betaal. En julle moet versigtig wees, moenie die olyf-olie en die wyn mors nie.” En toe die Lam die vierde seël oopmaak, het ek gehoor die vierde dier skree: “Jy moet kom!” Ek het gekyk en toe sien ek 'n vaal-groen perd kom! Iemand het op die perd gesit. Sy naam was Dood. Die doderyk het saam met hom gegaan. God het vir Dood en vir die doderyk gesê hulle mag 'n kwart van al die mense op die aarde doodmaak met oorloë en honger en pes en wilde diere. Toe die Lam die vyfde seël van die boekrol breek, het ek die gelowiges gesien wat dood is, hulle was onder die altaar in die hemel. Die mense het daardie gelowiges doodgemaak omdat hulle geglo het wat God sê en omdat hulle vir ander mense vertel het wat hulle glo. Die gelowiges het hard geskree en gevra: “Here, U wat heilig is en wat altyd dieselfde bly, hoe lank sal dit nog wees voordat U die mense op die aarde sal oordeel en hulle sal straf omdat hulle ons doodgemaak het?” Toe het God vir hulle elkeen wit klere gegee. En Hy het vir hulle gesê hulle moet 'n kort tydjie wag, want die mense sal nog ander dienaars van God ook doodmaak. Hulle moet wag totdat daardie ander gelowiges ook almal dood is. Toe die Lam die sesde seël van die boekrol breek, sien ek daar is 'n groot aardbewing. Die son het donker geword, soos swart rouklere, en die maan het rooi geword soos bloed. Die sterre in die lug het op die aarde geval. Dit het gelyk soos wanneer 'n sterk wind 'n vyeboom skud en die vye wat nog nie ryp is nie, op die grond val. Die lug het verdwyn, soos wanneer iemand 'n boekrol toerol. Elke berg en eiland het verdwyn, hulle was weg. Die konings van die aarde, die belangrike mense, die generaals, die ryk mense, die mense wat oor ander mense regeer, die slawe en die mense wat nie slawe is nie, hulle almal het gaan wegkruip in grotte en tussen die rotse op die berge. Hulle het vir die berge en rotse gesê: “Julle moet op ons val, julle moet ons toemaak! Ons wil nie hê dat God ons moet sien nie, God wat op die troon sit. Ons wil nie hê dat die Lam ons moet straf nie! Want die tyd is nou hier wanneer Hulle ons sal straf, en ons sal nie aanhou lewe nie!”

DIE OPENBARING 6:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN ek het gesien toe die Lam een van die seëls oopmaak; en ek het een van die vier lewende wesens hoor sê, soos die geluid van 'n donderslag: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was 'n wit perd. En hy wat daarop sit, het 'n boog; en aan hom is 'n kroon gegee, en hy het uitgegaan as 'n oorwinnaar en om te oorwin. En toe Hy die tweede seël oopgemaak het, hoor ek die tweede lewende wese sê: Kom kyk! En 'n ander perd, 'n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en 'n groot swaard is aan hom gegee. En toe Hy die derde seël oopgemaak het, hoor ek die derde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was 'n swart perd; en hy wat daarop sit, het 'n skaal in sy hand. En ek het 'n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: 'n Rantsoen koring vir 'n penning en drie rantsoene gars vir 'n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie. En toe Hy die vierde seël oopgemaak het, hoor ek die stem van die vierde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was 'n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde. En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. En hulle het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie? En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog 'n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees. En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was 'n groot aardbewing; en die son het swart geword soos 'n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos 'n vyeboom wat deur 'n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos 'n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?

DIE OPENBARING 6:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ek het gesien toe die Lam die eerste van die sewe seëls oopmaak; en ek het een van die vier lewende wesens hoor sê, soos die knal van 'n donderslag: “Gaan uit!” Ek het gesien: daar was 'n wit perd. Sy ruiter het 'n pyl en boog gehad. 'n Oorwinnaarskroon is aan hom gegee, en hy het as oorwinnaar uitgegaan om nog verder te oorwin. Toe Hy die tweede seël oopmaak, het ek die tweede lewende wese hoor sê: “Gaan uit!” Daar het 'n ander perd, 'n vuurrooie, uitgegaan. Aan sy ruiter is opdrag gegee om die vrede van die aarde af weg te neem, sodat die mense mekaar sal uitmoor. 'n Groot swaard is aan hom gegee. Toe Hy die derde seël oopmaak, het ek die derde lewende wese hoor sê: “Gaan uit!” Ek het gesien: daar was 'n swart perd. Sy ruiter het 'n skaal in sy hand gehad. Toe het ek iets soos 'n stem by die vier lewende wesens hoor sê: “Net een skeppie koring vir 'n dagloon en net drie skeppies gars vir 'n dagloon. Maar moenie die olyfolie en die wyn bederf nie.” Toe Hy die vierde seël oopmaak, het ek die stem van die vierde lewende wese hoor sê: “Gaan uit!” Ek het gesien: daar was 'n vaal perd. Sy ruiter se naam was Die Dood, en die doderyk het agter hom aan gegaan. Aan hulle is mag oor 'n kwart van die aarde gegee om die mense dood te maak met die swaard en met hongersnood en met pes en deur die wilde diere van die aarde. Toe die Lam die vyfde seël oopmaak, het ek onder die altaar die siele gesien van die mense wat doodgemaak is omdat hulle aan die woord van God en aan die getuienis van Jesus vasgehou het. Hulle het hard geroep: “Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde?” Aan elkeen van hulle is daar lang wit klere gegee, en daar is vir hulle gesê om nog 'n klein rukkie te wag, totdat hulle mededienaars, hulle medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemaak gaan word, almal daar is. Ek het gesien toe die Lam die sesde seël oopmaak: daar het 'n groot aardbewing gekom. Die son het swart geword soos rouklere, en die maan het heeltemal soos bloed geword. Die sterre aan die hemel het op die aarde geval soos die navye van 'n vyeboom afval as dit deur 'n sterk wind geruk word. Die hemel self het verdwyn soos 'n boekrol wat opgerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke geskud. Die konings van die aarde, die hoofamptenare en die opperbevelhebbers, die rykes en die magtiges, ja, al die mense, slawe en vryes, het in die grotte en onder die kranse van die berge weggekruip. Hulle het vir die berge en die kranse gesê: “Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam. Die groot dag waarop Hulle die oordeel sal voltrek, het aangebreek, en wie sal staande kan bly?”

DIE OPENBARING 6:1-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Ek het gesien toe die Lam een van die sewe seëls oopbreek. En ek het een van die vier lewende wesens soos die geluid van 'n donderslag hoor sê: “Kom!” Ek het gesien, en kyk, daar was 'n wit perd. Sy ruiter hou 'n boog vas, en 'n oorwinnaarskroon is aan hom gegee. Hy het opgetrek as oorwinnaar, en om te oorwin. Toe Hy die tweede seël oopbreek, het ek die tweede lewende wese hoor sê: “Kom!” 'n Ander perd, 'n vuurrooie, het toe uitgegaan. Aan sy ruiter is vergun om die vrede van die aarde weg te neem, sodat mense mekaar kon doodmaak. Aan hom is ook 'n groot swaard gegee. Toe Hy die derde seël oopbreek, het ek die derde lewende wese hoor sê: “Kom!” Ek het gesien, en kyk, daar was 'n swart perd. Sy ruiter hou 'n weegskaal in sy hand. Ek het toe iets soos 'n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: “'n Rantsoen koring kos 'n denarius, en drie rantsoene gars kos 'n denarius, en moenie dat daar skade kom met die olyfolie en die wyn nie.” Toe Hy die vierde seël oopbreek, het ek die vierde lewende wese hoor sê: “Kom!” Ek het gesien, en kyk, daar was 'n vaal perd. Sy ruiter se naam is Dood, en die Hades volg hom. Aan hulle is volmag gegee om 'n kwart van die aarde dood te maak deur die swaard, hongersnood, 'n dodelike siekte, en die wilde diere van die aarde. Toe Hy die vyfde seël oopbreek, het ek aan die voet van die altaar die siele gesien van dié wat doodgemaak is vanweë die woord van God en die getuienis wat hulle gelewer het. Hulle het met 'n harde stem geroep: “Tot wanneer, heilige en ware Here, gaan U uitstel om u oordeel te voltrek, en ons bloed op die aardbewoners te wreek? ” Daarop is aan elkeen van hulle 'n lang wit stola gegee, en hulle is aangesê om nog 'n kort rukkie te rus, totdat hulle medediensknegte en broers, wat ook soos hulle doodgemaak gaan word, voltallig sou wees. Ek het gesien toe Hy die sesde seël oopbreek. En daar het 'n groot aardbewing plaasgevind. Die son het swart geword soos 'n harige sak, en die maan het geheel en al soos bloed geword. Ook die sterre het uit die hemelruim op die aarde geval, soos wanneer 'n vyeboom sy groen navye afgooi as dit deur 'n stormwind geruk word. Die hemel het verdwyn, soos 'n boekrol wat opgerol word, en elke berg en eiland is uit sy staanplek verskuif. Die konings van die aarde en die hoofamptenare, die chiliarge, die rykes en die invloedrykes, elke slaaf en elke vry mens het in die grotte en onder die kranse in die berge weggekruip. Hulle het na die berge en kranse geroep: “Val op ons, en verberg ons van die aangesig van Hom wat op die troon sit, en van die toorn van die Lam; want die groot dag van hulle toorn het aangebreek, en wie kan staande bly?”

DIE OPENBARING 6:1-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En ek het gesien toe die Lam een van die seëls oopmaak, en ek het, soos die geluid van die donder, een van die vier lewende wesens hoor sê: Kom kyk. En ek het gesien, en daar was 'n wit perd, en hy wat daarop sit, het 'n boog; en aan hom is 'n kroon gegee, en hy het uitgegaan om te oorwin en te oorwin. En toe hy die tweede seël oopgemaak het, het ek die tweede dier hoor sê: Kom kyk. En daar het 'n ander perd uitgegaan wat rooi was, en aan hom wat daarop sit, is mag gegee om vrede van die aarde af weg te neem en mekaar dood te maak; en 'n groot swaard is aan hom gegee. En toe hy die derde seël oopgemaak het, hoor ek die derde dier sê: Kom kyk. En ek het gesien, en daar was 'n swart perd; en hy wat op hom sit, het 'n weegskaal in sy hand gehad. En ek het 'n stem in die middel van die vier diere hoor sê: 'n Maat koring vir 'n penning en drie mate gars vir 'n penning; en kyk dat jy die olie en die wyn nie beskadig nie. En toe hy die vierde seël oopgemaak het, het ek die stem van die vierde dier hoor sê: Kom kyk! En ek het gesien, en daar was 'n vaal perd, en sy naam wat op hom sit, was die dood, en die hel het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en honger en dood en met die wilde diere van die aarde. En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, het ek onder die altaar die siele gesien van die wat gedood is ter wille van die woord van God en vir die getuienis wat hulle gehou het. En hulle het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Here, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie? En wit klere is aan elkeen van hulle gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog 'n kort tydjie sou rus, totdat ook hulle medediensknegte en hulle broers vervul sou word wat gedood sou word soos hulle. En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was 'n groot aardbewing; en die son het swart geword soos 'n harige sak, en die maan het geword soos bloed; En die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos 'n vyeboom sy ontydige vye gooi as dit geskud word deur 'n geweldige wind. En die hemel het weggewyk soos 'n boek wat saamgerol word; en elke berg en eiland is uit hulle plekke verskuif. En die konings van die aarde en die groot manne en die rykes en die owerstes van owerstes en die helde en elke slaaf en elke vryman het hulle verberg in die holtes en in die rotse van die berge; en vir die berge en rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam. Want die groot dag van sy toorn het gekom; en wie sal staande kan bly?

DIE OPENBARING 6:1-17 Die Boodskap (DB)

Ek het toe gestaan en kyk hoe die Lam een van die sewe seëls breek waarmee die boek verseël was. Juis toe hoor ek een van die vier lewende wesens sê: “Kom!” Dit het geklink soos donderweer wat slaan. Ek het gekyk. Sowaar, daar het ’n wit perd aangekom. Die ruiter het ’n oorlogswapen by hom gehad. Iemand het vir hom ’n kroon gegee soos die gewoonte was om vir iemand te gee wat gewen het. Hy het verder gery op ’n pad van oorwinning. Sy doel was om te wen en dit het hy gedoen. Die Lam het toe die tweede seël gebreek. Ek het gehoor hoe die tweede lewende wese sê: “Kom!” ’n Ander perd kom toe daar aan. Dié perd was rooi. Die ruiter is toegelaat om onrus op aarde te veroorsaak. Nêrens was daar meer behoorlik vrede nie. Mense het mekaar eenvoudig uitgewis. Vir dié ruiter is ’n lang swaard gegee om mense in die oorlog mee dood te maak. Toe die Lam die derde seël breek, hoor ek die derde lewende wese sê: “Kom!” Ek het weer rondgekyk. Soos verwag kon word, het daar weer ’n perd aangekom. Dié perd was swart. Die ruiter het ’n skaal vasgehou waarmee kos geweeg is. Ek hoor toe iemand uit die rigting van die vier lewende wesens sê: “’n Ou handjie vol meel vir ’n hele dag se werk of drie hande vol perdekos. Die duur kos soos olie en wyn sal julle nie kan bekostig nie; net die rykes sal!” Met die oopmaak van die vierde seël hoor ek die vierde lewende wese sê: “Kom!” Hierdie keer het ek ’n perd met so ’n vaal doodskleur aangehardloop sien kom. Die ruiter se naam was “Die Dood”. In sy spore het die hel gevolg. Hy is toegelaat om ’n kwart van die aarde onder sy mag te kry. Daar was dit net moord en doodslag. Wie nie met swaarde doodgekap is nie, is van honger dood. Wie nog oorgebly het, is deur verskriklike siektes afgemaai of deur wilde diere verskeur. Die Lam breek toe die vyfde seël oop. Ek het ’n altaar gesien. Daar het mense spesiale geskenke vir God kom gee. Onder die altaar was die siele van mense wat met swaarde doodgekap is. En hoekom is hulle doodgemaak? Omdat hulle aan die boodskap van God vasgehou het en nie bang was om met oortuiging daaroor te praat nie. Hulle het hard geskree sodat almal kon hoor: “O, hoe lank nog, grote Heerser? U is anders as mense en U is die bron van alle waarheid. Wanneer gaan U die mense straf wat so sleg lewe? Wanneer gaan U hulle laat betaal omdat hulle ons doodgemaak het?” God gee toe vir elkeen van hulle die duurste en pragtigste wit klere; klere wat ’n mens vir ’n belangrike geleentheid nodig het. “Wees nog ’n rukkie rustig,” sê God. “Moenie oorhaastig wees nie. Al julle mede-Christene wat God met soveel oortuiging saam met julle dien, is nog nie hier nie. Hulle moet nog eers soos julle vir God sterf.” Ek sien toe dat die Lam die sesde seël breek. Die aarde het geweldig begin skud en bewe. Asof iemand ’n pikswart doek oor die son gegooi het, het die son se strale verdwyn. Die maan was so ’n rooi kleur, net soos bloed.Sterre het uit die hemel op die aarde gereën. Dit het gelyk soos blare wat in die herfs van ’n boom afval as ’n mens dit kwaai skud. Die blou hemel is soos ’n pannekoek opgerol. Selfs die eilande en berge is heen en weer geskud en rondgegooi. Die mense het vir al wat hulle werd is, gehardloop en in grotte en klowe in die berge gaan wegkruip. Dit maak nie saak wie nie, almal moes hardloop: groot leiers, generaals, rykes, sterkes, werkers, gewone mense, almal. Uit die klowe en grotte kon ’n mens die geroep hoor. Die mense daar het die berge en rotse uit angs gesmeek: “Val asseblief op ons. Begrawe ons. Steek ons weg vir God wat oor alles heers. Ja, steek ons weg sodat ons nie hoor hoe kwaad die Lam vir ons is nie.” En kan ’n mens hulle kwalik neem? Die dag waarop hulle finaal deur God veroordeel gaan word, lê voor die deur. Nie ’n enkele een sal kan ontsnap nie.

DIE OPENBARING 6:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Terwyl ek gekyk het, het die Lam een van die sewe seëls oopgebreek; en ek het een van die vier lewende wesens met ’n geluid soos ’n donderslag hoor sê: “Kom!” Ek het gekyk, en werklikwaar, daar staan ’n wit perd voor my! Sy ruiter het ’n boog vasgehou, en aan hom is ’n kroon gegee. Hy het as oorwinnaar uitgegaan met die doel om verder te gaan oorwin. Toe die Lam die tweede seël oopgebreek het, het ek die tweede lewende wese hoor sê: “Kom!” ’n Ander perd het uitgegaan, ’n rooie. Sy ruiter is toegelaat om die vrede van die aardbol weg te neem sodat sy inwoners mekaar uitmoor. Aan hom is ook ’n groot swaard gegee. En toe die Lam die derde seël oopbreek, het ek gehoor dat die derde lewende wese sê: “Kom!” En ek het gekyk, en werklikwaar, daar staan ’n swart perd voor my! Sy ruiter het ’n weegskaal in sy hand vasgehou. Ek het toe ’n geluid soos ’n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: “’n Skep koring vir ’n dag se loon en drie skeppe gars vir ’n dag se loon. Moet tog nie die olyfolie en die wyn skade aandoen nie.” Toe die Lam die vierde seël oopbreek, het ek die stem van die vierde lewende wese hoor sê: “Kom!” Ek het gekyk, en werklikwaar, daar staan ’n bleekgrys perd voor my! Sy ruiter se naam was die Dood, en die doderyk het vlak agter hom gevolg. Aan hom is die mag gegee om ’n kwart van die aarde se mense dood te maak deur die swaard, hongersnood, ’n dodelike epidemie en deur die wilde diere van die aarde. Toe die Lam die vyfde seël oopbreek, het ek aan die voet van die altaar die siele gesien van hulle wat doodgemartel is oor die boodskap van God en die getuienis wat hulle gelewer het. Hulle het met ’n kragtige stem uitgeroep: “Hoe lank, o heilige en betroubare Heer, gaan U nog wag voordat U die oordeel voltrek en ons bloed op die bewoners van die aarde wreek?” Aan elkeen van hulle is toe ’n lang wit kleed gegee, en hulle is aangesê om nog ’n klein rukkie te rus, tot die tyd aanbreek dat hulle medediensknegte en medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemartel gaan word, voltallig is. Ek het gekyk toe die Lam die sesde seël oopbreek. Daar was ’n groot aardbewing; die son het swart geword soos ’n harige sak, en die hele maan het so rooi soos bloed geword. Die sterre van die hemelruim het op die aarde geval, net soos ’n vyeboom sy groen navye afgooi wanneer dit deur ’n stormwind getref word. Die hemelkoepel is weggeneem soos wanneer ’n boekrol opgerol word, en elke berg en eiland het uit hulle plek verskuif. Die konings van die aarde en die hoogste amptenare, die militêre leiers, die rykes en die magtiges, elke slaaf en elke vrymens het gaan wegkruip in die grotte en onder die bergkranse. Hulle sê toe vir die berge en die kranse: “Val op ons en verberg ons voor die oë van Hom wat op die troon sit en van die wraak van die Lam!” Die belangrike dag van hulle wraak het aangebreek en wie kan staande bly?