DIE OPENBARING 22:1-21
DIE OPENBARING 22:1-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe het die engel aan my die rivier met lewegewende water gewys. Dit is helder soos kristal en vloei vanaf die troon van God en van die Lam. Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Dit dra twaalf keer per jaar vrug; elke maand dra hy sy vrugte. En die blare van dié boom gee genesing aan die nasies. Geen vervloeking van enigiets sal langer meer bestaan nie. Die troon van God en van die Lam sal in die stad staan en sy diensknegte sal Hom dien. Hulle sal Hom vol in die oë kyk, en sy Naam sal op hulle voorkoppe wees. Daar sal ook geen behoefte aan die lig van ’n kandelaar of van die son wees nie omdat die Here God vir hulle lig sal gee, en hulle sal vir altyd as konings regeer. Die engel het toe aan my gesê: “Hierdie woorde is geloofwaardig en betroubaar. Die Here God wat sy Gees aan die profete gegee het, het sy engel gestuur om aan sy diensknegte te wys wat binnekort moet gebeur.” Jesus sê toe: “Kyk, Ek kom gou! Geseënd is elkeen wat die profetiese woorde in hierdie boekrol gehoorsaam.” Ek, Johannes, het hierdie dinge gehoor en gesien. En toe ek dit gehoor en gesien het, het ek in aanbidding neergeval voor die voete van die engel wat al hierdie dinge aan my uitgewys het. Maar hy sê aan my: “Oppas, moenie! Ek is maar net ’n mededienskneg van jou en van jou medegelowiges, naamlik die profete, en van dié wat die woorde van hierdie boekrol gehoorsaam. Aanbid God!” Hy het toe aan my ’n opdrag gegee: “Moenie die woorde van hierdie profetiese boekrol verseël nie, want die eindtyd is naby. “Wie aanhou om kwaad te doen, moet nog meer kwaad doen en wie vuil is, moet vuil bly, maar wie reg optree, moet voortgaan om reg te doen, en wie aan God toegewy is, moet ook verder aan God toegewy bly.” Jesus sê: “Kyk, Ek kom gou! My loon kom saam met My om almal te beloon volgens wat hulle gedoen het. Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.” Geseënd is dié wat hulle klere skoon was sodat hulle aanspraak mag hê op die boom van die lewe, en mag ingaan deur die poorte van die stad. Al die onreines bly buite – die towenaars, dié wat seksuele sondes doen, die moordenaars, die afgodsdienaars en elkeen wat die leuen liefhet en lieg. “Ek, Jesus, het my engel gestuur om al die dinge aan julle in die gemeentes te verkondig. Ek is die Wortel, die Nakomeling van Dawid, die helder Môrester.” Die Gees en die bruid sê toe: “Kom!” En elkeen wat dit hoor, moet sê: “Kom!” En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat smag na die lewegewende water, moet kom haal, verniet! Ek getuig plegtig teenoor elkeen wat die woorde van hierdie profetiese boekrol hoor: As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom as straf die plae byvoeg waarvan in hierdie boekrol geskryf is, en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boekrol wegneem, sal God sy deel wegneem aan die boom van die lewe en aan die heilige stad waarvan in hierdie boekrol geskryf is. Hy wat hierdie dinge getuig, sê: “Ja, Ek kom gou!” Amen! Kom, Here Jesus! Mag die genade van die Here Jesus met julle almal wees.
DIE OPENBARING 22:1-21 Bybel vir almal (ABA)
Toe het die engel vir my 'n rivier gewys. Die rivier was baie helder, soos kristal. In die rivier was water wat mense altyd laat lewe. Die rivier kom uit die troon van God en van die Lam. Die rivier het gevloei in die middel van die straat. Die bome van die lewe het gestaan langs altwee kante van die rivier. Die bome het twaalf soorte vrugte gedra, hulle het elke maand vrugte gedra. Die volke gebruik die bome se blare om gesond te word. God sal niemand en niks in die stad vervloek nie. En God en die Lam se troon sal in die stad wees, en God se dienaars sal Hom aanbid. Hulle sal God sien, en God se Naam sal op hulle voorkoppe geskryf wees. Daar sal nie meer nag wees nie. Daar sal nie meer lig van 'n lamp of die son wees nie. Dit sal nie nodig wees nie, want die Here God sal 'n lig wees vir hulle. En hulle sal altyd en altyd regeer. Die engel het vir my gesê: “Die dinge wat in hierdie boek geskryf is, is waar. 'n Mens kan dit glo, want die Here God het vir die profete gesê wat hulle moet sê. Ja, God het sy engel gestuur om vir sy dienaars die dinge te wys wat gou moet gebeur.” Christus het gesê: “Ek sal gou kom! In hierdie boek is die dinge geskryf wat moet gebeur. As iemand dit lees en dit glo, dan is hy gelukkig!” Ek, Johannes, het al die dinge gesien en gehoor wat in hierdie boek geskryf is. 'n Engel het dit vir my gewys. Toe ek dit alles gesien en gehoor het, het ek voor die engel se voete gekniel en ek wou hom aanbid. Maar hy het vir my gesê: “Jy moenie vir mý aanbid nie, want ek dien ook vir God. Ek dien Hom ook soos jy en jou vriende, die profete, en soos al die ander mense wat hierdie boek lees en wat doen wat daarin geskryf is.” Die engel het ook vir my gesê: “In hierdie boek is die dinge geskryf wat moet gebeur. Jy moenie stilbly daaroor nie, want daar is min tyd voordat dit sal gebeur! Die mense wat verkeerde dinge doen, moet nog meer verkeerde dinge doen! En die mense wat slegte dinge doen, moet nog meer slegte dinge doen! Maar die mense wat doen wat God wil hê, moet nog meer dinge doen wat God wil hê! En die mense wat reg lewe, moet aanhou om reg te lewe!” Toe sê Christus weer: “Ek sal gou kom! Ek weet wat elke mens gedoen het en Ek sal elke mens beloon. Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde. “Die mense wat reg lewe, is gelukkige mense! Hulle is soos mense wat skoon klere aangetrek het. Hulle mag eet van die vrugte van die bome van die lewe! En hulle mag deur die poorte ingaan na God se stad! Buite God se stad is die slegte mense en die mense wat toor en die mense wat onsedelik lewe en die mense wat ander mense vermoor en die mense wat afgode dien en almal wat daarvan hou om te lieg. “Ek, Jesus, het my engel na julle toe gestuur. Die engel het al die dinge in hierdie boek vir die gemeentes gesê. Ek, Jesus, is die Wortel van Dawid, die Nageslag van Dawid, en die Blink Môrester.” Ja, die Gees en die kerk, Jesus se bruid, sê: “U moet kom!” Elkeen wat dit hoor, moet sê: “U moet kom!” As iemand geestelik dors is, dan moet hy water kom haal, water wat hom altyd sal laat lewe, water wat verniet is. Die dinge wat moet gebeur, is in hierdie boek geskryf. Ek sê nou vir almal wat hierdie boek lees: “As iemand sê dat God dinge sal laat gebeur, en daardie dinge is nie in hierdie boek geskryf nie, dan sal God hom straf! God sal vir hom die strawwe gee wat in hierdie boek geskryf is! En as iemand sê die dinge wat in hierdie boek geskryf is, sal nie gebeur nie, dan sal God hom straf! God sal sê hy mag nie eet van die vrugte van die boom van die lewe nie, en hy mag nie ingaan in die gewyde stad nie. In hierdie boek is geskryf van die boom van die lewe en van die gewyde stad.” Dit is die Here Jesus wat al hierdie dinge sê. Hy sê ook: “Ja, Ek sal gou kom!” Amen! U moet kom, Here Jesus! Ek bid dat die Here Jesus genadig sal wees vir julle almal!
DIE OPENBARING 22:1-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN hy het my getoon 'n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam. In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies. En daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie, en die troon van God en van die Lam sal daarin wees, en sy diensknegte sal Hom dien. En hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees. En nag sal daar nie wees nie; en hulle het geen lamp of sonlig nodig nie, omdat die Here God hulle verlig; en hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid. EN hy het vir my gesê: Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig; en die Here, die God van die heilige profete, het sy engel gestuur om sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur. Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar. En dit is ek, Johannes, wat dit gesien en gehoor het; en toe ek dit gehoor en gesien het, het ek neergeval om te aanbid voor die voete van die engel wat my hierdie dinge getoon het. Toe sê hy vir my: Moenie! want ek is 'n mededienskneg van jou en van jou broeders, die profete, en van hulle wat die woorde van hierdie boek bewaar. Aanbid God. En hy het vir my gesê: Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby. Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word. En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees. Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste. Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad. Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen. Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester. En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet. Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is. Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus! Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.
DIE OPENBARING 22:1-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het die engel my die rivier met die water van die lewe gewys. Dit is helder soos kristal en dit stroom uit die troon van God en van die Lam uit. Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte: elke maand lewer hy sy vrugte. Die blare van die boom bring genesing vir die nasies. Daar sal niks meer wees wat deur God vervloek is nie. Die troon van God en van die Lam sal in die stad wees, en sy dienaars sal Hom dien. Hulle sal Hom sien, en sy Naam sal op hulle voorkoppe wees. Daar sal nie meer nag wees nie. Die mense het nie die lig van 'n lamp en die lig van die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle sal tot in alle ewigheid regeer. Toe sê die engel vir my: “Hierdie woorde is betroubaar en waar. Die Here God, wat sy Gees aan die profete gee, het sy engel gestuur om vir sy dienaars te wys wat binnekort moet gebeur.” Jesus sê toe: “Kyk, Ek kom gou! Geseënd is elkeen wat die woorde van hierdie profetiese boek ter harte neem.” Dit is ek, Johannes, wat dit alles gehoor en gesien het. Toe ek dit gehoor en gesien het, het ek voor die voete van die engel wat dit alles vir my gewys het, op my knieë neergeval om hom te aanbid. “Pas op, moenie!” sê hy toe vir my. “Ek is 'n mededienaar van jou en van jou medegelowiges, die profete en dié wat die woorde van hierdie boek ter harte neem. Aanbid God!” Verder sê hy vir my: “Moenie die woorde van hierdie profetiese boek geheim hou nie, want die eindtyd is naby. Wie kwaad doen, moet voortgaan om kwaad te doen, en wie vuil is, moet vuil bly; maar wie doen wat reg is, moet voortgaan om reg te doen, en wie heilig is, moet heilig bly.” Jesus sê toe weer: “Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde. “Geseënd is dié wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan. Buitekant is die dwaalleraars, die bedrieërs en die onsedelikes, die moordenaars en die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen. “Ek, Jesus, het my engel gestuur om dit alles aan julle in die gemeentes te betuig. Ek is die Wortel, dit is, die Nakomeling van Dawid. Ek is die helder Môrester.” Die Gees en die bruid sê: “Kom!” En elkeen wat dit hoor, moet sê: “Kom!” En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet! Ek betuig aan almal wat die woorde van hierdie profetiese boek hoor: As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is; en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boek wegneem, sal God sy deel aan die boom van die lewe en aan die heilige stad wegneem waarvan in hierdie boek geskrywe is. Hy wat dit alles getuig, sê: “Ja, Ek kom gou!” Amen! Kom, Here Jesus! Die genade van die Here Jesus sal by almal wees.
DIE OPENBARING 22:1-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe het die engel aan my 'n rivier met die water van die lewe gewys. Dit was helder soos kristal, en het gestroom uit die troon van God en die Lam. In die middel, met die hoofstraat aan die een kant en die rivier aan die ander kant, staan die boom van die lewe, wat twaalf keer vrugte dra – elke maand dra dit vrug. En die blare van die boom bring genesing vir die nasies. Daar sal geen vloek meer wees nie. Die troon van God en die Lam sal in die stad wees, en sy diensknegte sal Hom dien. Hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam is op hulle voorkoppe. Daar sal ook nie meer nag wees nie. Die behoefte aan die lig van 'n lamp en die lig van die son sal nie meer bestaan nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle vir ewig en ewig as konings sal heers. Toe het die engel aan my gesê: “Hierdie woorde is betroubaar en waar. Die Here, die God van die geeste van die profete, het sy engel gestuur om aan sy diensknegte te wys wat binnekort moet gebeur. ” “Kyk, Ek kom gou! Gelukkig is dié wat vashou aan die woorde van die profesie van hierdie boekrol. ” Ek, Johannes, is die een wat hierdie dinge gehoor en gesien het. Toe ek dit gehoor en gesien het, het ek in aanbidding neergeval aan die voete van die engel wat hierdie dinge aan my gewys het. Maar hy het vir my gesê: “Moet dit nie doen nie! Ek is net 'n dienskneg saam met jou en jou broers, die profete, en saam met diegene wat vashou aan die woorde van hierdie boekrol. Aanbid God!” Hy het ook vir my gesê: “Moenie die woorde van die profesie van hierdie boekrol verseël nie, want die bestemde tyd is naby. Wie onreg pleeg, laat hy nog meer onreg pleeg; wie onrein is, laat hy nog meer onrein word; maar wie regverdig is, laat hy nog meer geregtigheid beoefen; en wie heilig is, laat hy nog meer heilig word.” “Kyk, Ek kom gou! En die beloning is by My, om elkeen volgens sy optrede te beloon. Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde. Gelukkig is diegene wat hulle lang stolas was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe, en die stad deur die poorte kan binnegaan. Die honde bly buite, ook die towenaars en die hoereerders, die moordenaars en die afgodedienaars, en ook elkeen wat die leuen liefhet en beoefen. “Ek, Jesus, het my engel gestuur om teenoor julle oor hierdie dinge in die gemeentes te getuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die helder môrester. ” En die Gees en die bruid sê: “Kom!” En laat elkeen wat luister, sê: “Kom!” En laat elkeen wat dors het, kom. En laat elkeen wat dit begeer, die water van die lewe kom kry, verniet! Ek getuig teenoor elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boekrol hoor: “As iemand iets hieraan toevoeg, sal God die plae waarvan in hierdie boekrol geskryf is, aan hom toevoeg. En as iemand van die woorde van die boekrol van hierdie profesie wegneem, sal God sy aandeel aan die boom van die lewe, en aan die heilige stad waarvan in hierdie boekrol geskryf is, wegneem.” Hy wat hierdie dinge getuig, sê: “Ja, Ek kom gou! ” •Amen! Kom, Here Jesus! Die genade van die Here Jesus bly by julle almal.
DIE OPENBARING 22:1-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy het my 'n suiwer rivier van water van die lewe getoon, helder soos kristal, wat uitvloei uit die troon van God en van die Lam. In die middel van die straat en aan weerskante van die rivier was daar die boom van die lewe wat twaalf soorte vrugte dra en elke maand sy vrugte dra; en die blare van die boom was vir die genesing van die nasies. En daar sal geen vloek meer wees nie, maar die troon van God en van die Lam sal daarin wees; en sy dienaars sal hom dien. En hulle sal sy aangesig sien; en sy naam sal op hulle voorhoofde wees. En daar sal geen nag daar wees nie; en hulle het geen kers of sonlig nodig nie; want die Here God gee hulle lig, en hulle sal as konings heers tot in alle ewigheid. En hy het vir my gesê: Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig; en die Here, die God van die heilige profete, het sy engel gestuur om aan sy dienaars te wys wat binnekort gedoen moet word. Kyk, Ek kom gou; geseënd is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar. En ek, Johannes, het hierdie dinge gesien en dit gehoor. En toe ek dit gehoor en gesien het, het ek neergeval om te aanbid voor die voete van die engel wat my hierdie dinge laat sien het. Toe sê hy vir my: Pas op dat jy dit nie doen nie, want ek is jou mededienskneg en van jou broers, die profete, en van die wat die woorde van hierdie boek bewaar: aanbid God. En hy sê vir my: Verseël nie die woorde van die profesie van hierdie boek nie, want die tyd is naby. Wie onregverdig is, laat hom nog steeds onregverdig wees; en wie vuil is, laat hom nog vuil word; en wie regverdig is, laat hom nog steeds regverdig wees; en wie heilig is, laat hom nog heilig wees. En kyk, Ek kom gou; en my loon is by My, om elkeen te gee soos sy werk sal wees. Ek is Alfa en Omega, die begin en die einde, die eerste en die laaste. Geseënd is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan. Want buite is honde en towenaars en hoereerders en moordenaars en afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en maak. Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge in die gemeentes aan julle te betuig. Ek is die wortel en die nageslag van Dawid, en die helder môrester. En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat dit hoor sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom. En elkeen wat wil, laat hom die water van die lewe verniet neem. Want ek getuig aan elke mens wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, sal God oor hom die plae byvoeg wat in hierdie boek geskrywe is. En as iemand die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge wat in hierdie boek geskrywe is. Hy wat hierdie dinge getuig, sê: Ek kom tog gou. Amen. Tog, kom, Here Jesus. Die genade van Onse Here Jesus Christus sy met julle almal. Amen.
DIE OPENBARING 22:1-21 Die Boodskap (DB)
Die engel wys toe ook vir my ’n rivier. Die water van die rivier was kristalhelder. Wie hierdie water drink, leef vir ewig. Toe ek mooi kyk, sien ek dat hierdie rivier uit die troon van God en die Lam stroom. Dit loop in die middel van die straat langs. Die boom wat lewe gee, was aan weerskante van die stroom geplant. Die boom het twaalf soorte vrugte gedra, een soort elke maand van die jaar. Daar was dus altyd genoeg vrugte om te eet. Selfs die blare van die boom het mense van hulle sondes en skuld genees. Daar sal nie ’n enkele ding oorbly waarmee God ontevrede is nie. God en die Lam se troon sal in die stad staan. Daar sal hulle regeer. Al sy mense wat aan Hom gehoorsaam is, sal Hom daar met groot oorgawe en respek dien. Hulle sal reguit na God kan kyk en sien hoe Hy lyk. Dat hulle aan God alleen behoort, sal uit hulle straal, want God se Naam sal oor hulle voorhoof geskryf staan. Dit sal ook nooit donker word nie. Daarom sal lampe, ligte en selfs die son oorbodig wees. Die rede is dat die Here God self vir hulle soos lig sal wees. Hulle sal vir ewig en altyd soos konings leef. Nooit weer sal hulle iemand anders as net die Here dien nie. En die engel sê toe vir my: “Jy kan al hierdie woorde maar glo. Dit is waar en niemand hoef daaroor te twyfel nie. Die Here God het mos sy boodskappers van ouds gebruik om sy woord te verkondig. Dieselfde God het nou sy boodskapper gestuur om vir al die mense wat Hom so getrou dien te wys wat een van die dae moet gebeur. Maak jou reg; Ek kom gou! Enigeen wat die boodskap van God in hierdie boek lees, moet homself baie gelukkig ag!” Ek, Johannes, het al hierdie dinge met my eie ore gehoor en met my eie oë gesien. Toe ek dit gesien en gehoor het, het ek net daar op my knieë neergesak. Daar aan sy voete wou ek die engel wat my alles gewys het, eer en soos God aanbid. “Wag, moenie!” sê die engel toe. “Net soos jy is ek ook net iemand wat God dien. Daar is geen verskil tussen my en jou en al die ander boodskappers van God, al die broers en susters en die mense wat die boodskap van hierdie boek ernstig opneem nie. Ons almal moet dieselfde doen: eer en aanbid God!” Hy sê verder vir my: “Moenie hierdie boek met die boodskap van God geheim hou of iewers wegsteek nie. Die tyd dat dit alles moet gebeur, is voor die deur. Laat die een wat verkeerde dinge doen, maar daarmee aanhou. Die een wat walglik wil wees, moet dit maar wees. Die een wat reg leef, moet so aanhou en die een wat net vir God wil leef, moet so bly leef.” “Kyk, Ek is op pad, Ek kom gou,” sê Christus. “My lys van wie beloon moet word, bring Ek saam. Ek sal elkeen gee wat hy volgens sy optrede verdien. Ek is die Een by wie alles begin en by wie alles ook eindig; die Eerste en die Laaste. Niks bestaan of gebeur buite My om nie. “Hoe gelukkig is die mense wat hulle klere skoon was sodat hulle reg is vir God se groot fees! Hulle sal reguit deur die poorte van die stad kan instap. Die boom wat aan mense lewe gee, sal hulle s’n wees. Mense wat vieslik geleef het, hulle met allerhande geeste en toordery opgehou het, sal buite moet bly. In God se stad is daar nie plek vir hulle nie. Dit geld ook vir die onsedelike mense en mense wat allerhande ander dinge behalwe die ware God aanbid het. Ja, die mense wat hulle rug vir die waarheid gedraai het en van leuens leef, sal nie die binnekant van God se stad sien nie. “Ek, Jesus, het ’n engel as boodskapper gestuur om al hierdie dinge aan die gemeentes van God te vertel. Ek is ’n afstammeling van Dawid; uit sy geslag is Ek gebore. Ek is soos die helder ster wat die nuwe dag aankondig.” Die Gees asook die bruid sê: “Kom!” Wie hierdie woorde hoor, moet ook sê: “Kom!” Laat die een wat geestelik dors het, kom. Enigeen wat graag wil, kan die water wat ’n mens vir ewig laat leef, verniet kom kry. En nou ’n waarskuwing: dit gaan aan almal wat die boodskap van hierdie boek hoor. Ek waarsku die persoon wat enigiets by hierdie boodskap bysit. God sal hom met al die plae en slegte dinge tref waarvan daar in hierdie boek vertel word. Iemand wat iets van God se boodskap in hierdie boek weglaat, moet ook gewaarsku wees. God sal sy aandeel in die boom wat aan mense die lewe gee en sy plek in die heilige stad vir ewig wegneem. (Dit is die boom en die stad waarvan vroeër in die boek gepraat is.) Hy wat hierdie dinge aan ons met soveel oortuiging vertel het, sê nou weer: “Sowaar, Ek is op pad; Ek kom gou.” “Laat dit wees soos U sê! Kom, Here Jesus!” Mag die Here Jesus baie goed vir julle almal wees.
DIE OPENBARING 22:1-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe het die engel aan my die rivier met lewegewende water gewys. Dit is helder soos kristal en vloei vanaf die troon van God en van die Lam. Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Dit dra twaalf keer per jaar vrug; elke maand dra hy sy vrugte. En die blare van dié boom gee genesing aan die nasies. Geen vervloeking van enigiets sal langer meer bestaan nie. Die troon van God en van die Lam sal in die stad staan en sy diensknegte sal Hom dien. Hulle sal Hom vol in die oë kyk, en sy Naam sal op hulle voorkoppe wees. Daar sal ook geen behoefte aan die lig van ’n kandelaar of van die son wees nie omdat die Here God vir hulle lig sal gee, en hulle sal vir altyd as konings regeer. Die engel het toe aan my gesê: “Hierdie woorde is geloofwaardig en betroubaar. Die Here God wat sy Gees aan die profete gegee het, het sy engel gestuur om aan sy diensknegte te wys wat binnekort moet gebeur.” Jesus sê toe: “Kyk, Ek kom gou! Geseënd is elkeen wat die profetiese woorde in hierdie boekrol gehoorsaam.” Ek, Johannes, het hierdie dinge gehoor en gesien. En toe ek dit gehoor en gesien het, het ek in aanbidding neergeval voor die voete van die engel wat al hierdie dinge aan my uitgewys het. Maar hy sê aan my: “Oppas, moenie! Ek is maar net ’n mededienskneg van jou en van jou medegelowiges, naamlik die profete, en van dié wat die woorde van hierdie boekrol gehoorsaam. Aanbid God!” Hy het toe aan my ’n opdrag gegee: “Moenie die woorde van hierdie profetiese boekrol verseël nie, want die eindtyd is naby. “Wie aanhou om kwaad te doen, moet nog meer kwaad doen en wie vuil is, moet vuil bly, maar wie reg optree, moet voortgaan om reg te doen, en wie aan God toegewy is, moet ook verder aan God toegewy bly.” Jesus sê: “Kyk, Ek kom gou! My loon kom saam met My om almal te beloon volgens wat hulle gedoen het. Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.” Geseënd is dié wat hulle klere skoon was sodat hulle aanspraak mag hê op die boom van die lewe, en mag ingaan deur die poorte van die stad. Al die onreines bly buite – die towenaars, dié wat seksuele sondes doen, die moordenaars, die afgodsdienaars en elkeen wat die leuen liefhet en lieg. “Ek, Jesus, het my engel gestuur om al die dinge aan julle in die gemeentes te verkondig. Ek is die Wortel, die Nakomeling van Dawid, die helder Môrester.” Die Gees en die bruid sê toe: “Kom!” En elkeen wat dit hoor, moet sê: “Kom!” En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat smag na die lewegewende water, moet kom haal, verniet! Ek getuig plegtig teenoor elkeen wat die woorde van hierdie profetiese boekrol hoor: As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom as straf die plae byvoeg waarvan in hierdie boekrol geskryf is, en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boekrol wegneem, sal God sy deel wegneem aan die boom van die lewe en aan die heilige stad waarvan in hierdie boekrol geskryf is. Hy wat hierdie dinge getuig, sê: “Ja, Ek kom gou!” Amen! Kom, Here Jesus! Mag die genade van die Here Jesus met julle almal wees.