DIE OPENBARING 20:4
DIE OPENBARING 20:4 Bybel vir almal (ABA)
Toe het ek trone gesien, en daar het mense op die trone gesit. God het gesê daardie mense mag oordeel. Ek het ook die gelowiges gesien wat dood is, mense het daardie gelowiges se koppe afgekap omdat hulle vir ander mense vertel het van Jesus en van wat God gesê het. Hulle het nie die dier en sy beeld aanbid nie en hulle het ook nie die merk van die dier op hulle voorkoppe of op hulle hande laat maak nie. God het hulle weer laat lewe en hulle het 1 000 jaar lank saam met Christus regeer.
DIE OPENBARING 20:4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.
DIE OPENBARING 20:4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het ek trone gesien en die siele van die mense wat onthoof is omdat hulle aan die getuienis van Jesus en die woord van God vasgehou het. Hulle het op die trone gaan sit, en aan hulle is die bevoegdheid gegee om as regters op te tree. Dit is hulle wat nie die dier en sy beeld aanbid het nie en nie die merk op die voorkop en op die hand aanvaar het nie. Hulle het lewend geword en saam met Christus duisend jaar lank geregeer.
DIE OPENBARING 20:4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek het ook trone gesien, en aan dié wat daarop sit, is mag verleen om te oordeel. Ek het die siele gesien van hulle wat onthoof is vanweë die getuienis oor Jesus en die woord van God. Dit is hulle wat nie neergeval het om die dier en sy beeld te aanbid nie, en nie die merk op die voorkop of op die hand ontvang het nie. Hulle het lewend geword, en saam met •Christus regeer, 'n duisend jaar lank.
DIE OPENBARING 20:4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en oordeel is aan hulle gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is ter wille van die getuienis van Jesus en vir die woord van God, en wat die dier nie aanbid het nie, en ook nie sy beeld, en het sy merk nie op hulle voorhoofde of in hulle hande ontvang nie; en hulle het geleef en saam met Christus geregeer duisend jaar lank.
DIE OPENBARING 20:4 Die Boodskap (DB)
Toe ek kyk, sien ek ’n klomp trone. Op die trone was mense vir wie God gesê het dat hulle maar namens Hom oor sondaars kan oordeel. Ek het ook die siele gesien van elke mens wie se kop afgekap is omdat hy met oortuiging oor Jesus en die boodskap van God gepraat het. Hulle het geweier om die dier of sy beeld soos God te aanbid. Hulle het ook nie die dier se teken op hulle voorkoppe of hande laat maak nie. Hulle almal het lewendig geword. Die volle 1 000 jaar het hulle saam met Jesus geheers.
DIE OPENBARING 20:4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe het ek trone gesien, en dié wat daarop sit, is die bevoegdheid gegee om te oordeel. Ek het ook die siele gesien van hulle wat onthoof is as gevolg van hulle getuienis aangaande Jesus en die boodskap van God. Dit is hulle wat nie voor die monster en sy standbeeld neergeval het in aanbidding nie, en nie die merkteken op hulle voorkop en op hulle hand ontvang het nie. Hulle het toe weer lewend geword en saam met Christus vir 1 000 jaar lank regeer.