DIE OPENBARING 19:7-15 - Compare All Versions
DIE OPENBARING 19:7-15 ABA (Bybel vir almal)
Ons moet bly wees! Baie bly! Kom ons prys Hom, ons Koning! Want dit is nou die tyd wanneer die Lam gaan trou! Ja, sy bruid het haarself mooi gemaak! God het vir haar gesê sy mag mooi klere aantrek, klere wat blink en skoon is! Ja, die mooi klere is die goeie dinge wat die mense gedoen het, die mense wat aan God behoort.” En die engel het vir my gesê: “Jy moet skryf: ‘God het party mense genooi na die ete wanneer die Lam trou. Daardie mense is gelukkige mense!’ ” Die engel het ook vir my gesê: “God sê dit, en alles wat Hy sê, is waar!” En ek het voor die engel gekniel om hom te aanbid, maar hy het vir my gesê: “Jy moenie dit doen nie! Ek is ook 'n dienaar van God, soos jy en jou vriende. Ek glo ook in Jesus, soos julle. Jy moenie vir my aanbid nie, jy moet vir Gód aanbid! Want die dinge wat ons van Jesus glo, is die dinge wat al die profete sê.” En ek het gesien die hemel is oop. Toe sien ek 'n wit perd! Die Persoon wat op die perd gesit het, se Name was “Hy wat altyd doen wat Hy sê” en “Die Waarheid.” Want wanneer Hy oordeel en oorlog maak, dan doen Hy altyd wat reg is. Sy oë was soos vuurvlamme, en daar was baie krone op sy kop. Daar was 'n Naam geskryf op Hom, niemand het die Naam geken nie, net Hyself het die Naam geken. Hy het klere gedra wat vol bloed was. Sy Naam was “Die Woord van God.” Die leërs van die hemel het agter Hom gery op wit perde. Hulle het mooi klere aangehad, klere wat wit en skoon is. 'n Skerp swaard het gekom uit die mond van die Persoon op die perd. Hy het die mense van die volke doodgeslaan met die swaard. Hy sal hulle met 'n yster-septer regeer. Ja, God wat alles kan doen, is baie kwaad vir hulle. Daarom sal die Persoon op die perd hulle straf. Hy sal hulle straf soos wanneer 'n mens druiwe in 'n parskuip stukkend trap.
DIE OPENBARING 19:7-15 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. Toe sê hy vir my: Skryf — salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God. En ek het voor sy voete neergeval om hom te aanbid; maar hy het vir my gesê: Moenie! Ek is 'n mededienskneg van jou en van jou broeders wat die getuienis van Jesus het. Aanbid God. Want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie. TOE het ek die hemel geopend gesien; en daar was 'n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos 'n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het 'n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met 'n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar 'n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.
DIE OPENBARING 19:7-15 AFR83 (Afrikaans 1983)
Laat ons bly wees en juig en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak. God het haar dit vergun om fyn, helder blink klere aan te trek.” Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die gelowiges. Toe sê die engel vir my: “Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is.” Verder sê hy vir my: “Dit is die woorde van God, en hulle is waar.” Toe het ek voor sy voete op my knieë neergeval om hom te aanbid. “Pas op, moenie!” sê hy toe vir my. “Ek is 'n mededienaar van jou en van jou medegelowiges wat aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. Aanbid God, want dit is Jesus wat die getuienis gelewer het, en dit is die Gees wat die profesie gegee het.” Toe het ek gesien die hemel is oop. Daar was 'n wit perd. Sy Ruiter word die Getroue en die Betroubare genoem. Met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog. Sy oë het soos vuur gevlam, en op sy kop was daar baie heerserskrone. Daar was 'n Naam op Hom geskrywe wat niemand anders ken nie, net Hy self. Hy het klere aangehad wat met bloed deurweek was, en sy Naam is: “Die Woord van God.” Die leërs in die hemel het op wit perde agter Hom aan gery. Hulle het fyn, helder wit klere aangehad. Uit sy mond het daar 'n skerp swaard uitgekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met 'n ystersepter regeer. Hy sal self die parskuip trap vir die wyn, die wyn van die toorn en die oordeel van God, die Almagtige.
DIE OPENBARING 19:7-15 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Laat ons bly wees en jubel, en aan Hom die heerlikheid gee, want die •bruilofsfees van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar gereedgemaak. En sy is toegelaat om blink klere van suiwer, fyn linne aan te trek. Want dié linne is die regverdige dade van die heiliges. ” Toe sê die engel vir my: “Skryf dit neer: ‘Gelukkig is hulle wat uitgenooi is na die bruilofsfees van die Lam.’ ” Hy het ook vir my gesê: “Hierdie woorde van God is waar.” En ek het voor sy voete neergeval om hom te aanbid. Maar hy sê vir my: “Moet dit nie doen nie! Ek is net 'n mededienskneg saam met jou en jou broers wat die getuienis oor Jesus huldig. Aanbid God, want die getuienis oor Jesus is die gees van die profesie. ” Toe het ek gesien dat die hemel geopen is. En kyk, daar was 'n wit perd! Hy wat daarop sit, word getrou en waar genoem, en met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog. Sy oë was soos 'n vlammende vuur, en op sy kop was daar baie krone. En Hy dra 'n geskrewe Naam, wat niemand ken nie, behalwe net Hy self. Hy het klere aan wat met bloed deurweek is, en sy Naam is Die Woord van God. Toe het die leërs wat in die hemel is, geklee in blink klere van suiwer, fyn linne, Hom op wit perde gevolg. Uit sy mond het 'n vlymskerp swaard gekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer. Hy sal ook self die parskuip van die geweldige toorn van God, die Almagtige, trap.
DIE OPENBARING 19:7-15 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom eer gee, want die bruilof van die Lam het gekom, en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en wit fyn linne, want die fyn linne is die geregtigheid van die heiliges. En Hy sê vir my: Skryf: Geseënd is die wat na die bruilofsmaal van die Lam geroep is. En hy sê vir my: Dit is die ware woorde van God. En ek het voor sy voete neergeval om hom te aanbid. En hy sê vir my: Pas op, doen dit nie: Ek is jou mededienskneg en van jou broers wat die getuienis van Jesus het; aanbid God, want die getuienis van Jesus is die gees van profesie. En ek het die hemel geopend gesien, en daar was 'n wit perd; en Hy wat op Hom sit, is genoem Getrou en Waaragtig, en in geregtigheid oordeel en voer Hy oorlog. Sy oë was soos 'n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en hy het 'n naam laat opskrywe wat niemand geken het nie, behalwe hy self. En hy was bekleed met 'n kleed wat in bloed gedoop was, en sy naam is die Woord van God. En die leërs wat in die hemel was, het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En 'n skerp swaard gaan uit sy mond uit om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer; en Hy trap die parskuip van die grimmigheid en toorn van God, die Almagtige.
DIE OPENBARING 19:7-15 DB (Die Boodskap)
“Laat ons vrolik feesvier. Laat ons uitbundig van vreugde oorloop. Laat ons vir almal vertel hoe groot en belangrik God is. Ons het goeie rede. Die troudag van die Lam is hier! Sy bruid het haar pragtig reggemaak. “God het vir haar die mooiste wit rok gegee om aan te trek. Dit is van die fynste, kosbaarste, witste materiaal gemaak wat jy jou maar kan voorstel. Hierdie kosbare materiaal is eintlik gemaak van al die regte en goeie dinge wat God se mense gedoen het.” En die engel sê toe vir my: “Skryf! Party mense is baie gelukkig. Dit is elkeen wat na die bruilofsfees van die Lam uitgenooi is. Daaraan hoef niemand te twyfel nie. Dit is absoluut waar, want God self sê dit.” Ek sak toe op my knieë voor die engel neer om hom te aanbid. Dadelik sê hy: “Moenie dit doen nie! Ek is, net soos jy, ook net iemand wat God dien. Ek is net een van jou broers wat met oortuiging vir ander van Jesus vertel. Nee, aanbid God! Die boodskap oor Jesus is die boodskap wat die Heilige Gees van God self vir ons bring.” Toe ek weer sien, vou die hemel voor my oop. In die hemel was daar ’n wit perd met ’n Ruiter. Die Ruiter is die Een wat jou nooit in die steek laat nie. Hy is opreg en eg in alles wat Hy doen en sê. Sy oordeel is ook altyd reg en wanneer Hy oorlog maak, is dit nie onregverdig nie. Sy oë was soos vuurvlamme wat alles sien. Sy kop was vol krone soos heersers dra. Hy het ook ’n Naam gedra wat niemand geken het nie. Net Hy self het geweet wat dit beteken. Sy klere was deurweek met bloed. Mense het van Hom gepraat as die “Woord van God”; die Een deur wie God sy wil bekendmaak. Die soldate van die hemel het op wit perde agter die Ruiter aangery. Hulle het nie oorlogsklere aangehad nie. Hulle het feesklere aangehad. Die klere was van die mooiste fyn, wit materiaal gemaak. Uit die Ruiter se mond het daar ’n vlymskerp swaard gekom. Dit is sy wapen waarmee Hy mense beveg en oorwin. Hy regeer hulle met ’n ysterhand. Hy sorg vir oordeel en straf. Soos iemand wat druiwekorrels stukkend trap, so sal Hy die woede en straf van die almagtige God oor mense laat losbars.
DIE OPENBARING 19:7-15 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
laat ons juig en jubel en aan Hom eer betoon, want die tyd het aangebreek vir die bruilof van die Lam, en sy bruid het haarself daarop voorberei. Sy is toegelaat om fyn, helder skoon linne aan te trek.” Die fyn linneklere is die regverdige dade van hulle wat aan God toegewy is. Die engel het toe vir my gesê: “Skryf: Geseënd is hulle wat na die bruilofsfees van die Lam uitgenooi is.” Hy sê toe ook aan my: “Die woorde wat van God af kom, is betroubaar.” Toe het ek voor sy voete neergeval om hom te aanbid. Hy sê egter vir my: “Oppas, moenie! Ek is net jou mededienskneg, en van al jou medegelowiges wat getuienis van hulle geloof in Jesus gelewer het. Buig neer in aanbidding voor God! Die kern van die profesie is inderdaad om van Jesus te getuig.” Toe het ek gesien die hemel is oopgemaak. En kyk! Daar verskyn ’n wit perd. Sy Ruiter word die Getroue en Betroubare genoem. Hy oordeel op ’n regverdige manier en voer ook só oorlog. Sy oë was soos ’n vuurvlam, en op sy kop was daar baie heerserskrone. Op Hom was ’n Naam geskryf wat niemand anders as net Hyself geken het nie. Hy het klere aangehad wat in bloed gedoop is, en sy Naam was: Die Woord van God. Die leërs van die hemel het Hom op wit perde gevolg. Hulle het fyn, helder wit klere aangehad. Uit sy mond het daar toe ’n skerp swaard gekom om die nasies mee te verslaan, en Hy sal hulle soos met ’n ysterstaf beheer. Hy sal self die parskuip vir die wyn trap, dit is die wyn van die toorn en woede van God, die Almagtige.