DIE OPENBARING 19:16-21 - Compare All Versions

DIE OPENBARING 19:16-21 AFR83 (Afrikaans 1983)

Op sy klere, by sy heupe, was daar 'n Naam geskrywe: “Die Koning van die konings en die Here van die heersers.” Toe het ek 'n engel by die son sien staan. Hy het met 'n harde stem uitgeroep en vir al die roofvoëls, wat hoog in die lug vlieg, gesê: “Kom, kom bymekaar vir die groot feesmaal wat God gereed maak! Kom eet die vleis van die konings, die vleis van die opperbevelhebbers, die vleis van die magtiges en die vleis van die perde en hulle ruiters, ja, die vleis van allerhande mense: vryes en slawe, klein en groot.” Toe het ek gesien dat die dier en die konings van die aarde met hulle leërs bymekaargekom het om oorlog te maak teen die Ruiter op die wit perd en teen sy leër. Die dier is toe gevange geneem en saam met hom ook die vals profeet wat die wondertekens vir die dier gedoen en daarmee die mense mislei het wat die merk van die dier aanvaar en sy beeld aanbid het. Hulle twee is lewend in die vuurpoel gegooi wat met swael brand. Die ander mense is doodgemaak met die swaard wat uitgegaan het uit die mond van die Ruiter op die wit perd. Al die roofvoëls het hulle dik geëet aan die vleis.

DIE OPENBARING 19:16-21 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here. En ek het een engel sien staan in die son; en hy het met 'n groot stem uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg: Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God, dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot. En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees.

DIE OPENBARING 19:16-21 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Op sy kleed, by die heup, was ’n Naam geskryf: “Koning van die konings en Here van die heersers.” Toe het ek ’n engel by die son sien staan. Hy het met ’n kragtige stem uitgeroep, en aan al die voëls wat in die middel van die hemel vlieg, gesê: “Kom, kom bymekaar vir die groot feesmaaltyd van God! Kom verslind die vleis van die konings en die vleis van die militêre aanvoerders, die vleis van die magtiges en die vleis van die perde en hulle ruiters, en ook die vleis van al die vry mense, slawe, klein en groot!” Toe het ek gesien dat die monster die konings van die aarde met hulle leërs mobiliseer om oorlog te maak teen Hom wat op die perd sit en teen sy leërmag. Maar die monster is gevange geneem en saam met hom ook die vals profeet wat die wondertekens ter ondersteuning van die monster gedoen het. Daarmee het hy die mense verlei wat die merkteken van die monster gedra en sy standbeeld aanbid het. Dié twee is lewendig in die vuurpoel gegooi wat met swael brand. Die oorblywende mense is toe om die lewe gebring met die swaard wat uitgegaan het uit die mond van Hom wat op die perd sit. Al die voëls het hulle dik gevreet aan hulle vleis.

DIE OPENBARING 19:16-21 DB (Die Boodskap)

Kyk op sy klere en op sy hemp, daar staan sy Naam geskryf: Hy is die Heerser oor almal wat heers; die Heer oor almal wat heer genoem word. My oog val toe op ’n engel wat so helder soos die son is. Hy het oorverdowend hard geskree. Hy het al die voëls geroep wat tussen die bome en wolke rondvlieg: “Kom hier! Kom saam vir die groot ete wat God vir julle voorberei! Kom vier fees op die liggame van regeerders, soldate, mense wat eers baie invloed gehad het. Ja, kom vreet die vleis van ruiters en perde. Of dit nou slawe of vry mense is, klein of groot, kom hou fees op hulle liggame.” Ek sien toe die dier en al die regeerders van hierdie wêreld met hulle soldate saamtrek. Hulle het hulle reggemaak om teen die Ruiter op die perd en sy soldate te veg. Die dier is toe gevang, hy en die een wat voorgee om oor God te praat, maar die hele tyd net lieg. Dit is die een wat al die wonderlike dinge saam met die dier gedoen en mense heeltemal mislei het. Ek praat van al daardie mense wat die merk van die dier op hulle laat maak en wat sy standbeeld aanbid het. Hierdie twee diere is net so lewendig in die see van vlamme gegooi. Die tonge van vuur was met swael gemeng. Die res is afgemaai met die swaard wat uit die mond van die Ruiter kom. Al die voëls het gekom en op hulle vleis geaas.

DIE OPENBARING 19:16-21 ABA (Bybel vir almal)

Daar was 'n Naam geskryf op die Persoon se klere en op sy heup. Die Naam was “Die Koning van die konings en die Here van almal wat regeer.” Toe sien ek 'n engel wat op die son staan. Hy het hard geroep en hy het vir al die voëls wat hoog in die lug vlieg, geskree: “Julle almal moet hiernatoe kom, want God sal vir julle baie kos gee om te eet! Julle mag die lyke van die konings eet, en die lyke van die generaals en die lyke van die belangrike mense, en die dooie perde en die lyke van die soldate wat op die perde gesit het. Ja, julle kan die lyke van al die mense eet, die lyke van die mense wat nie slawe is nie en die lyke van die mense wat slawe is, die lyke van die kinders en die lyke van die grootmense.” En toe sien ek dat die dier en die konings van die aarde en hulle leërs bymekaarkom. Hulle wou oorlog maak teen die Persoon op die wit perd en teen sy leër. Maar die Persoon op die perd het die dier gevang. Die Persoon het ook die vals profeet gevang. Dit was die vals profeet wat tekens gedoen het voor die dier. So het die vals profeet vir die mense dinge laat glo wat nie waar is nie, die mense wat die merk van die dier gekry het en wat die beeld van die dier aanbid het. Maar die Persoon op die wit perd het die dier en die vals profeet in die see van vuur en swael gegooi. Hy het hulle ingegooi terwyl hulle nog lewe. Die Persoon op die wit perd het die ander mense doodgemaak met die swaard wat uit sy mond gekom het. En die voëls het hulle lyke gevreet totdat hulle genoeg gehad het.

DIE OPENBARING 19:16-21 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Op sy klere, by sy heup, is 'n Naam geskryf: “Koning van die konings, en Heerser van die heersers”. En ek het een engel in die son sien staan. Hy het met 'n kragtige stem uitgeroep, en aan al die voëls wat hoog in die lug rondvlieg, gesê: “Kom hierheen, trek saam na die groot feesmaal van God, om die vleis van die konings en die vleis van die chiliarge te eet, die vleis van magtiges en die vleis van perde en hulle ruiters, die vleis van almal – vry mense sowel as slawe, geringes sowel as magtiges.” En ek het gesien dat die dier en die konings van die aarde met hulle leërs saamgetrek het om oorlog te maak teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. Die dier is toe gevang, en saam met hom ook die vals profeet, wat in sy teenwoordigheid die tekens gedoen het, waardeur hy die mense mislei het wat die merk van die dier dra en sy beeld aanbid. Hulle twee is lewendig in die vuurpoel met brandende swael gegooi. Die res van die mense is doodgemaak met die swaard wat gekom het uit die mond van die Een wat op die perd sit. En al die voëls het hulle versadig gevreet aan hulle vleis.

DIE OPENBARING 19:16-21 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: KONING VAN DIE KONINGS EN HERE VAN DIE HERE. En ek het 'n engel in die son sien staan; en hy het met 'n groot stem uitgeroep en aan al die voëls wat in die middel van die hemel vlieg, gesê: Kom en vergader julle na die maaltyd van die grote God; sodat julle die vlees van konings en die vlees van owerstes en die vlees van helde en die vlees van perde en van die wat daarop sit kan eet, en die vlees van alle mense, vrymense sowel as slawe, altwee klein en puik. En ek het die dier gesien en die konings van die aarde en hulle leërs wat bymekaar was om oorlog te voer teen hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevang, en saam met hom die valse profeet wat wonders voor hom gedoen het, waarmee hy die wat die merk van die dier ontvang het, en die wat sy beeld aanbid het, verlei het. Albei is lewend in 'n poel van vuur gewerp wat met swawel brand. En die oorblyfsel is gedood met die swaard van hom wat op die perd sit, en die swaard het uit sy mond uitgegaan, en al die voëls is versadig van hulle vlees.