DIE OPENBARING 19:1-6 - Compare All Versions

DIE OPENBARING 19:1-6 ABA (Bybel vir almal)

Na hierdie dinge het ek iets in die hemel gehoor. Dit was soos die stemme van baie mense. Hulle het gesê: “Ons prys ons God! Hy red ons! Hy is die Koning! Hy is baie sterk! Ons prys Hom, want Hy doen altyd wat waar en reg is! Want Hy het Babilon, die groot prostituut, gestraf! Sy het onsedelik gelewe, sy het al die mense op die aarde sleg gemaak. Sy het die mense doodgemaak wat vir God gedien het, maar God het haar gestraf!” Hulle het weer gesê: “Ons prys die Here! Die stad Babilon sal altyd en altyd brand!” En die 24 ouderlinge en die vier diere het gekniel en hulle het God aanbid, God wat op die troon sit. Hulle het gesê: “Amen! Ons prys die Here!” En ek het gehoor dat iemand by die troon sê: “Julle wat vir ons God dien, julle wat Hom respekteer, julle moet Hom prys, julle almal, kinders en grootmense!” En ek het iets gehoor. Dit was soos die stemme van baie mense en soos baie water wat raas en soos harde donderweer. Hulle het gesê

DIE OPENBARING 19:1-6 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN ná hierdie dinge het ek iets soos 'n groot stem van 'n groot menigte in die hemel gehoor wat sê: Halleluja, die heil en die heerlikheid en die eer en die krag aan die Here onse God! Want sy oordele is waaragtig en regverdig; want Hy het die groot hoer geoordeel wat die aarde met haar hoerery verderf het, en Hy het die bloed van sy diensknegte op haar gewreek. En vir die tweede maal het hulle gesê: Halleluja! En haar rook gaan op tot in alle ewigheid. En die vier-en-twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het neergeval en God aanbid wat op die troon sit, en gesê: Amen, Halleluja! En 'n stem het uit die troon uitgegaan en gesê: Prys onse God, al sy diensknegte, en julle wat Hom vrees, klein en groot! En ek het iets gehoor soos die stem van 'n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar.

DIE OPENBARING 19:1-6 AFR83 (Afrikaans 1983)

Hierna het ek iets gehoor soos die harde geluid van 'n groot menigte in die hemel wat uitroep: “Prys die Here! Die oorwinning, die heerlikheid en die mag behoort aan ons God! Regverdig en reg is sy oordele, want Hy het die oordeel voltrek oor die sedelose vrou wat die aarde deur haar onsedelikheid verwoes het. Hy het die dood van sy dienaars op haar gewreek.” Verder het hulle uitgeroep: “Prys die Here! Haar rook styg tot in alle ewigheid op.” Die vier en twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het gekniel en God aanbid wat op die troon sit. Hulle het gesê: “Amen! Prys die Here!” Toe het daar 'n stem van die troon af gekom wat gesê het: “Loof ons God, al sy dienaars, dié wat Hom vrees, klein en groot!” Ek het toe iets gehoor soos die geluid van 'n groot menigte, soos die gedruis van 'n groot watermassa en soos die gedreun van swaar donderweer. Hulle het uitgeroep

DIE OPENBARING 19:1-6 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Hierna het ek 'n harde klank gehoor, soos 'n groot skare, wat in die hemel jubel: “Halleluja! Die verlossing, die heerlikheid en die krag behoort aan ons God! Waar en regverdig is sy oordele, want Hy het die groot prostituut veroordeel, sy wat die aarde met haar hoerery verlei het, en Hy het die bloed van sy diensknegte wat deur haar hand omgekom het, gewreek. ” 'n Tweede keer het hulle uitgeroep: “Halleluja! Haar rook styg op, vir ewig en ewig. ” Die vier-en-twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het neergeval, en God wat op die troon sit, aanbid en gesê: “•Amen! Halleluja!” En 'n stem het vanaf die troon gekom wat sê: “Loof ons God, julle wat vir Hom ontsag het, al sy diensknegte – geringes en magtiges. ” En ek het iets gehoor soos die klank van 'n groot skare, en soos die klank van baie waters, en soos die klank van swaar donderslae wat uitroep: “Halleluja! Die Here, ons God, die Almagtige, het sy koningskap opgeneem.

DIE OPENBARING 19:1-6 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En ná hierdie dinge het ek 'n groot stem van baie mense in die hemel hoor sê: Halleluja! Verlossing en heerlikheid en eer en krag aan die Here onse God. Want waaragtig en regverdig is sy oordele, want Hy het die groot hoer geoordeel wat die aarde met haar hoerery verderf, en die bloed van sy dienaars uit haar hand gewreek. En weer het hulle gesê: Halleluja. En haar rook het opgegaan vir ewig en altyd. En die vier en twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het neergeval en God wat op die troon sit, aanbid en gesê: Amen! Halleluja. En 'n stem het uit die troon gekom en gesê: Prys onse God, al sy dienaars en julle wat Hom vrees, klein en groot! En ek het soos die stem van 'n groot menigte gehoor en soos die stem van baie waters en soos die stem van geweldige donderslae wat sê: Halleluja, want die Here God, die Almagtige, regeer.

DIE OPENBARING 19:1-6 DB (Die Boodskap)

Net hierna hoor ek uit die hemel ’n vreeslik harde lawaai. Dit het geklink soos ’n massa mense wat gelyk praat: “Halleluja, prys God! Ons God red ons, want Hy is sterker en belangriker as almal. Wat Hy besluit, is altyd regverdig en soos dit regtig moet wees. Hy het besluit om die goddelose vrou, Babilon, te straf. Sy het mos met haar goddeloosheid mense heeltemal deurmekaargekrap en mislei. God het haar dubbel en dwars terugbetaal vir elkeen wat sy doodgemaak het omdat hulle Hom gedien het.” Hulle het verder gesing: “Prys God, halleluja! Die rook van die smeulende stad trek vir ewig en altyd op.” Die 24 leiers van die kerk en die vier lewende wesens het vol eer en respek voor God neergesak. Hy het op sy troon gesit. Hulle het uitgeroep: “Laat alles net so wees! Prys God!” Ek hoor toe nog ’n stem uit die rigting van die troon: “Laat lof vir ons God oor julle lippe rol! Laat elkeen wat Hom dien dit doen, klein en groot, elkeen wat ontsag vir Hom het!” Toe het ek weer ’n groot skare hoor skree. Dit het soos ’n geweldige storm geklink met donderslae en reën wat neergiet: “Halleluja, prys God! Daar is niks wat die Here, ons God, nie kan doen nie. Hy heers oor almal.

DIE OPENBARING 19:1-6 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Hierna het ek iets gehoor soos die magtige lied van ’n groot skare in die hemel wat sing: “Halleluja! Die verlossing, die heerlikheid en die krag behoort aan ons God! Betroubaar en regverdig is sy oordele, want Hy het die oordeel voltrek oor die groot prostituut wat die aarde met haar seksuele wanpraktyke besoedel het. Hy het die bloed van sy diensknegte wat sy laat vloei het, gewreek.” ’n Tweede keer het hulle uitgeroep: “Halleluja! Die rook van die stad styg boontoe vir altyd.” Die 24 ouderlinge en die vier lewende wesens het neergeval in aanbidding voor God wat op die troon sit terwyl hulle aanhou sê: “Amen! Halleluja!” Van die troon se kant af het ’n stem opgeklink wat sê: “Loof ons God, al sy diensknegte, dié wat Hom met ontsag bejeën, klein en groot!” Ek het toe iets gehoor soos die geluid van ’n baie groot skare, soos die gedruis van baie waterstrome en soos die gerammel van swaar donderweer. Hulle het aanhou uitroep: “Halleluja! Die Here heers as koning, ons God, die Almagtige