DIE OPENBARING 10:1-11 - Compare All Versions
DIE OPENBARING 10:1-11 AFR83 (Afrikaans 1983)
Toe het ek 'n ander engel, 'n sterke, uit die hemel uit sien afkom. Hy het 'n wolk om hom gehad en 'n reënboog bokant sy kop. Sy gesig was soos die son en sy bene soos vuurpilare. In sy hand het hy 'n oop boekie gehad. Hy het toe met sy regtervoet op die see en met sy linkervoet op die land gaan staan en met 'n harde stem uitgeroep soos 'n leeu wat brul. Toe hy uitroep, het sewe donderslae geantwoord. En toe die sewe donderslae praat, wou ek dit opskrywe, maar ek het 'n stem uit die hemel hoor sê: “Hou geheim wat die sewe donderslae gesê het; moet dit nie opskrywe nie.” Die engel wat ek op die see en die land sien staan het, het toe sy regterhand na die hemel toe opgelig en 'n eed afgelê by Hom wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel en wat daarin is, die land en wat daarop is, die see en wat daarin is, geskep het. Hy het met 'n eed bevestig: “Daar is geen tyd meer oor nie. Op die dag wanneer die sewende engel op sy trompet gaan blaas, sal God se verborge bedoeling met alles bereik word, soos Hy die blye tyding aan sy dienaars, die profete, bekend gemaak het.” Die stem wat ek uit die hemel gehoor het, het toe weer met my gepraat en vir my gesê: “Gaan kry die oop boek daar in die hand van die engel wat op die see en die land staan.” Ek het na die engel toe gegaan en vir hom gevra om die boekie vir my te gee. Hy sê toe vir my: “Neem dit en eet dit op. Dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond sal dit so soet soos heuning wees.” Ek het toe die boekie uit die hand van die engel gevat en dit opgeëet. In my mond was dit so soet soos heuning, maar toe ek dit insluk, het my maag bitter geword. Toe het hulle vir my gesê: “Jy moet weer God se boodskap aangaande baie volke, nasies, tale en konings verkondig.”
DIE OPENBARING 10:1-11 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
EN ek het 'n ander sterk engel uit die hemel sien neerdaal, bekleed met 'n wolk, en 'n reënboog was oor sy hoof, en sy aangesig was soos die son, en sy voete soos pilare van vuur; en in sy hand het hy 'n geopende boekie gehad, en hy het sy regtervoet op die see gesit en sy linkervoet op die land; en hy het met 'n groot stem uitgeroep soos 'n leeu wat brul, en toe hy uitgeroep het, het die sewe donderslae hulle stemme laat hoor. En toe die sewe donderslae hulle stemme laat hoor het, wou ek skrywe; maar ek het 'n stem uit die hemel vir my hoor sê: Verseël wat die sewe donderslae gespreek het, en skryf dit nie op nie. En die engel wat ek op die see en op die land sien staan het, het sy hand na die hemel opgehef, en hy het gesweer by Hom wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel geskape het en wat daarin is, en die aarde en wat daarin is, en die see en wat daarin is, dat daar geen tyd meer sal wees nie; maar in die dae van die stem van die sewende engel, wanneer hy met die basuin sal blaas, dan is die verborgenheid van God volbring, soos Hy die blye tyding verkondig het aan sy diensknegte, die profete. En die stem wat ek uit die hemel gehoor het, het weer tot my gespreek en gesê: Gaan, neem die geopende boekie in die hand van die engel wat op die see en op die land staan. En ek het na die engel gegaan en aan hom gesê: Gee my die boekie. Toe sê hy vir my: Neem en eet dit op, en dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond sal dit soet wees soos heuning. Toe neem ek die boekie uit die hand van die engel en eet dit op, en in my mond was dit soet soos heuning; maar toe ek dit geëet het, het my maag bitter geword. En hy het vir my gesê: Jy moet weer profeteer oor baie volke en nasies en tale en konings.
DIE OPENBARING 10:1-11 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Toe het ek ’n ander kragtige engel gesien wat van die hemel af neergedaal het. Hy was omring deur ’n wolk, met ’n reënboog bokant sy kop. Sy gesig was soos die son, en sy voete soos twee vuurkolomme. In sy hand het hy ’n oopgerolde boekrolletjie vasgehou. Hy het gaan staan, met sy regtervoet op die see en sy linkervoet op die aarde. Toe het hy met ’n kragtige stem uitgeskreeu soos ’n leeu wat brul. Nadat hy so uitgeskreeu het, het sewe donderslae hulle eie dreunings laat weergalm. En toe die sewe donderslae weergalm het, was ek op die punt om dit op te skryf, maar ek het ’n stem van die hemel se kant af hoor sê: “Hou geheim wat die sewe donderslae weergalm het, en moenie dit opskryf nie.” Die engel wat ek op die see en die land sien staan het, het sy regterhand in die rigting van die hemel opgelig en ’n eed gesweer by Hom wat vir altyd lewe, wat die hemel en sy inhoud, die land en sy inhoud, die see en sy inhoud, geskep het. Hy het onder eed gesweer: “Daar is nie meer tyd oor nie. In daardie tyd wanneer die sewende engel sy trompet sal blaas, sal God se verborge bedoeling verwerklik word, soos Hy dit as goeie boodskap aan sy diensknegte, die profete, bekendgemaak het.” Die stem wat ek van die hemel se kant af gehoor het, het toe weer met my gepraat deur vir my te sê: “Gaan haal die oopgerolde boekrolletjie wat in die hand is van die engel wat op die see en land staan.” Ek het toe na die engel toe gegaan en hom gevra om die boekrolletjie vir my te gee. Sy reaksie was: “Neem dit en eet dit op. Dit sal bitter wees in jou maag alhoewel dit so soet soos heuning sal smaak in jou mond.” Ek het toe die boekrolletjie uit die hand van die engel geneem en dit opgeëet. In my mond was dit so soet soos heuning, maar toe ek dit insluk, was dit bitter in my maag. Hulle sê toe vir my: “Jy moet nog eers God se wil oor volke, nasies, taalgroepe en baie heersers gaan verkondig.”
DIE OPENBARING 10:1-11 DB (Die Boodskap)
Toe ek weer sien, kom daar ’n engel uit die hemel. Dié engel was nou vir jou sterk. ’n Mens kon die engel nie so mooi sien nie, want hy het in ’n wolk gestaan met ’n reënboog bo-oor sy kop. Hy was sterk en getrou ook. As jy na sy gesig gekyk het, was dit net of ’n mens reg in die son inkyk. Sy bene het gelyk soos pilare van vuur. In sy hand het hy ’n klein boekie gehou wat oop was. Hy gaan toe wydsbeen met sy regtervoet op die see en sy linkervoet op die land staan en skreeu kliphard. Dit het geklink soos ’n leeu wat brul. Hy het skaars geskreeu of sewe donderslae klap. Uit die hemel is daar gepraat! Met die donder wat so slaan, vat ek toe my pen. Ek wou neerskryf wat ek alles om my hoor. Net toe ek wou begin skryf, hoor ek iemand uit die hemel sê: “Moenie ’n woord neerskryf nie! Hou dit wat jy so deur die donder hoor, geheim.” Die engel wat so wydsbeen op die land en die see staan, lig toe sy regterhand op. Hy wys hemel toe en neem ’n eed. Hy roep toe vir God wat vir ewig en altyd leef en alles gemaak het - of dit die hemel met alles daarin, die aarde met alles daarop of die see met alles daarin is - as getuie in vir wat hy wil sê: “Daar is nie meer tyd oor nie. Die oomblik dat die sewende engel op sy trompet blaas, gaan God doen wat Hy beloof het. Hy het mos lank terug vir die mense wat Hom dien, die profete, gesê wat Hy van plan is om te doen.” Ek het toe weer dieselfde stem as netnou uit die hemel met my hoor praat: “Gaan vat daardie oop boekie uit die hand van die engel wat met die een voet op die see en die ander voet op die land staan.” Ek stap toe nader na die engel toe: “Gee my asseblief die boekie,” vra ek. “Vat en eet dit,” sê die engel. “As jy dit eet, sal dit lekker wees, soet soos heuning. Maar dan sal jy vreeslik sooibrand daarvan kry.” Ek vat toe die boekie by die engel en eet dit. Dit was toe so: in my mond was dit suikersoet. Nadat ek dit geëet het, het ek vreeslik sooibrand gekry. Weer praat hy met my: “Jy moet mense weer van God gaan vertel. Gaan na al die mense toe; maak nie saak waar hulle bly of watter taal hulle praat nie.”
DIE OPENBARING 10:1-11 ABA (Bybel vir almal)
En ek het 'n ander sterk engel gesien wat afkom uit die hemel. Daar was 'n wolk rondom hom, daar was 'n reënboog bokant sy kop, sy gesig het gelyk soos die son en sy voete was soos pilare van vuur. Hy het 'n klein boekrol in sy hand gehou, die boekrol was oop. Die engel het sy regter-voet op die see gesit en sy linker-voet op die land. Hy het baie hard geskree, so hard soos 'n leeu wat brul. Toe die engel roep, het die donderweer sewe maal geraas. Toe die donderweer sewe maal geraas het, wou ek skryf wat hulle sê. Maar Iemand het uit die hemel vir my gesê: “Jy moenie vir iemand vertel wat die sewe donderslae gesê het nie! Jy moenie dit neerskryf nie!” Die engel wat ek gesien het, die engel wat op die see en die land gestaan het, het sy regter-hand in die lug gehou. Hy het belowe en het gesê God is sy getuie, God wat altyd lewe, God wat die hemel gemaak het en alles wat in die hemel is, en ook die aarde en alles op die aarde, die see en alles in die see. Die engel het gesê: “Die tyd is verby! Wanneer die sewende engel sy trompet blaas, dan sal gebeur wat God voorheen besluit het. Niemand het geweet dat daardie dinge sal gebeur nie, maar God het vir die profete wat Hom dien, gesê dit sal gebeur.” Ek het weer gehoor Iemand praat met my uit die hemel. Hy het gesê: “Jy moet die boekrol gaan haal, die boekrol wat oop is en wat in die hand is van die engel wat op die see en die land staan!” Ek het na die engel gegaan en vir hom gevra om vir my die klein boekrol te gee. Die engel het vir my gesê: “Jy moet dit neem en jy moet dit eet! Dit sal bitter wees in jou maag, maar in jou mond sal dit so soet soos heuning wees!” Ek het die klein boekrol uit die hand van die engel geneem en ek het dit geëet. Dit het so soet soos heuning gesmaak in my mond. Maar toe ek dit geëet het, het my maag bitter geword. Toe sê hulle vir my: “Jy moet weer God se boodskap bring vir die mense van al die volke en lande en tale en vir die konings. Jy moet vir hulle sê God sal hulle straf!”
DIE OPENBARING 10:1-11 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
En ek het 'n ander sterk engel uit die hemel sien afkom. Hy was met 'n wolk omhul, met 'n reënboog bo sy kop. Sy gesig was soos die son, en sy voete soos vuurpilare. In sy hand het hy 'n klein oop boekrolletjie vasgehou. Hy het met sy regtervoet op die see en sy linkervoet op die aarde gaan staan, en met 'n harde stem, soos die brul van 'n leeu, uitgeroep. Nadat hy uitgeroep het, het die sewe donderslae hulle dreunings laat klink. Toe die sewe donderslae galm, was ek op die punt om dit op te skryf, maar ek het 'n stem uit die hemel hoor sê: “Verseël dit wat die sewe donderslae laat galm het, en moet dit nie opteken nie.” Die engel wat ek op die see en op die land sien staan het, het sy regterhand opgelig na die hemel, en 'n eed gesweer by Hom wat vir ewig en ewig lewe, wat die hemel en wat daarin is, en die aarde en wat daarop is, en die see en wat daarin is, geskape het: “Daar is nie meer tyd oor nie. Maar gedurende die dae wanneer die sewende engel op sy trompet gaan blaas, sal die misterie van God sy doel bereik, soos wat Hy dit as goeie boodskap aan sy diensknegte, die profete, verkondig het. ” Toe het ek die stem wat uit die hemel kom, weer met my hoor praat: “Gaan haal die oop boekrol in die hand van die engel wat op die see en op die land staan.” Ek het toe na die engel gegaan, en hom gevra om die klein boekrolletjie vir my te gee. En hy het vir my gesê: “Neem dit, en eet dit op. Dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond so soet soos heuning wees.” En ek het die boekrolletjie uit die hand van die engel geneem, en dit opgeëet. In my mond het dit so soet soos heuning gesmaak, maar nadat ek dit geëet het, was dit bitter in my maag. Toe sê hulle vir my: “Jy moet weer gaan profeteer teen baie volke, nasies, tale en konings.”
DIE OPENBARING 10:1-11 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En ek het 'n ander magtige engel uit die hemel sien neerdaal, bekleed met 'n wolk, en 'n reënboog was op sy hoof, en sy aangesig was soos die son, en sy voete soos vuurpilare. En hy het 'n oop boekie in sy hand gehad, en hy het sy regtervoet op die see gesit en sy linkervoet op die aarde, En hy het met 'n groot stem geroep soos wanneer 'n leeu brul; en toe hy geroep het, het sewe donderslae hulle stemme laat hoor. En toe die sewe donderslae hulle stemme laat hoor het, was ek op die punt om te skryf; en ek het 'n stem uit die hemel vir my hoor sê: Verseël die dinge wat die sewe donderslae uitgespreek het, en skryf dit nie. En die engel wat ek op die see en op die aarde sien staan het, het sy hand na die hemel opgehef, En het gesweer by Hom wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel geskep het en wat daarin is, en die aarde en wat daarin is, en die see en wat daarin is, dat daar geen tyd sou wees nie. Langer: Maar in die dae van die stem van die sewende engel, wanneer hy sal begin blaas, sou die verborgenheid van God volbring wees, soos Hy aan sy knegte, die profete, verkondig het. En die stem wat ek uit die hemel gehoor het, het weer met my gespreek en gesê: Gaan haal die oop boekie in die hand van die engel wat op die see en op die aarde staan. En ek het na die engel gegaan en vir hom gesê: Gee my die boekie. En hy sê vir my: Neem dit en eet dit op; en dit sal jou buik bitter maak, maar dit sal in jou mond soet wees soos heuning. En ek het die boekie uit die hand van die engel geneem en dit opgeëet; en dit was in my mond soet soos heuning; en sodra ek dit geëet het, was my maag bitter. En hy het vir my gesê: Jy moet weer profeteer voor baie volke en nasies en tale en konings.