DIE OPENBARING 1:5-16 - Compare All Versions

DIE OPENBARING 1:5-16 ABA (Bybel vir almal)

En Jesus Christus is die Getuie, Hy doen altyd wat Hy sê, Hy is die Eerste Een wat dood was en wat weer lewe, Hy regeer oor die konings van die aarde. Jesus Christus is lief vir ons. Hy het gesterf en Hy het ons gered van ons sonde. Hy het gesê God, sy Vader, regeer oor ons, ons is soos die priesters wat vir God werk. Daarom sal ons altyd vir Jesus Christus prys, Hy wat oor alles regeer! Amen. Kyk, Jesus Christus sal weer kom op die wolke, al die mense sal Hom sien, ook die mense wat Hom gesteek het met 'n spies. Al die volke op die aarde sal huil en treur wanneer Hy kom. Dit is seker. Amen. Die Here God sê: “Ek is die Alfa en die Omega.” Ja, God was altyd daar, Hy is nou daar en Hy sal weer kom. Hy is die Almagtige! Ek, Johannes, is 'n gelowige soos julle. Ek en julle kry saam swaar, God regeer oor ons almal, en ons is geduldig, soos Jesus geduldig was. Ek was 'n gevangene op die eiland Patmos omdat ek vir mense vertel het wat God en Jesus gesê het. Die Gees het op die dag van die Here in my gekom, en ek het gehoor Iemand praat hard agter my, so hard soos 'n trompet. Hy het gesê: “Ek sal vir jou dinge wys, en jy moet al daardie dinge in 'n boek skryf. Dan moet jy die boek vir die sewe gemeentes stuur, vir die gemeentes in die stede Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.” Ek het omgedraai om te sien wie praat met my. Toe ek omdraai, sien ek sewe goue lampe. Ek het gesien tussen die lampe is daar Iemand wat soos die Seun van die mens gelyk het. Hy het 'n lang bo-kleed gedra, en om sy bors was daar 'n goue belt. Sy kop en sy hare was so wit soos wol, so wit soos sneeu. Sy oë was soos 'n vuurvlam. Sy voete was soos blink koper wat in 'n oond gesmelt het. Sy stem was soos wanneer baie water raas. In sy regter-hand het Hy sewe sterre vasgehou. Daar het 'n swaard uit sy mond gekom, die swaard was baie skerp. Sy gesig het geblink soos wanneer die son baie helder skyn.

DIE OPENBARING 1:5-16 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen. Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. EK, Johannes, julle broeder en deelgenoot in die verdrukking en in die koninkryk en lydsaamheid van Jesus Christus, was op die eiland wat Patmos genoem word, ter wille van die woord van God en om die getuienis van Jesus Christus. Ek was in die Gees op die dag van die Here, en ek het agter my 'n groot stem gehoor, soos van 'n basuin, wat sê: Ek is die Alfa en die Oméga, die eerste en die laaste, en skryf wat jy sien in 'n boek en stuur dit na die sewe gemeentes wat in Asië is: na Éfese en Smirna en Pérgamus en Thiatíre en Sardis en Filadelfía en Laodicéa. Toe draai ek my om, om te sien watter stem met my gespreek het; en toe ek my omgedraai het, sien ek sewe goue kandelaars, en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met 'n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met 'n goue gordel. Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos 'n vuurvlam, en sy voete soos blink koper wat gloei soos in 'n oond, en sy stem soos die stem van baie waters. En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en 'n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag.

DIE OPENBARING 1:5-16 AFR83 (Afrikaans 1983)

en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen. Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die volke van die aarde sal oor Hom in selfverwyt weeklaag. Ja, dit is seker! “Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. Ek, Johannes, is julle medegelowige, en deur ons verbondenheid met Jesus het ek saam met julle deel aan die verdrukking en aan die koninkryk en aan die volharding. Ek was op die eiland Patmos, waarheen ek verban was omdat ek die woord van God en die getuienis van Jesus verkondig het. Op die dag van die Here is ek deur die Gees meegevoer en ek het agter my, so hard soos die geluid van 'n trompet, 'n stem hoor sê: “Skrywe wat jy sien in 'n boek op en stuur dit vir die sewe gemeentes: Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.” Ek het omgedraai om te sien wie dit is wat met my praat. En toe ek omgedraai het, het ek sewe goue staanlampe gesien en tussen die lampe Iemand soos die Seun van die mens. Hy het 'n lang kleed aangehad en 'n goue band om sy bors gedra. Die hare op sy kop was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë het soos vuur gevlam. Sy voete was soos geelkoper wat in 'n smeltoond gloei, en sy stem soos die gedruis van 'n groot watermassa. In sy regterhand het Hy sewe sterre gehad, en 'n skerp swaard met twee snykante het uit sy mond uit gekom. Sy hele voorkoms was soos die son wat op sy helderste skyn.

DIE OPENBARING 1:5-16 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

en van Jesus •Christus, die betroubare getuie, die •Eersgeborene uit die dood en die heerser oor die konings van die aarde. Aan Hom wat ons liefhet, en ons deur sy bloed van ons sondes verlos het, wat ons 'n koninkryk gemaak het, priesters vir God, sy Vader – aan Hom kom die heerlikheid en die sterkte toe, vir ewig en ewig. •Amen. Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, selfs hulle wat Hom deurboor het; en al die volke op die aarde sal oor Hom rou. Ja, amen! “Ek is die Alfa en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom,” sê die Here God, die Almagtige. Ek, Johannes, julle broer en 'n deelgenoot in die verdrukking, en in die koninkryk, en in die volharding in ons verhouding met Jesus, was op die eiland wat Patmos genoem word, op grond van die woord van God, naamlik die getuienis deur Jesus •Christus. Op die dag van die Here het die Gees van my besit geneem, en het ek agter my 'n harde stem, soos dié van 'n basuin, gehoor wat sê: “Skryf wat jy sien in 'n boekrol op, en stuur dit aan die sewe •gemeentes: na Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.” Ek het omgedraai om te sien wie se stem dit is wat met my praat. Toe ek omdraai, het ek sewe goue kandelare gesien, en in die middel van die kandelare, iemand net soos die •Seun van die Mens. Hy het 'n kleed wat tot op die voete hang, gedra, met 'n goue band wat om sy bors vasgebind was. Sy kop en hare was so wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos 'n vlammende vuur. Sy voete was net soos gloeiende koper in 'n rooiwarm oond, en sy stem soos die gedruis van baie waterstrome. In sy regterhand het hy sewe sterre gehou, uit sy mond het daar 'n skerp swaard met twee snykante gekom, en sy gesig was soos die son, wat in al sy felheid skyn.

DIE OPENBARING 1:5-16 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En van Jesus Christus, wat die getroue getuie is en die Eersgeborene uit die dode en die owerste van die konings van die aarde. Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy eie bloed, En Hy het ons konings en priesters vir God en sy Vader gemaak; aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid. Amen. Kyk, Hy kom met wolke; en elke oog sal hom sien, en ook die wat hom deursteek het, en al die geslagte van die aarde sal oor hom huil. Desondanks, Amen. Ek is Alfa en Omega, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. Ek Johannes, wat ook julle broer is en metgesel in die verdrukking en in die koninkryk en lydsaamheid van Jesus Christus, was op die eiland wat Patmos genoem word, ter wille van die woord van God en vir die getuienis van Jesus Christus. Ek was in die Gees op die dag van die Here en het agter my 'n groot stem gehoor soos van 'n basuin, en sê: Ek is die Alfa en die Oméga, die eerste en die laaste; en: Wat jy sien, skryf in 'n boek en stuur dit aan die sewe gemeentes wat in Asië is; tot by Éfese en tot by Smirna en tot by Pergamos en tot by Thiatira en tot by Sardis en tot by Filadelfia en tot by Laodicéa. En ek het omgedraai om die stem te sien wat met my gespreek het. En toe ek my omgedraai het, het ek sewe goue kandelaars gesien; En tussen die sewe kandelaars een soos die Seun van die mens, bekleed met 'n kleed tot op die voet, en omgord om die pappe met 'n goue gordel. Sy hoof en sy hare was wit soos wol, so wit soos sneeu; en sy oë was soos 'n vuurvlam; En sy voete soos fyn koper, asof hulle in 'n oond brand; en sy stem soos die geluid van baie waters. En hy het sewe sterre in sy regterhand gehad, en 'n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag.

DIE OPENBARING 1:5-20 DB (Die Boodskap)

En dan kom dit ook van Jesus Christus af. ’n Mens kan Hom volledig vertrou. Dit is Hy wat alles vir ons kom vertel het. Wat Hy sê, is natuurlik waar. Hy het die leiding geneem deur eerste uit die dood op te staan. Boonop staan al die magtigste regeerders in hierdie wêreld onder sy mag en beheer. Hy het ons so lief dat Hy deur sy eie lewe te gee, dit reggekry het dat God nie meer ons ongehoorsaamheid en ons foute teen ons hou nie. Hy het ons deel gemaak van die mense van God, die magtigste Heerser. Nou kan ons God, wat sy Vader is, met oorgawe dien, soos priesters. Aan Jesus behoort die grootheid en krag vir ewig en altyd! Dit is vir seker. “Kyk mooi, Jesus sal op die wolke kom. Elke mens op hierdie aarde sal Hom sien. Die mense wat Hom destyds doodgemaak het, sal Hom sien. Ja, daar sal nie ’n mens op aarde wees wat nie dan van spyt in trane sal uitbars omdat hulle Hom nie gedien het toe hulle nog kon nie!” Ja-nee, so sal dit wees! “Ek is die Een by wie alles begin en waar alles ook eindig. Ek is tegelyk soos die A en die Z van die alfabet,” sê die Here God. Hy is nou by ons soos Hy in die verlede by ons was. Hy stap ook saam met ons die toekoms tegemoet. Niemand of niks kan naastenby vir Hom kers vashou nie, want Hy het mag en gesag oor alles. Ek, Johannes, is julle geestelike broer. Soos julle kry ek ook swaar omdat ek ’n Christen is. Maar ek is ook deel van die magtige God se mense. Daarom raak die swaarkry my nie baas nie. Ek behoort mos aan Jesus. So van swaarkry gepraat, ek sit hier op die eiland Patmos omdat ek oor God se boodskap preek en mense met oortuiging van Jesus vertel. Een Sondag het die Heilige Gees weer kragtig in my gewerk. Ek hoor toe ’n verskriklik harde stem agter my praat; dit was byna of iemand met ’n trompet hier naby my oor blaas om my aandag te trek. “Skryf alles wat jy sien en beleef letter vir letter in ’n boek neer. Stuur dit dan aan die volgende sewe gemeentes: Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.” Ek draai toe versigtig om om te sien wie so met my praat. Met die omdraai val my oog op sewe kandelare. Hulle was baie werd, want hulle was van goud gemaak. Hierdie kandelare, sou ek agterkom, is eintlik die sewe gemeentes aan wie ek skryf. Tussen hierdie kandelare het ek Iemand sien staan. Dit het vir my gelyk soos die Seun, die Een wat van God af sou kom om finaal te kom sê wat God oor die mense besluit het. Hy het pragtige klere aangehad, soos dié wat belangrike mense dra. Soos die heel belangrikste priester van ouds het hy goud om sy bors gedra. Dit het gewys hoe belangrik Hy regtig is. Sy wysheid kon ’n mens sien aan sy spierwit hare. Dit was ook duidelik dat niemand iets vir daardie gloeiende oë kon wegsteek nie. Sy voete was soos warm geelkoper wat net uit die oond gekom het. Waar daardie voete trap, bly niks oor nie! Wanneer Hy praat, is dit oorverdowend, soos baie harde reën op ’n sinkdak. Mense se stem verdof eenvoudig. In sy regterhand het Hy sewe sterre gehou. Die sterre is die leiers van die sewe gemeentes wat moes sorg dat dit in die gemeentes gaan soos Jesus dit wil hê. Uit sy mond het ’n swaard gekom. Dit was aan al twee kante vlymskerp. Waar sy oordeelswoorde moet sny, sal dit kan sny! En die oorwinning en glans op sy gesig - dit was soos die son wat op sy helderste skyn. Toe ek Hom sien, het ek so klein gevoel voor sy grootheid dat ek net daar voor Hom neergesak het. So magteloos soos die kleinste wurmpie het ek voor Hom bly lê. Hy kon met my maak wat Hy wou. Maar toe voel ek sy sterk regterhand op my en hoor Hom met my praat: “Moenie bang wees nie. Ek was voor die skepping al daar. En wanneer alles tot ’n einde kom, sal Ek nog daar wees. Ek is die Een wat leef, maar ook lewe kan gee. Ek het mos gesterf, maar lyk Ek vir jou dood? Nee, Ek leef: nie net nou nie, maar vir ewig en altyd. Ek het die sleutels wat die deur na die dood oop- en toesluit. Ek besluit wie bly dood en wie nie. “Toe, Johannes, skryf neer wat jy sien en ervaar. Jy sal dinge sien wat nou aan die gang is en dinge wat nog voorlê.”

DIE OPENBARING 1:5-16 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

en van Jesus Christus, die betroubare getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het en wat heers oor die konings van die aarde. Aan Hom wat ons liefhet en ons deur sy bloed van ons sondes verlos het, en ons laat deel in sy koninklike regering, aan Hom wat ons priesters vir God, sy Vader, gemaak het, aan Hom behoort die heerlikheid en die krag vir ewig en altyd. Amen. Kyk, Hy kom met die wolke! Elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; al die nasies op aarde sal jammerlik oor Hom huil. Ja, amen! “Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. Ek is Johannes, julle medegelowige. Deur ons hegte verhouding met Jesus deel ons saam in die swaarkry, maar ook in sy heerskappy en in die volharding. Dit het gebeur dat ek op die eiland Patmos beland het omdat ek die boodskap van God en die getuienis wat deur Jesus gelewer is, gepreek het. Op die Dag van die Here was ek in die greep van die Gees en het reg agter my ’n harde stem, soos ’n trompet, hoor sê: “Skryf wat jy sien in ’n boekrol neer en stuur dit aan die sewe gemeentes: na Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.” Ek het toe omgedraai om te sien wie se stem dit is wat met my praat. Nadat ek omgedraai het, het ek sewe goue kandelare gesien en in die middel van die kandelare Iemand soos die Seun van die Mens. Hy het ’n kleed aangehad wat tot op sy voete gehang het en ’n goue band was om sy bors vasgemaak. Sy kop en sy hare was wit soos wol, so wit soos sneeu, en sy oë soos ’n vuurvlam. Sy voete was soos gepoleerde koper wat in ’n smeltoond gloei en sy stem soos die geluid van baie waterstrome. In sy regterhand het Hy sewe sterre vasgehou en uit sy mond het ’n skerp swaard met twee snykante gekom. Sy gesig het helder geskyn soos die son in al sy felheid.