DIE OPENBARING 1:17-20 - Compare All Versions
DIE OPENBARING 1:17-20 ABA (Bybel vir almal)
Toe ek Hom sien, het ek op die grond voor sy voete geval, ek het daar gelê soos iemand wat dood is. Maar Hy het sy regter-hand op my gesit en vir my gesê: “Jy moenie bang wees nie, want Ek is die Eerste en die Laaste, Ek lewe altyd. Ek het gesterf, maar nou lewe Ek! Ja, Ek lewe altyd. Ek het die sleutels om die plek oop te sluit waar die mense is wat gesterf het, Ek kan die mense in die doderyk weer laat lewe. Daarom moet jy die dinge neerskryf wat jy gesien het, die dinge wat nou gebeur en die dinge wat later sal gebeur. Jy het sewe sterre in my regter-hand gesien en sewe lampe. Die sewe lampe beteken sewe gemeentes. Die sewe sterre beteken die sewe engele van die gemeentes.”
DIE OPENBARING 1:17-20 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
En toe ek Hom sien, val ek soos 'n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood. Skryf die dinge op wat jy gesien het, die wat is sowel as die wat gaan gebeur; die verborgenheid van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en die sewe goue kandelaars: die sewe sterre is die engele van die sewe gemeentes, en die sewe kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes.
DIE OPENBARING 1:17-20 AFR83 (Afrikaans 1983)
Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. Hy het toe met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: “Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk. Skrywe nou op wat jy gesien het, wat nou daar is en wat hierna gaan gebeur. En dit is die verborge betekenis van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en van die sewe goue lampe: die sewe sterre is die leraars van die sewe gemeentes, en die sewe lampe is die sewe gemeentes.”
DIE OPENBARING 1:17-20 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Toe ek Hom sien, het ek voor sy voete neergeval soos 'n dooie, maar Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees – Ek is die Eerste en die Laaste en die Lewende. Ek was dood, maar kyk, Ek leef vir ewig en ewig; ook hou Ek die sleutels van die dood, en van Hades. Skryf dan op wat jy gesien het, wat daar is, en wat hierna gaan gebeur. Dit is die misterie van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en van die sewe goue kandelare: Die sewe sterre is die sewe boodskappers van die sewe gemeentes, en die sewe kandelare is die sewe gemeentes.”
DIE OPENBARING 1:17-20 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En toe ek hom sien, het ek soos 'n dooie aan sy voete geval. En hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste: Ek is hy wat lewe en dood was; en kyk, Ek lewe vir ewig, Amen; en het die sleutels van die hel en van die dood. Skryf die dinge op wat jy gesien het, en die dinge wat is, en die dinge wat hierna sal wees; Die verborgenheid van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en die sewe goue kandelaars. Die sewe sterre is die engele van die sewe gemeentes, en die sewe kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes.
DIE OPENBARING 1:16-20 DB (Die Boodskap)
In sy regterhand het Hy sewe sterre gehou. Die sterre is die leiers van die sewe gemeentes wat moes sorg dat dit in die gemeentes gaan soos Jesus dit wil hê. Uit sy mond het ’n swaard gekom. Dit was aan al twee kante vlymskerp. Waar sy oordeelswoorde moet sny, sal dit kan sny! En die oorwinning en glans op sy gesig - dit was soos die son wat op sy helderste skyn. Toe ek Hom sien, het ek so klein gevoel voor sy grootheid dat ek net daar voor Hom neergesak het. So magteloos soos die kleinste wurmpie het ek voor Hom bly lê. Hy kon met my maak wat Hy wou. Maar toe voel ek sy sterk regterhand op my en hoor Hom met my praat: “Moenie bang wees nie. Ek was voor die skepping al daar. En wanneer alles tot ’n einde kom, sal Ek nog daar wees. Ek is die Een wat leef, maar ook lewe kan gee. Ek het mos gesterf, maar lyk Ek vir jou dood? Nee, Ek leef: nie net nou nie, maar vir ewig en altyd. Ek het die sleutels wat die deur na die dood oop- en toesluit. Ek besluit wie bly dood en wie nie. “Toe, Johannes, skryf neer wat jy sien en ervaar. Jy sal dinge sien wat nou aan die gang is en dinge wat nog voorlê.”
DIE OPENBARING 1:17-20 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Toe ek Hom sien, het ek voor sy voete neergeval soos ’n lyk. Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees, Ek is die Eerste en die Laaste, en die Lewende. Ek was dood en kyk, nou leef Ek vir altyd en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk. Skryf op wat jy gesien het: wat nou besig is om te gebeur en wat hierna gaan gebeur. En dit is die geheim van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het en die sewe goue kandelare: Die sewe sterre is die sewe voorgangers van die sewe gemeentes en die sewe kandelare is die sewe gemeentes self.”