PSALMS 86:1-13
PSALMS 86:1-13 Bybel vir almal (ABA)
'n Gebed. Van Dawid. Here, U moet luister, U moet my antwoord, want ek kan myself nie help nie en ek het niks. U moet my lewe beskerm, want ek glo in U. U moet my, u dienaar, red, ek weet U sal. U is my God. My Here, U moet genadig wees vir my, want ek roep die hele dag, ek vra dat Ú my moet help. U moet my, u dienaar, bly maak, want dit is tot Ú wat ek bid. Want U is goed, my Here, U vergewe en U doen alles wat U belowe het vir al die mense wat tot U bid. Here, U moet luister na my gebed, U moet hoor hoe ek soebat. Wanneer dit sleg gaan met my, dan bid ek tot U, want U sal my antwoord. Nie een van die gode is soos U nie, nie een kan doen wat U doen nie. Al die volke wat U gemaak het, sal kom en voor U buig en u Naam eer, want U is groot, U doen wonderwerke, U is God, U alleen. Here, leer vir my hoe U wil hê dat ek moet lewe, sodat ek sal weet net U is God en sodat ek u Naam sal eer met my hele hart. My Here, my God, ek sal vir U dankie sê met my hele hart, ek sal u Naam altyd eer. Want U het vir my alles gedoen wat U belowe het, U het my gered van die doderyk daar onder.
PSALMS 86:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N GEBED van Dawid. HERE, neig u oor, verhoor my, want ek is ellendig en behoeftig. Bewaar my siel, want 'n gunsgenoot is ek; U, my God, verlos u kneg wat op U vertrou. Wees my genadig, o Here, want ek roep U aan die hele dag deur. Verbly die siel van u kneg, want tot U, o Here, hef ek my siel op. Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep. HERE, luister na my gebed en let op die stem van my smekinge. In die dag van my benoudheid roep ek U aan, want U verhoor my. Daar is niemand soos U onder die gode, Here, en daar is niks soos u werke nie. Al die nasies wat U gemaak het, sal kom en hulle voor u aangesig neerbuig, Here, en hulle sal u Naam eer; want U is groot en doen wonders, U alleen is God. Leer my, HERE, u weg: ek sal in u waarheid wandel; verenig my hart tot die vrees van u Naam. Here, my God, ek wil U loof met my hele hart en u Naam vir ewig eer; want u goedertierenheid is groot oor my, en U het my siel uit die doderyk diep daaronder gered.
PSALMS 86:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Gebed van Dawid. Luister tog na my, Here, verhoor my gebed, want ek is hulpeloos en arm. Beskerm my, want ek is u troue dienaar, red my, want U is my God, op U vertrou ek. Wees my genadig, Here, ek roep die hele dag deur na U. Maak my bly, Here, ek hunker na U. U is goed, Here, U vergewe altyd weer, U is getrou teenoor dié wat na U roep om hulp. Luister na my gebed, Here, gee tog ag op my smeekgebed. Op die dag van my nood roep ek na U, U sal my gebed verhoor. Daar is geen god soos U nie, Here, niks kan met u werk vergelyk word nie. U het al die nasies gemaak; hulle sal voor U kom buig, Here, en aan u Naam die eer gee, want U is groot en doen magtige dade, U alleen is God. Leer my u pad, Here, ek wil wandel in u waarheid; leer my U met toewyding dien. Met my hele hart sal ek U prys, Here my God, u Naam altyd eer, want u liefde vir my was groot: uit die dieptes van die dood het U my gered.
PSALMS 86:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Gebed. Van Dawid. HERE, draai u oor, antwoord my, want ek is magteloos en behoeftig. Beskerm my lewe, want ek is 'n getroue volgeling. Verlos u dienskneg wat op U vertrou; U is my God. Wees my genadig, my Heer, want na U roep ek die hele dag lank. Maak die hart van u dienskneg bly, want na U, my Heer, hunker ek. U, my Heer, is immers goed en vergewensgesind, en oorvloedig in troue liefde teenoor almal wat na U roep. HERE, hoor tog my gebed en gee tog aandag aan my smeekgebede. In die tyd van my nood roep ek na U, want U antwoord my. Daar is niemand soos U onder die gode nie, my Heer, en niks soos u werke nie. Al die nasies wat U gemaak het, sal kom en voor U, my Heer, in aanbidding buig; hulle sal u Naam eer. Want groot is U en U doen wonders; U alleen is God. Leer my u pad, HERE; ek wil in u waarheid leef. Gee dat ek heelhartig vir u Naam ontsag sal hê. My Heer, my God, ek wil U prys met my hele hart; ek wil u Naam vir altyd eer, want u troue liefde teenoor my is groot: U het my lewe weggeruk uit die •doderyk daar onder.
PSALMS 86:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Buig u oor, HERE, luister na my, want ek is arm en behoeftig. Bewaar my siel; want ek is heilig; o my God, verlos U kneg wat op U vertrou. Wees my genadig, HERE, want ek roep U elke dag aan. Verbly die siel van U kneg, want tot U, HERE, hef ek my siel op. Want U, HERE, is goed en bereid om te vergewe; en oorvloedig in barmhartigheid vir almal wat U aanroep. Luister, o HERE, na my gebed; en luister na die stem van my smekinge. Op die dag van my benoudheid sal ek U aanroep, want U sal my antwoord. Onder die gode is daar niemand soos U nie, HERE; en daar is geen werke soos u werke nie. Al die nasies wat U gemaak het, sal kom en voor U aanbid, HERE; en sal u Naam verheerlik. Want U is groot en doen wonders; U alleen is God. Leer my U weg, HERE; Ek sal in u waarheid wandel; verenig my hart om U Naam te vrees. Ek wil U loof, HERE my God, met my hele hart; en ek sal U Naam verheerlik tot in ewigheid. Want groot is U goedertierenheid oor my, en U het my siel uit die doderyk gered.
PSALMS 86:1-13 Die Boodskap (DB)
Here, luister tog as ek bid. Help my, want ek is in ’n krisis. Beskerm my, want ek is in die nood. Ek is desperaat. My God, U help mos u kind wat U dien en op U vertrou. Red my, want ek het U as my God gekies. Wys tog dat U vir my omgee, Here. Ek bid heeldag tot U sonder om op te hou. Maak my weer bly, want my hele lewe draai om U, Here. Ek dien U. En ek wens heeldag dat U by my is. Here, U is goed vir al u kinders wat tot U bid. U vergewe maklik. U het u kinders baie lief. As hulle na U roep om hulle te help, antwoord U gou. Here, help my as ek bid. Luister as ek om hulp smeek. Ek weet as ek die dag in ’n groot krisis is, kan ek maar net tot U bid, want U antwoord my. Here, U is die enigste ware God. Niemand kan die dinge doen wat U doen nie. Selfs mense wat U nie dien nie, is u handewerk. Ook hulle sal nog kom om U te aanbid, Here. Hulle sal u Naam kom grootmaak en U eer. Ja, U is baie groot. U laat wonders gebeur. U is die enigste ware God. Help my om te doen wat U wil hê, Here. Ek sal doen wat U van my vra. Maak my gehoorsaam sodat ek u Naam kan eer en U dien. Here, U is my God. Ek wil U met alles in my prys. U Naam wil ek altyd grootmaak. Ja, U het my baie lief. U het my uit my grootste krisis gered. U het my van die dood af weggehou.
PSALMS 86:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Luister tog na my gebed, HERE! Antwoord my, want ek is arm en ellendig. Beskerm my, want ek is getrou aan U. Red my, want ek is u dienaar. U is my God op wie ek vertrou. Wees my genadig, Here, want die hele dag roep ek tot U. Gee tog vir my blydskap, want na U is my verlange, Here. U is waarlik goed, Here, U vergewe. U is vol liefde vir almal wat by U hulp soek. Luister goed na my gebed, HERE, gee tog ag op my hulpgeroep. In tye wanneer ek in nood is, sal ek U aanroep, want U sal my antwoord. Daar is nie ’n god soos U nie, Here. Niemand kan u werke naboots nie. Al die nasies wat U gemaak het, sal kom en voor U neerbuig, Here; hulle sal u Naam verheerlik. Want U is groot en doen wonderdade. U alleen is God. Leer my u weë, HERE, sodat ek in u waarheid kan wandel. Gee my ’n onverdeelde trou om so u Naam te dien. Met my hele hart sal ek U prys, Here, my God. Ek sal u Naam vir altyd verheerlik, want u liefde vir my is baie groot. U het my uit die doderyk gered.