PSALMS 8:1-9
PSALMS 8:1-9 Bybel vir almal (ABA)
Vir die leier van die koor: Dieselfde musiek soos die lied oor die parskuip. 'n Psalm van Dawid. Here, ons Here, die hele aarde en die lug daarbo wys dat U Koning is en dat U regeer. Ook klein kindertjies sing oor u krag. U vyande moet dit weet, mense wat téén U is, moet stilbly. U het die lug en die maan en die sterre met u hande gemaak. Wanneer ek daarna kyk, dan dink ek: 'n Mens beteken niks. Hoekom dink U aan mense? Hoekom onthou U iemand wat net 'n mens is? U het die mens amper soos 'n engel gemaak, U het vir hom eer gegee en U het hom belangrik gemaak. U laat hom regeer oor alles wat U gemaak het. U het gesê hy is die hoof oor alles: oor die skape en bokke en beeste, ja, oor hulle almal, en oor die wilde diere, oor die voëls in die lug en oor die visse in die see, oor alles wat in die see swem.
PSALMS 8:1-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
VIR die musiekleier; op die Gittiet. 'n Psalm van Dawid. O HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde! U wat u majesteit gelê het op die hemele. Uit die mond van kinders en suiglinge het U sterkte gegrondves, om u teëstanders ontwil, om die vyand en wraakgierige stil te maak. As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het — wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom 'n weinig minder gemaak as 'n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel: skape en beeste, dié almal, en ook die diere van die veld, die voëls van die hemel en die visse van die see, wat trek deur die paaie van die see.
PSALMS 8:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Vir die koorleier: met musiek. 'n Psalm van Dawid. Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het. So word u teëstanders, die vyande en wraakgieriges, tot swye gebring. As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U 'n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net 'n bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp: skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld, die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis.
PSALMS 8:1-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Vir die •musiekleier. Op Haghittiet. 'n Psalm. Van Dawid. HERE, ons Heer, hoe magtig is u Naam oor die hele aarde, U wat u luister bo die hemelruim vestig. Deur die mond van kleuters en suigelinge het U mag gevestig, vanweë u teenstanders, om vyande en wraakgieriges stil te maak. Wanneer ek na u hemelruim kyk, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U gevestig het – wat is 'n mens dan dat U aan hom dink, 'n mensekind dat U aan hom aandag skenk? U het hom net minder as 'n hemelse wese gemaak; U het hom met eer en majesteit gekroon. U laat hom heers oor die werk van u hande; U het alles onder sy voete gestel: al die kleinvee en beeste, ja, selfs die diere van die veld, die voëls van die hemel, en die visse van die see wat verbytrek op hulle roetes deur die oseane.
PSALMS 8:1-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
O HERE onse HERE, hoe heerlik is u Naam op die hele aarde! wat u heerlikheid bo die hemel gestel het. Uit die mond van suigelinge en suigelinge het U krag gegee ter wille van u vyande, sodat U die vyand en die wraakgierig kan stilmaak. As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U bepaal het; Wat is die mens, dat U aan hom dink? en die mensekind, dat U hom besoek? Want U het hom 'n bietjie minder gemaak as die engele en hom met heerlikheid en eer gekroon. U het hom laat heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel; Alle skape en beeste, ja, en die diere van die veld; Die voëls van die hemel en die visse van die see en alles wat deur die paaie van die see trek. O HERE onse HERE, hoe heerlik is u Naam op die hele aarde!
PSALMS 8:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
HERE, ons Here, hoe vol majesteit is u Naam op die hele aarde! U heerlikheid is hoër as die hemele. Kinders en babas besing u lof, want U het dié wat sterk is, bestraf, vyand en wreker stilgemaak. Wanneer ek opkyk na die naghemel en ek sien die werke van u vingers, die maan en sterre wat U in hulle plekke geplaas het, wat is die mens dat U aan hom dink, die mensdom dat U vir hulle omgee? U het hom ’n bietjie minder gemaak as hemelse wesens, en hom gekroon met roem en eer. U het hom in beheer gestel van alles wat u hande gemaak het. U het vir hom mag gegee oor alle dinge: skape en beeste, alles, en ook die wilde diere van die veld, die voëls in die lug, die visse in die see, en alles wat swem deur die seestrome.