PSALMS 4:6-9
PSALMS 4:6-9 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet die regte offers bring en julle moet glo dat die Here julle sal help. Daar is baie mense wat vra: “Wie sal dit goed laat gaan met ons?” Here, U moet weer goed wees vir ons. U het my bly gemaak, blyer as mense wat baie koring en wyn het. Here, ek is nie bekommerd wanneer ek gaan lê en aan die slaap raak nie, want U kan my veilig laat slaap, net U kan dit doen.
PSALMS 4:6-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Offer offerandes van geregtigheid en vertrou op die HERE. Baie sê: Wie sal ons die goeie laat sien? Verhef oor ons die lig van u aangesig, o HERE! Groter vreugde het U in my hart gegee as wanneer hulle koring en hulle mos oorvloedig is. Ek wil in vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak; want U, o HERE, alleen laat my in veiligheid woon.
PSALMS 4:6-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle moet die offers bring wat aan julle voorgeskryf is, en julle moet op die Here vertrou. Daar is baie wat sê: “Wie sal dit weer met ons goed laat gaan?” Wees ons tog weer goedgesind, Here, help ons! U het my reeds groter vreugde laat belewe as wat daar is by mense wat koring en wyn in oorvloed het. Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon.
PSALMS 4:6-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Bring offers van geregtigheid en vertrou op die HERE. Baie mense sê: “Wie sal ons weer die goeie laat beleef?” Laat die lig van u teenwoordigheid oor ons skyn, HERE! U het vreugde in my hart gegee, meer as in die tyd wanneer mense se koring en •nuwe wyn volop is. In vrede kan ek gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want net U, HERE, laat my veilig woon.
PSALMS 4:6-9 Die Boodskap (DB)
Dien die Here met oorgawe! Vertrou op Hom. Jy het al baie mense hoor sê: “Wanneer sal dit weer met ons goed gaan?” Help tog, Here! Kyk na ons kant toe. Daar is niks wat my blyer maak as wanneer U my help nie. Ek is blyer daaroor as wat ander bly word oor miljoene rande, oorsese reise of blink motors. As ek in die aand bed toe gaan, kan ek sonder bekommernis aan die slaap raak. En ek raak dadelik aan die slaap, want by U voel ek veilig. U alleen beskerm my.
PSALMS 4:6-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Bring die voorgeskrewe offers en vertrou op die HERE. Baie mense sê: “Wie sal vir ons goeie dinge wys?” Laat u glimlag oor ons skyn, HERE! U het vir my meer vreugde verskaf as dié met graan en wyn in oorvloed. Ek sal in vrede gaan lê en slaap, want U alleen, o HERE, laat my veilig woon.