PSALMS 38:1-22
PSALMS 38:1-22 Bybel vir almal (ABA)
'n Psalm van Dawid. Om te onthou. Here, U is kwaad, maar U moenie vir my straf nie, U hou nie van die dinge wat ek gedoen het nie, maar U moenie vir my laat swaarkry nie. U het my geskiet met u pyle en U het my geslaan met u hand. My hele lyf is seer omdat U vir my kwaad is, niks in my is heel nie omdat ek sonde gedoen het. Die verkeerde dinge wat ek gedoen het, is soos iets wat ek moet dra wat baie swaar is, en dit is te swaar vir my. Ek is 'n dwaas, daarom is my liggaam vol seerplekke wat stink en nog seerder word. Ek is krom, ek kan nie regop loop nie, ek loop die hele dag en huil en treur, want dit voel of daar 'n vuur in my is, my hele lyf is seer. Ek is naby my einde, ek kan nie meer aanhou nie, ek brul soos 'n leeu, want alles in my voel deurmekaar. My Here, U weet alles wat ek wil vra, U hoor hoe ek kla en sug. Ek hoor my hart klop vinnig, my krag is op, en ek kan nie meer goed sien nie. My vriende en my maats staan nie naby my nie omdat ek siek is, my familie het ver gaan staan. Die mense wat wil hê dat ek moet sterf, wag dat ek iets moet sê of doen waaroor hulle my kan beskuldig. Die mense wat wil hê dat dit sleg moet gaan met my, praat oor hoe hulle my kan laat doodmaak, hulle dink die hele dag aan vals dinge teen my. En ek? Ek maak of ek doof en stom is, ek hoor nie en ek praat nie. Ek is soos iemand wat nie kan hoor nie en nie kan antwoord nie, want dit is vir U wat ek wag. My Here, my God, dit is U wat sal antwoord, want ek vra vir U: U moenie dat hulle bly word oor wat met my gebeur nie, U moenie dat hulle spog wanneer ek val nie, want ek gaan nou val, en ek het altyd pyn. Ek bely dat ek verkeerd gedoen het, ek voel sleg oor my sonde. My vyande is gesond en sterk. Ek het niks verkeerd gedoen nie, maar daar is baie mense wat my haat. Ek het goed gedoen aan hulle, maar hulle wil dit sleg laat gaan met my. Hulle is teen my omdat ek probeer goed doen. My God die Here, U moenie vir my los nie, U moenie ver van my wees nie.
PSALMS 38:1-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N PSALM van Dawid, by die gedenkoffer. O HERE, straf my nie in u toorn nie en kasty my nie in u grimmigheid nie. Want u pyle het in my ingedring, en u hand het op my neergedaal. Daar is geen heel plek in my vlees vanweë u grimmigheid nie; daar is niks gesond in my gebeente vanweë my sonde nie. Want my ongeregtighede gaan oor my hoof; soos 'n swaar pak het hulle vir my te swaar geword. My wonde stink, hulle dra vanweë my dwaasheid. Ek is krom, heeltemal geboë; die hele dag gaan ek in die rou; want my lendene is vol ontsteking, en daar is geen heel plek in my vlees nie. Ek is kragteloos en heeltemal verbrysel; ek brul van die gebons van my hart. Here, voor U is al my begeertes, en my gesug is vir U nie verborge nie. My hart slaan vinnig, my krag het my verlaat; en die lig van my oë, ook dit is nie by my nie. Die wat my liefhet en my vriende is, staan opsy vir my kwaal, en my nabestaandes het ver gaan staan; en die wat my lewe soek, span strikke; en die wat my ongeluk soek, spreek van ondergang, en hulle bedink die hele dag bedrog. Maar ek is soos 'n dowe: ek hoor nie, en soos 'n stomme wat sy mond nie oopmaak nie. Ja, ek is soos 'n man wat nie hoor nie en in wie se mond geen teëspraak is nie; want op U, HERE, wag ek; Ú sal verhoor, Here my God! Want ek het gesê: Laat hulle net nie bly wees oor my nie! Hulle wat by die wankeling van my voet hul groot maak teen my! Want ek is klaar om te val, en my smart is altyddeur voor my. Ja, my ongeregtigheid bely ek, ek is bekommerd oor my sonde. Maar my vyande lewe, hulle is magtig; en die wat my valslik haat, is groot in aantal. En die wat kwaad vir goed vergeld, behandel my vyandig, omdat ek die goeie najaag. Verlaat my nie, o HERE! My God, wees nie ver van my af nie!
PSALMS 38:1-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Psalm van Dawid. 'n Herinnering. Moet my tog nie in u toorn bly straf nie, Here, en my langer in u gramskap tugtig nie. U pyle het my getref, u hand lê swaar op my. Deur u toorn is daar nie meer 'n gesonde plek aan my liggaam nie, deur my sonde is daar nie meer 'n heel plek aan my lyf nie. Ja, my ongeregtighede het my oorweldig soos 'n las wat vir my te swaar is. My wonde stink en sweer, en dít deur my eie dwaasheid. Ek is krom en inmekaar getrek, ek loop die hele dag en treur, want my lyf brand van die koors en daar is nie meer 'n gesonde plek aan my liggaam nie. Ek is gedaan en heeltemal platgeslaan, my hart jaag en ek brul van die pyn. U weet waarna ek smag, Here, my gesmeek is vir U geen geheim nie. My hart jaag, my krag het ingegee, ek kan nie eers meer sien nie. My siekte hou my familie en my vriende ver van my af, en my bure kom nie naby my nie. Dié wat my lewe soek, stel vir my strikke, dié wat daarop uit is om my kwaad aan te doen, praat al klaar van my ondergang; die hele dag deur dink hulle vals beskuldigings teen my uit. Maar ek hou my doof, ek hoor niks, ek hou my stom, ek maak my mond nie oop nie. Ek het geword soos 'n man wat niks hoor nie en wat niks het om te antwoord nie. Ek vertrou op U, Here, U sal antwoord, Here my God. Ek vra U: “Moenie dat hulle hulle verlustig in my leed en hulle groot hou as die lyding vir my te veel word nie.” Ek kan dit byna nie meer uithou nie, ek is nooit sonder pyn nie. Ek bely my ongeregtigheid, my sonde kwel my. My vyande is vol lewenskrag en daar is so baie wat my sonder rede haat, wat my kwaad vir goed vergeld en teen my is omdat ek die goeie najaag. Moet my tog nie verlaat nie, Here, my God, moenie ver van my af bly nie!
PSALMS 38:1-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Psalm. Van Dawid. Ter herinnering. Bestraf my nie in u grimmigheid nie, HERE, kasty my nie in u woede nie, want u pyle het my binnegedring en u hand het op my afgekom. Daar is geen gesonde plek aan my liggaam nie, vanweë u vervloeking. Daar is geen vrede in my gebeente nie, vanweë my sonde. Ja, my sondeskuld oorweldig my, soos 'n swaar las is dit ondraaglik vir my. My wonde stink, dit sweer vanweë my dwaasheid. Ek is kromgetrek, heeltemal geboë, die hele dag loop ek in rouklere rond. Ja, my lende is ontsteek, daar is geen gesonde plek aan my liggaam nie. Ek is kragteloos, heeltemal verpletter, ek kreun vanweë die onstuimigheid van my hart. My Heer, al my versugtinge lê ontbloot voor U, en my gesug is nie vir U verborge nie. My hart klop wild, my krag het my verlaat, en die lig van my oë – selfs dit is nie meer daar nie. My geliefdes en vriende staan van my af weg omdat ek geteister word; wie na aan my is, staan ver van my af. Hulle wat my lewe soek, stel strikke. Hulle wat my leed wil aandoen, dreig my met vernietiging. Die hele dag is hulle fluisterend aan die konkel. Maar ek, ek is soos 'n dowe, ek hoor nie, ek is soos 'n stomme wat nie sy mond oopmaak nie. Ek het geword soos iemand wat nie hoor nie, in wie se mond daar geen verweer is nie, want op U, HERE, wag ek – U moet my antwoord, my Heer, my God. Ja, ek het gesê: “Anders is hulle verheug oor my, is hulle selfvoldaan teenoor my wanneer my voet swik.” Want ek is op die punt om te val, en van my pyn is ek altyd bewus. Ja, my sondeskuld bely ek, ek is bekommerd oor my sonde. Maar my vyande leef, hulle is magtig en hulle is baie, dié wat my sonder rede haat, wat goed met kwaad vergeld. Hulle kla my aan, al streef ek die goeie na. Moet my nie verlaat nie, HERE! My God, moet nie ver van my af bly nie!
PSALMS 38:1-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
O HERE, bestraf my nie in u toorn nie, en tugtig my nie in U grimmigheid nie. Want u pyle steek vas in my, en u hand druk my seer. Daar is geen gesondheid in my vlees vanweë U toorn nie; en daar is geen rus in my gebeente vanweë my sonde nie. Want my ongeregtighede het oor my hoof gegaan; soos 'n swaar las is hulle vir my te swaar. My wonde stink en is korrup vanweë my dwaasheid. Ek is ontsteld; Ek is baie neergebuig; Ek gaan rou die hele dag lank. Want my heupe is vol van 'n afskuwelike siekte, en daar is geen gesonde liggaam in my vlees nie. Ek is swak en baie gebroke; ek het gebrul vanweë die onrus van my hart. HERE, al my begeerte is voor U; en my gekerm is vir jou nie verborge nie. My hart smag, my krag begewe my; die lig van my oë, dit is ook van my weg. My minnaars en my vriende staan ver van my seer; en my broers het van ver af gestaan. En die wat my lewe soek, lê strikke vir my, en die wat my onheil soek, praat onheilspellende dinge en bedink bedrog die hele dag. Maar ek, soos 'n dowe, het nie gehoor nie; en ek was soos 'n stom man wat sy mond nie oopmaak nie. So was ek soos 'n man wat nie hoor nie en in wie se mond geen teregwysings is nie. Want op U, HERE, hoop ek; U sal hoor, HERE my God. Want ek het gesê: Luister na my, anders sou hulle oor my bly wees; as my voet gly, maak hulle hul teen my groot. Want ek is gereed om te stop, en my droefheid is altyddeur voor my. Want Ek sal my ongeregtigheid verkondig; Ek sal jammer wees oor my sonde. Maar my vyande is lewendig en sterk, en die wat my onregmatig haat, word vermenigvuldig. Ook hulle wat kwaad vir goed vergeld, is my teëstanders; want ek volg die ding wat goed is. Verlaat my nie, HERE, o my God, wees nie ver van my af nie. Maak gou om my te help, HERE, my verlossing.
PSALMS 38:1-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
HERE, moenie my in toorn straf en my in u woede kasty nie! U pyle het my getref, u hand lê swaar op my. As gevolg van u toorn is my hele liggaam beseer; as gevolg van my sonde is elke been gebreek. My oortredings het my oorweldig soos ’n las wat vir my te swaar is. My wonde sweer en stink weens my eie dwaasheid. Ek is krom en heeltemal geboë. Ek loop die hele dag en treur. My liggaam brand van koors; daar is geen deel wat gesond is nie. Ek is uitgeput en heeltemal platgeslaan. Ek kreun met ’n versugting uit ’n gebroke hart. U weet wat ek begeer, Here. U hoor elke versugting van my. My hart klop onstuimig, my krag begeef my. Daarby kan ek ook nie meer sien nie. My familie en vriende bly weg en is bang vir my siekte. Selfs my bure bly op ’n afstand. Hulle wat my lewe soek, stel vir my ’n lokval; hulle wat my ondergang soek, maak planne om my te vernietig. Hulle dink die hele dag aan verraderlike planne. Maar ek hou my doof vir hulle dreigemente. Voor hulle bly ek stil soos iemand wat stom is. Ek is soos iemand wat doof is en wat niks het om te sê nie. Maar ek hoop op U, HERE. U sal antwoord, Here my God. Ek vra U: “Moenie dat hulle bly word oor my leed, of hulle oor my verhef as ek struikel nie.” Ek is op die punt van ineenstorting, ek beleef voortdurende pyn. Maar ek bely my sondes; ek is baie jammer oor wat ek gedoen het. My vyande is baie en magtig; hulle haat my sonder rede, hulle wat so baie is. Hulle vergeld my kwaad vir goed en staan my teen omdat ek najaag wat reg is. Moet my tog nie verlaat nie, HERE my God, moenie ver van my af bly nie.