PSALMS 37:1-11
PSALMS 37:1-11 Bybel vir almal (ABA)
Van Dawid. Jy moenie kwaad word oor wat slegte mense doen nie, jy moenie ontsteld wees oor mense wat slegte dinge doen nie, want gras verlep gou, en groen plante word droog, en so sal dit gaan met daardie mense. Jy moet glo dat die Here sal doen wat Hy belowe het en jy moet goeie dinge doen. Dan sal jy in hierdie land woon en jy sal veilig wees. As jy gelukkig voel omdat jy aan die Here behoort, dan sal Hy vir jou alles gee wat jy wil hê. Jy moet glo dat die Here jou op jou pad sal lei en dat Hy sal doen wat Hy belowe het. As jy dit glo, dan sal Hy dit doen en Hy sal vir almal wys dat jy onskuldig is, Hy sal vir almal sê jy is iemand wat reg doen. Jy moet stilbly en geduldig wag totdat die Here iets doen. Jy moenie kwaad word wanneer dit goed gaan met iemand wat skelm planne maak nie. Jy moenie kwaad en ontsteld word nie, jy moet dit los. Jy moenie kwaad word nie, dit bring net probleme. Want mense wat slegte dinge doen, sal moet weggaan uit die land. Die mense wat glo dat die Here hulle sal red, húlle sal die land kry. Oor 'n kort tydjie sal die mense wat verkeerd doen, weg wees. Jy sal kyk na die plek waar hulle was, en hulle sal nie daar wees nie. Maar die mense wat hulleself nie kan help nie, sal die land kry en hulle sal gelukkig voel omdat alles goed sal gaan.
PSALMS 37:1-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N PSALM van Dawid. Alef. Wees nie toornig op die kwaaddoeners nie, beny hulle nie wat onreg doen nie; want soos gras sal hulle gou verwelk, en soos groen grasspruitjies sal hulle verdroog. Bet. Vertrou op die HERE, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid, en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart. Gimel. Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hý sal dit uitvoer; en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag. Dalet. Swyg voor die HERE en verwag Hom; wees nie toornig op hom wat voorspoedig in sy weg is nie, op die man wat listige planne uitvoer nie. He. Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid; wees nie toornig nie: dit is net om kwaad te stig. Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit. Wau. En nog 'n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie. Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.
PSALMS 37:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Van Dawid. Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie, want soos gras vergaan hulle gou en soos groenigheid verdwyn hulle sommer. Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg. Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die son, jou reg soos die helder lig van die middag. Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van 'n skelm nie. Moenie kwaad word nie, laat staan die woede, moet jou nie ontstel nie: dit bring net ellende. Die skelms sal uitgeroei word, maar dié wat hulle vertroue in die Here stel, sal in besit bly van die land. Nog 'n rukkie en daar sal geen goddelose meer wees nie; 'n mens sal hom soek waar hy was, maar hy sal nie daar wees nie. Dié wat nou verdruk word, sal die land besit en hulle verlustig in hulle welvaart.
PSALMS 37:1-11 Die Boodskap (DB)
Moenie jou energie mors om heeltyd oor slegte mense te praat nie. Moenie loop en kla dat hulle loskom met hulle skelmstreke nie. Moenie op hulle jaloers wees nie. Hulle verdwyn sommer op ’n dag. Vandag is hulle daar; môre is hulle weg. Glo liewer in die Here. Doen goeie dinge vir ander mense. Doen wat jy moet doen, en bly getrou aan die Here. Wees elke oomblik bly dat jy die Here ken. Hy sal sorg dat jy kry wat jy wil hê. Stel jou lewe elke dag in die Here se hand. Vertrou op Hom. Hy sal vir jou sorg. Hy sal jou op die regte pad hou. Die Here sal vir almal wys dat jy reg leef. Buig laag voor die Here. Wag op Hom sonder om veel te sê. Hou op om jou so om te krap oor hoe goed dit met skelms gaan. Moenie kwaad word oor alles wat hulle doen nie. Op die ou end bring dit net vir jou moeilikheid. Slegte mense sal die een of ander tyd verdwyn. Net mense wat in die Here glo, sal dan oorbly. Die land sal aan hulle behoort. Net ’n klein rukkie nog, dan sal daar nie meer mense wees wat niks van God wil weet nie. Jy sal na hulle soek, maar hulle sal weg wees. Maar mense wat nie te veel van hulleself dink nie, sal die hele aarde erf. Hulle sal bly wees oor hoe goed dit met hulle gaan.
PSALMS 37:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moenie jou vererg oor boosdoeners nie. Moenie die kwaaddoeners beny nie. Want soos gras verlep hulle gou. Soos plante verdroog hulle vinnig. Vertrou op die HERE en doen wat goed is. Woon in die land en geniet veiligheid. Wees bly in die HERE, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee. Vertrou jou lewe toe aan die HERE. Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg. Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die lig, en die regverdigheid van jou saak soos die middagson. Wees stil in die HERE, en wag geduldig op Hom. Moenie die mens beny wat op sý manier floreer, of jou verknies oor sy bose planne nie. Moenie kwaad word nie; laat staan liewer jou woede. Moenie ander beny nie; dit lei net tot jou nadeel. Want die bose mense sal vernietig word, maar dié wat op die HERE vertrou, sal die land besit. Binnekort sal die boosdoeners nie meer daar wees nie; al soek jy na hulle, sal jy hulle nie kry nie. Maar sagmoediges sal die land besit, hulle sal oorvloedige vrede geniet.