PSALMS 32:1-5
PSALMS 32:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Van Dawid. 'n Lied. Dit gaan goed met 'n mens wanneer die Here hom vergewe dat hy opstandig was, wanneer die Here hom nie straf oor sy sonde nie. Dit gaan goed met 'n mens wanneer die Here nie sê dat hy skuldig is nie. Dit gaan goed met 'n mens wat nie ander mense bedrieg nie. Ja, toe ek stilgebly het oor my sondes, het ek die hele dag gekla en gesug en ek het maer geword, want U het my elke dag en nag gestraf. Dit het gevoel of daar 'n vuur in my brand. Sela Toe het ek my sonde vir U bely, ek het nie probeer wegsteek dat ek verkeerd gedoen het nie, ek het gesê ek sal vir die Here bely dat ek opstandig was. En U het my sonde vergewe. Sela
PSALMS 32:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N PSALM van Dawid; 'n onderwysing. Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is. Welgeluksalig is die mens aan wie die HERE die ongeregtigheid nie toereken nie en in wie se gees geen bedrog is nie. Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag; want u hand was dag en nag swaar op my; my murg het verander soos deur somergloed. Sela. My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en Ú het die ongeregtigheid van my sonde vergewe. Sela.
PSALMS 32:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Gedig van Dawid. Dit gaan goed met die mens wie se oortredings nie gestraf word nie, wie se sonde vergewe word. Dit gaan goed met die mens vir wie die Here die oortreding nie toereken nie en in wie se gees daar geen valsheid is nie. Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het. U hand het dag en nag swaar op my gedruk, my krag het opgedroog soos water in somerhitte. Sela Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie. Ek het gesê: “Voor die Here bely ek my opstandigheid;” en U het my skuld vergewe. Sela
PSALMS 32:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Van Dawid. 'n Maskiel . Gelukkig is die een wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is. Gelukkig is die mens vir wie die HERE sondeskuld nie toereken nie, en in wie se gees geen bedrog is nie. Toe ek stilgebly het, het my gebeente broos geword onder my gekreun die hele dag. Ja, dag en nag was u hand swaar op my; my lewenskrag het weggekwyn soos in die hitte van die somer. •Sela My sonde het ek teenoor U erken; my sondeskuld het ek nie bedek nie. Ek het gedink, ek wil my oortredings teenoor die HERE bely, en U het my sondeskuld vergewe. Sela
PSALMS 32:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Geseënd is hy wie se oortreding vergewe is, wie se sonde bedek is. Geseënd is die man aan wie die HERE die ongeregtigheid nie toereken nie en in wie se gees geen bedrog is nie. Toe ek stilgebly het, het my gebeente oud geword deur my gebrul die hele dag lank. Want dag en nag was U hand swaar op my: my vog het verander in die droogte van die somer. Sela. Ek het my sonde aan U erken, en my ongeregtigheid het ek nie verberg nie. Ek het gesê: Ek wil my oortredinge aan die HERE bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe. Sela.
PSALMS 32:1-5 Die Boodskap (DB)
Jy is baie gelukkig as die Here jou al jou verkeerde dade vergewe. Jy is gelukkig as Hy nie meer aan jou slegte dade dink nie. Jy is baie gelukkig as die Here jou nie laat betaal vir jou skuld nie. Jy is ook gelukkig as jy nie skelm is of ander mense probeer te kort doen met geld nie. Toe ek stilgebly het oor my verkeerde dade en dit nie voor die Here bely het nie, het dit baie sleg met my gegaan. Ek het maer geword soos ek die hele dag hard gebid het. Dag en nag het U my aan my sonde herinner. My krag het opgedroog soos waterpoele in die gloeiende hitte van die somerson. Toe het ek my verkeerde dade voor U bely. Ek het nie stilgebly oor die verkeerde dinge wat ek gedoen het nie. Ek het besluit om my slegte dade vir die Here te vertel. U, Here, het dit alles vergewe.
PSALMS 32:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Geseënd is die mens wie se opstand vergewe is, wie se oortredings afgeskryf is. Geseënd is die mens wie se sonde die HERE nie toereken nie, in wie se lewe daar geen bedrog is nie! Toe ek oor my sonde stilgebly het, het my liggaam gekwyn van ellende, het ek die hele dag lank gekreun. Dag en nag was u hand swaar op my. My krag het verdwyn soos water in somerhitte. Sela Maar ek het my oortredings bely, my sonde nie weggesteek nie. Ek het gesê: “Ek bely my opstand teen die HERE.” En my sonde en oortredings het U vergewe. Sela