PSALMS 16:5-11 - Compare All Versions

PSALMS 16:5-11 ABA (Bybel vir almal)

Here, ek het net vir U, dit is net U wat my kan laat lewe, dit is Ú wat besluit wat met my sal gebeur. U laat my woon op 'n plek wat baie mooi is, ek is lief vir die plek wat U vir my gegee het. Ek prys die Here, Hy sê vir my wat ek moet doen, ook in die nag dink ek aan wat U vir my leer. Ek weet die Here is altyd naby my. Ek val nie, want Hy is by my. Daarom, ek is bly, ek juig, ek is altyd veilig, want U sal my nie los nie, ek sal nie sterf nie. Ek glo in U, en U sal my nie in die graf laat kom nie. U leer vir my hoe om te lewe, U leer vir my dat 'n mens wat naby U is, 'n dankbare mens is, U leer vir my dat dit altyd lekker is by U.

PSALMS 16:5-11 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Die HERE is die deel van my erfenis en van my beker; Ú onderhou my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi. Ek sal die HERE loof wat my raad gegee het; selfs in die nag vermaan my niere my. Ek stel die HERE altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie. Daarom is my hart bly en my eer juig; ook sal my vlees in veiligheid woon; want U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie. U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig.

PSALMS 16:5-11 AFR83 (Afrikaans 1983)

Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. 'n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi. Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het; selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer. Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie. Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig. U gee my nie oor aan die dood nie. U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie. U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.

PSALMS 16:5-11 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

HERE, my erfdeel, my beker, U bepaal my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi. Ek sal die HERE prys wat my raad gegee het, selfs in die nag wys my hart my tereg. Ek hou die HERE altyd voor oë; omdat Hy aan my regterkant is, sal ek nie struikel nie. Daarom is my hart bly en juig my binneste; ja, my liggaam bly veilig, want U sal my lewe nie aan die •doderyk oorlewer nie; U sal nie toelaat dat u getroue volgeling die graf sien nie. U wys my die pad van die lewe: oorvloedige vreugde in u teenwoordigheid, lieflikhede in u regterhand, vir altyd.

PSALMS 16:5-11 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Die HERE is die deel van my erfdeel en van my beker: U bewaar my lot. Die meetsnoere het vir my geval in lieflike plekke; ja, ek het 'n goeie erfenis. Ek sal die HERE loof wat my raad gegee het; my niere leer my ook in die nagte. Ek het die HERE altyddeur voor my gestel; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie. Daarom is my hart bly, en my heerlikheid jubel; ook sal my vlees rus in hoop. Want jy sal my siel nie in die hel laat nie; en jy sal nie toelaat dat u Heilige verderwing sien nie. U sal my die pad van die lewe wys; voor U aangesig is vol vreugde; aan U regterhand is genot vir ewig.

PSALMS 16:5-11 DB (Die Boodskap)

Alles wat die Here vir my doen, maak my vol vreugde. Hy is die grootste geskenk wat ek nog ooit gekry het. U sorg vir my, Here. U het die mooiste dinge in die lewe vir my gegee. Ek kan nie uitgepraat raak oor al die wonderlike dinge nie. Dit maak my baie gelukkig. Ek bly in ’n mooi land. Ek sal die Here prys. Ek wil sy Naam grootmaak omdat Hy my hand vat en my op die regte pad lei. Selfs as ek slaap, weet ek Hy is by my. Daar is nie ’n oomblik van die dag dat ek nie aan die Here dink nie. Hy is die belangrikste in my lewe. Hy is altyd by my. By Hom is ek veilig; Hy hou my op die regte pad. Ek is baie bly; my blydskap hou nooit op nie. U sal nie toelaat dat die dood my onkant betrap nie. Die dood kan niemand wat U liefhet uit u hand wegruk nie. Ek sal nie in die graf beland nie. U sal my leer om reg te lewe. Daar is niks wat iemand groter blydskap kan gee as om saam met U te wees nie. U gee altyd vir u kinders die heel beste. Hulle kry die heel mooiste wat die lewe aanbied by U.

PSALMS 16:5-11 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

HERE, U alleen is my erfenis, my beker van seën. U waarborg my lotsbestemming. ’n Pragtige plek is vir my afgemeet. Wat ek geërf het, is vir my mooi! Ek prys die HERE wat my insig gee; ook in die nag is ek daarvan bewus. Die HERE is altyd by my. Ja, Hy is aan my regterhand; daarom sal ek nie struikel nie. Hieroor is my hart vol vreugde. Ek besing sy lof, en woon in veiligheid. Want aan die doderyk sal U my nie prysgee, of toelaat dat u getroues in die graf ontbind nie. U wys vir my die lewenspad; in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd.