PSALMS 139:1-17

PSALMS 139:1-17 Bybel vir almal (ABA)

Vir die leier van die koor: Van Dawid. 'n Psalm. Here, U het tot diep in my gekyk, U ken my baie goed. U weet alles wat ek doen, net U weet dit, U is ver, maar U weet wat ek dink. U weet hoe ver ek loop en hoe lank ek slaap. U weet wat ek doen, oral waar ek gaan. Ja, Here, ek het nog nie begin om iets te sê nie, dan weet U klaar alles wat ek wil sê. U is agter my en U is voor my, U hand beskerm my. Ek verstaan nie hoe U alles weet nie, dit is vir my baie moeilik, ek kan dit nie verstaan nie. Waarnatoe kan ek gaan waar U nie is nie? Waarnatoe kan ek wegvlug van U? As ek opklim na die hemel, dan sal U daar wees. As ek in die doderyk my slaapmat oopgooi en gaan lê, dan sal U dáár ook wees. As ek ver na die ooste vlieg of as ek ver in die weste gaan woon, dan sal U ook dáár vir my lei en my vashou. As ek sê die donker moet my toemaak, die lig rondom my moet donker word, dan is dit nie donker vir U nie. Vir U is die nag so lig soos die dag en donker is vir U soos lig. Ja, dit is U wat my gemaak het, 'n mens wat kan voel en dink. U het my hele liggaam gemaak voordat ek gebore is. Ek wil vir U dankie sê, want ek word bang wanneer ek sien hoe wonderlik U my gemaak het. Alles wat U doen, is wonderlik, ek weet dit baie goed. U het geweet van elke been in my liggaam toe U my gemaak het waar niemand dit gesien het nie, toe U my gemaak het in die liggaam van my ma. U het my gesien voordat ek gebore is. Ek was nog nie een dag oud nie, toe het U klaar in u boek geskryf hoe lank ek sal lewe. O God, die dinge waaraan U dink, is vir my baie moeilik, ek kan dit nie verstaan nie, en U dink aan so baie dinge.

PSALMS 139:1-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Vir die •musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. HERE, U ondersoek my en U ken my. U is die een wat my sit en opstaan ken; U verstaan van ver af wat ek in gedagte het. My omswerwinge en waar ek rus – U het dit afgemeet; al my paaie is aan U bekend. Ja, daar is nog nie 'n woord op my tong nie, kyk, dan ken U, HERE, dit volledig! Van agter en van voor omsluit U my; U plaas u handpalms op my. Om dit te verstaan, is 'n te groot wonder vir my; dit is te hoog, ek kan dit nie begryp nie. Waarheen kan ek gaan, weg van u Gees; waarheen kan ek vlug, weg van u teenwoordigheid? Klim ek op na die hemel – U is daar; gaan lê ek in die •doderyk – ook daar is U! Neem ek die vlerke van die daeraad, gaan woon ek by die einde van die see; ook daar sal u hand my lei, u regterhand my vashou. En al sê ek, “As duisternis my maar net wil verberg en die lig om my nag word”, is selfs duisternis nie vir U donker nie, maar skyn nag so lig soos die dag, is die duisternis soos die lig. Dit is immers U wat my niere geskep het, my in die moederskoot geweef het. Ek prys U omdat ek op 'n ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak is. Wonderbaarlik is u werke en ek besef dit maar te goed. My skelet was nie vir U verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, toe ek kunstig geweef is in die dieptes van die aarde. U oë het my vormloosheid gesien. En in u •boekrol is hulle almal opgeteken – dae wat beplan is, toe nie een daar was nie. En vir my, hoe kosbaar is u gedagtes, o God – hoe oorweldigend is die volle getal daarvan!

PSALMS 139:1-17 Die Boodskap (DB)

Here, U kyk of ek eerlik is en vertrou kan word. U weet wat gaan hier binne-in my aan. Ek kan niks wat ek doen, vir U wegsteek nie. Nog voordat ek iets doen, weet U wat dit gaan wees. Of ek by die huis bly en of ek rondloop, daar is niks wat ek vir U kan wegsteek nie. U weet alles wat ek doen. Al het ek nog nie eens begin praat nie, U weet wat ek gaan sê. U ken my deur en deur. U beskerm my hele lewe. Ek kan dit glad nie verstaan nie, al probeer ek. Dit is te oorweldigend. U is oral. Daar is nie ’n plek waar ek heen kan gaan waar U nie is nie. As ek hemel toe gaan, is U daar. As ek doodgaan, is U by my. Al kan ek so vinnig soos lig beweeg of al gaan ek na die verste plek toe, U is daar. Die afstand tussen oos en wes is nie vir U te ver om gou na my toe te kom nie. Oral hou U my vas. En U lei my op u pad. Al vou die donkerte my heeltemal toe, is U naby my. Lig en donkerte is vir U dieselfde. Niemand kan vir U iets in die donker wegsteek nie. Here, U het my tot in die fynste detail gemaak. In die baarmoeder het U my gevorm. Ek wil U prys omdat U my so volmaak geskep het. U doen wonderlike werk. Ek weet dat U groot dinge kan doen. Daar is nie ’n been in my wat uit sy plek is nie. U ken my totaal. Alles is soos U dit wil hê. U het my gemaak. Toe ek grootgeword het, het U vir my gesorg. U beheer ook my hele lewe. Nog voordat ek mens geword het, het U my al beplan. U het my lewe toe al in u hand gehou. En U het besluit wat met my sou gebeur. God, dit troos my om te weet dat U alles in u hand hou. Die gedagte daaraan is net te groot om te verstaan.