PSALMS 119:18-27
PSALMS 119:18-27 Bybel vir almal (ABA)
U moet my oë oopmaak, sodat ek kan sien hoe wonderlik die dinge is wat U vir ons leer. Ek sal nie lank hier op die aarde wees nie, U moet vir my leer wat u gebooie sê. My hart is seer, want ek verlang altyd om te hoor wat U besluit het. U praat kwaai met die hoogmoedige mense, U het hulle vervloek. Hulle is die mense wat nie wil doen wat u gebooie sê nie. U moet keer dat mense my nie spot en verneder nie, want ek doen wat U sê. Ook wanneer belangrike mense saam planne maak teen my, dan sal ek, u dienaar, altyd aan u wette dink. Wat U sê, maak my bly, dit sê vir my wat ek moet doen. Wanneer dit sleg gaan met my, dan moet U my laat aanhou lewe, soos U gesê het. Toe ek vir U vertel het van my lewe, toe het U my geantwoord. U moet vir my leer wat u wette sê. U moet my help om te verstaan wat U beveel, sodat ek oor u wonderwerke kan dink.
PSALMS 119:18-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet. Ek is 'n vreemdeling op die aarde; verberg u gebooie nie vir my nie. My siel vergaan van verlange na u verordeninge altyddeur. U dreig die vermeteles as gevloektes wat van u gebooie afdwaal. Wentel smaad en veragting van my af, want u getuienisse het ek bewaar. Al sit vorste en beraadslaag teen my — u kneg oordink u insettinge. Ja, u getuienisse is my verlustiging, my raadsmanne. My siel kleef aan die stof; maak my lewend na u woord. My weë het ek vertel, en U het my verhoor; leer my u insettinge! Laat my die weg van u bevele verstaan, dat ek u wonders kan oordink.
PSALMS 119:18-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maak my oë oop dat ek die kragtige werking van u wet ervaar. Hier op aarde is ek net op u beskerming aangewese: laat my tog nie sonder u gebooie wees nie. Ek kwyn weg van verlange na u bepalings. U straf die hovaardiges, die vervloektes wat van u gebooie afwyk. Keer tog dat ek nie beledig of gesmaad word nie, want ek kom u verordeninge na. Selfs al smee mense wat mag het, komplotte teen my, ek sal my hou aan wat U neergelê het. U verordeninge is my vreugde, hulle is my raadgewers. Ek verkeer in doodsgevaar, gee my nuwe lewe soos U in u woord beloof het. Ek het my lewensloop aan U bekend gemaak en U het my gebed verhoor; leer my u voorskrifte. Leer my hoe om u bevele uit te voer. Ek wil van u magtige dade vertel.
PSALMS 119:18-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maak oop my oë, sodat ek die wonders uit u wet kan raaksien. Ek is 'n •vreemdeling op aarde; moet u bevele nie vir my verborge hou nie. My lewe kwyn die hele tyd weg van verlange na u beslissings. U bestraf vermeteles, die vervloektes, hulle wat van u bevele afdwaal. Verwyder bespotting en minagting van my, want by u bepalings hou ek. Selfs al sit leiers met mekaar en praat oor my – u dienskneg sal oor u voorskrifte bly nadink. Nog steeds is u bepalings my grootste vreugde; hulle is my raadgewers. My lewe kleef aan die stof; maak my weer lewend volgens u woord. Van my lewenspaaie het ek vertel, en U het my geantwoord; leer my u voorskrifte. Die pad van u opdragte – laat my dit verstaan, sodat ek oor u wonders kan nadink.
PSALMS 119:18-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Open my oë, dat ek wonders uit U wet kan aanskou. Ek is 'n vreemdeling op die aarde; verberg U gebooie nie vir my nie. My siel breek vanweë die verlange wat dit altyd na U oordele het. U het die hoogmoediges bestraf wat vervloek is, wat van U gebooie afdwaal. Verwyder smaad en veragting van my af; want ek het U getuienisse bewaar. Ook het vorste gesit en teen my gespreek, maar U dienaar het U insettinge oordink. U getuienisse is ook my verlustiging en my raadgewers. DALETH. My siel kleef aan die stof; maak my lewend volgens U woord. Ek het my weë bekend gemaak, en U het na my geluister; leer my u insettinge. Laat my die weg van U bevele verstaan; so sal ek van U wonders praat.
PSALMS 119:18-27 Die Boodskap (DB)
Maak my oë oop sodat ek kan sien hoe wonderlik alles is wat U sê. Ek is glad nie belangrik nie; mense loop maklik bo-oor my. Dus kan ek dit nie bekostig om ’n enkele oomblik sonder U te leef nie. My enigste wens is om te doen wat U vra. U hou niks van mense wat nie doen wat U sê nie, U gooi hulle eenkant toe; vir altyd! Moenie dat slegte mense my onderstebo loop nie. Onthou tog dat ek u Woord in my hart gebêre het. Mense wil my tot ’n val bring, maar onthou asseblief hoe lief ek u Woord het. U Woord maak my lewe vol blydskap; dit wys my hoe om elke dag te leef. My lewe is nie veel werd nie. Gee asseblief vir my nuwe lewe; daardie soort lewe wat U in die Bybel beloof. Ek het vir U kom vertel hoe swaar dit met my gaan. U het geluister en my gehelp; leer my nou om te doen wat U sê. Leer my om die volle rykdom van u voorskrifte goed te verstaan. Ek wil heeltyd daaroor dink.
PSALMS 119:18-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maak oop my oë sodat ek die wonders kan sien wat opgeskryf is in u gebooie. Al is ek net ’n vreemdeling op aarde, moenie u gebooie van my weghou nie. Ek word voortdurend verteer deur ’n begeerte na u bepalings. U bestraf trotsaards en vervloektes wat afdwaal van u gebooie. Weer smaad en belediging van my, want ek gehoorsaam u waarskuwings. Al sit en praat heersers saam teen my, sal ek u voorskrifte oordink. U waarskuwings is beslis my vreugde; dit gee my goeie raad. Ek lê in die stof, op pad na die graf; laat my herlewe volgens u woord. My optrede het ek bekendgemaak, en U het geantwoord. Leer my nou u voorskrifte. Leer my verstaan die betekenis van u bevele, sodat ek u wonders kan oordink.